Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Elkeen kan ’n verskil maak’
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 03/07/2020

​As 'n jong seun wat in die Oos-Kaap grootgeword het, wou Sven Weidner gedurig 'n helpende hand uitreik na diegene in nood. Hy glo geen poging is te klein om 'n verskil te maak nie. “Dit hoef nie noodwendig 'n finansiële skenking te wees nie; 'n mens kan ook van jou tyd gee."

Hierdie Matie-alumnus, wat deesdae in Londen woon, is gereed om geld vir die Universiteit Stellenbosch se VK‑EU-beursfonds in te samel. Sven wil 'n 100 km-staptog onderneem om fondse in te samel en hoop om in die proses nie net van ongewenste kilogramme ontslae te raak nie, maar ook Matie‑studente in nood te help.

Vertel ons asseblief van jouself.

Ek is gebore en getoë in die Oos‑Kaap, eerste generasie, en is passievol oor Suid‑Afrika. My ouers het in die 1960's uit Duitsland geïmmigreer. Ons het tuis Duits gepraat, en ek is na 'n Afrikaanse skool en 'n Engelse universiteit (toe bekend as UPE) gestuur. Ek het my BCom-graad in 1995 behaal. Terwyl ek studeer het en klasgeld moes betaal, kon ek my liefde vir die see met my vaardighede in lewensredding kombineer, eers as 'n sport en toe as 'n loopbaan, en so vir my BCom betaal.

In 1995 het ek by die Korporatiewe Finansies-span van First National Bank aangesluit. Terwyl ek gewerk het, het ek 'n nagraadse Diploma in Internasionale Bankwese voltooi. Ek het besef dat enige loopbaanvordering sou beteken dat ek in 'n groter stad moes gaan werk, en omdat ek nie in Johannesburg wou gaan werk nie, is ek in 1998 vort Londen toe met 'n rugsak en £1 000 in my sak.

Van 1999 tot 2000 het ek aan internasionale projekte by verskillende beleggingsbanke gewerk, en 'n jaar in Frankfurt, Duitsland, op 'n projek verwyl. Dit het my egter nie intellektueel gestimuleer nie en ek het verveeld geraak. Met die voorneme om soveel branderplank te ry as wat ek op UPE gedoen het, het ek in Januarie 2001 na Kaapstad vertrek en vir 'n voltydse MBA aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) ingeskryf, en in Blouberg gaan woon. Ek het my MBA-graad aan die einde van 2004 verwerf nadat ek my proefskrif voltooi het.

Ná my jaar by die USB het ek na Europa teruggekeer en in verskeie risikobestuursposisies gewerk, een in Düsseldorf, Duitsland, waar ek vyf jaar gewoon het. In Düsseldorf het ek my vrou, wat ook 'n Duitssprekende Suid-Afrikaner is, ontmoet en ons het soortgelyke ervarings van ons hibridekulture gedeel. Vanweë 'n loopbaangeleentheid het ons in 2009 na die Verenigde Koninkryk verhuis, waar ons in sonnige Surrey saam met ons 12-jarige seun, negejarige dogter en dertien troeteldiere woon. (9 khoi-visse, een voël, twee hamsters en een kat)

Ek werk tans as 'n senior risikokonsultant vir 'n groot versekeringsfirma wat 'n modelrisikobestuursraamwerk (MRM) implementeer. Ek probeer ook hard – maar is nie altyd so suksesvol nie – om my doktorsgraad (DBA) in MRM deur die Bradford Business School te voltooi. Ek hoop egter om in Junie 2021 te gradueer, maar daarna gaan ek waarskynlik 'n studiebreek vat. My ander droom is om Italiaans te leer praat tydens hierdie isolasie tydperk.

Wat is die 100 kilometer-uitdaging, en waarom doen jy dit?

Die uitdaging dien 'n tweeledige doel: ek het die afgelope vyf jaar 'n nare 20 kg opgetel, en verlede jaar het ek by die Stellies Alumni-byeenkomste aangesluit. My goeie vriend, Darryn Havenga, het my vertel van die dilemma op Stellenbosch waar studente soms 'n dag of selfs dae lank sonder kos is. Ek was baie geskok daardeur en wou dadelik iets doen en meer by die VK‑geregistreerde Universiteit Stellenbosch-liefdadigheid betrokke raak om die probleem te verlig.

​Wat het jy gedoen om vir hierdie uitdaging voor te berei?

Afsondering was 'n bedekte seën. Met meer tyd op hande, het ek gou 'n reeksstapper geword. Op weeksdae stap ek elke dag vir een tot twee uur en oor naweke vir drie tot vier uur. Ek het onlangs verdwaal en uiteindelik vyf uur lank gestap omdat my selfoon se battery pap was en my niksvermoedende gesin aanvaar het ek neem 'n langer roete. Ek stap nou met twee kaarte wanneer ek op my staptogte gaan.

Kan jy onthou waar jou filantropie begin het en wat jou dit laat doen het?

Terwyl ek in die 1980's in die Oos-Kaap grootgeword het, het ek baie moeilike tye vanuit 'n politieke en ekonomiese perspektief beleef. Hardwerkende mense is ontslaan vanweë fabrieke soos Ford wat hul aanlegte in Port Elizabeth gesluit het.

Selfs as kind het ek die lyding en swaarkry opgelet wat mense, en veral kinders, moes verduur, omdat die hele gesin nie voedsel gehad het om te eet nie. My uitdeel aan ander het begin toe ek baie jonk was; my ma het vir my 'n storie vertel en toe ek 12 was, het ek vir haar gesê ek gaan iets aan die armoede in die Oos-Kaap doen. Hierdie kwessie het my baie hartseer gemaak. My ma het mettertyd twee dinge in ons huis opgelet – ons blikkieskos is altyd op, maak nie saak hoeveel sy koop nie, en sodra die deurklokkie lui, hardloop ek deur toe om te gaan oopmaak.

Ek het die blikkieskos uitgedeel aan mense wat geweet het ek doen dit, en ek het gedink dit maak nie saak hoe klein my poging is nie, dit maak 'n verskil. Dit het wel by my opgekom dat die oorvloed blikkieskos wonderbaarlik nooit opraak nie, maar dit was eers toe ek 25 was, dat my ma erken het sy het in die geheim vyf keer soveel blikkieskos gekoop as wat ons vir eie gebruik nodig gehad het, net om my liefdadigheidsinisiatief te onderhou.

Dink jy mense moet ryk wees om filantropies te wees?

Nee, beslis nie. Ek dink steeds, soos ek toe ek as kind die blikkieskos uitgedeel het, dat almal 'n verskil kan maak. Geen poging is te klein om 'n verandering te beteken nie. Dit hoef nie noodwendig 'n finansiële skenking te wees nie; 'n mens kan ook van jou tyd gee, soos om 'n jong Stellies-student te mentor. Ek doen ook al my Amazon-aankope via Smile Amazon, en die Universiteit Stellenbosch‑liefdadigheid ontvang 'n persentasie van al my aankope op Amazon.

Hoe of waar kan ander Maties jou help om jou fondsverwingsdoel te bereik?

Ek het 'n “GoFund me"-webblad opstel vir skenkings. Klik gerus hier om meer te lees. ​