Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toekenning sal 'betekenisvolle bydrae' maak tot versorging van mense met beroerte
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 18/06/2020

'n R2.2 miljoen navorsingstoekenning van die Britse Nasionale Instituut vir Gesondheidsnavorsing (NIHR) sal professor Quinette Louw een stap nader bring aan algehele gesondheidsdekking vir mense met beroertes.

Die toekenning, wat oor 10 maande sal strek, het ten doel om gesondheidstelsels in Suid-Afrika te versterk om sodoende algehele gesondheidsdekking vir mense met beroertes te bewerkstellig deur middel van navorsing, vennootskappe, kapasiteitsbou en skakeling tussen belanghebbendes.

"Ons sal die geleenthede en uitdagings in openbare gesondheid ondersoek om die gepaste beroertesorg aan almal te gee wat dit nodig het," het Louw gesê. Sy is die hoof van die Departement Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenksappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch.

Louw het gesê dat die werk waarop hulle sal fokus nou verband hou met die Nasionale Gesondheidsverskering (NGV). “Dit is daarop gemik om ons te help om die nodige elemente te identifiseer wat ingesluit moet word in die noodsaaklike gesondheidspakkette vir mense met beroertes."

Louw het gesê dat die toekenning deel uitmaak van ʼn vennootskap tussen Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk, en sal onderskeidelik deur die Universiteit Stellenbosch en die Londen Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde (LSHTM) verteenwoordig word. Louw sal saam met professor Tracey Smythe van die LSHTM mede-hoofnavorser wees.

Professor René English van die FGGW se Departement Globale Gesondheid en professor Portia Jordan, hoof van die Departement Verpleeg- en Verloskunde, is ook ingesluit by hierdie toekenning.

"Ons het ook ander medewerkers, insluitend ʼn gesondheidsekonoom en ʼn gesondheidstelselkenner by die LSHTM," het Louw gesê.

Sy het gesê dat die befondsingsmeganisme so gestruktureer is dat die eerste deel daarop gemik is om vennootskappe te vorm wat saam daaraan sal werk om aansoek te doen ʼn groter toekenning by die NIHR. Daar is egter navorsing verbind aan die eerste deel van die befondsingsmeganisme.

Louw het gesê dat die werk saam met die LSHTM ʼn "splinternuwe samewerking" vir rehabilitasie is vir haar departement.

"Dit is ʼn baie positiewe ervaring vir ons aangesien die LSHTM een van die grootste skole is wat werk doen in lae- tot middelinkomsste lande.

"Dit was tot dusver ʼn plesier om saam met die span van die LSHTM te werk. Hulle het goeie werkswyses in plek om saam met instansies in lae- tot middelinkomste-omgewings te werk."

Louw het gesê dat van hulle planne in die wiele gery is deur die COVID-19 beperkings. "Ons was van plan om die twee spanne byeen te bring vir vyf dae, maar dit was nie moontlik nie. Ons het egter al ʼn paar aanlynseminare met kollegas van die LSHTM gehad wat gemik was op kapasiteitsbou aan beide kante en ons hele navorsingspan het daarby gebaat.

"In Junie sal ons ons werk aan die LSHTM-span aanbied sodat hulle ʼn beter begrip kan kry van die Suid-Afrikaanse konteks."

Ten spyte van die uitdagings het Louw gesê dat sy en haar span baie opgewonde is oor die uitkomsste van die toekenning. "Die toekenning bied geleenthede vir kapasiteitsontwikkeling. En ons hoop ook dat dit ʼn betekenisvolle bydra sal maak tot die versorging van mense met beroertes in Suid-Afrika."


Foto-erkenning: Stefan Els