Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is grendeltyd outokratiese inkruiping of ‘gelykmakende reaksie’?
Outeur: Steven Robins
Gepubliseer: 07/05/2020

Is die grendeltyd ʼn outokratiese inkruiping of ʼn​ 'gelykmakende reaksie' op die COVID-19 pandemie? Dít is die vraag wat prof Steven Robins van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie probeer beantwoord het in ʼn meningsartikel wat Maandag (4 Mei) in Daily Maverick verskyn het.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder. 

Steven Robins*

COVID-19 het weer eens bewys dat die Suid-Afrikaanse samelewing diep verdeeld is: Die middelklas wat wil hê die ekonomie moet weer oopgestel word en die outokratiese beperkinge op hul persoonlike vryhede moet tot 'n einde kom; en die armes wat werksgeleenthede, toelaes en bykomende welsyn-staatsingryping wil hê om hul haglike lewens te ondersteun.

Greg Mills en Ray Hartley se verslag van die algehele inperking op die Suid-Afrikaanse manier in Daily Maverick, “An Iron Curtain is falling on our freedom", gee te kenne dat COVID-19-maatreëls die begin van 'n beweging in die rigting totalitarisme kan wees – soortgelyk aan wat in die voormalige Oos-Duitsland (die Duitse Demokratiese Republiek of D​DR) gesien is.

Die skrywers, albei verbonde aan die ekonomiese dinksentrum, die Brenthurst-stigting, skets 'n scenario waarin president Cyril Ramaphosa se aanvanklike verstandige en sinvolle benadering tot die pandemie vinnig besig is om in outoritarisme te ontaard.

Mills en Hartley is korrek om die aandag te vestig op die feit dat “daar in die eerste drie weke van die algehele inperking meer as 100 klagtes teen die polisie ingedien is vir mishandelings". Hulle is ook reg om die SANW se onhoudbare skendings van menseregte in die toepassing van die inperkingsmaatreëls uit te lig.

Dit wil egter lyk of die hoofteiken van hul aanval 'n reeks maatreëls is wat die beperking van sosiale en ekonomiese aktiwiteit – soos die aankoop van tabak en alkohol, asook die 20:00 tot 05:00 aandklokreël – insluit wat volgens hulle ingestel is “sonder 'n wetenskaplike regverdiging behalwe om te beheer".

Hulle beweer ook hierdie “impuls vir sosiale beheer is verder ontbloot deur die reël dat oefening – stap, draf en fietsry – slegs vir drie ure per dag van 06:00 tot 09:00 toegelaat sal word". Hulle redeneer dat hierdie maatreëls die ANC-regering se totalitêre neigings ontbloot, wat blykbaar deur die DDR se staatsbeheerde ekonomie en sy gerugte Ministerie van Staatsveiligheid, bekend as Stasi, geïnspireer word. So, hoe het ons van die aanvanklike wye ondersteuning en lof vir die Ramaphosa-administrasie se hantering van die COVID-19-krisis tot vergelykings met Stasi beweeg?

'n Vinnige kykie na die reaksies op Mills en Hartley se artikel toon dat hierdie tipe persepsies wydverspreid onder die uitgesproke liberale intellektueles in die middelklas-voorstede voorkom.

Voorbeelde sluit JG se opmerking in:

“Ahh, die Orwelliaanse Nasionale Beheersentrum. Dit gaan nie oor tabak, alkohol, warm kos, oefening, hondewandelings nie, dit gaan oor die aanval op mense se vryhede. Dit gaan oor die regering se ingesteldheid dat hulle weet wat die beste is vir die mense. Geen wonder nie, gegewe dat die verouderende kabinet grotendeels uit mense bestaan wat aan die hand van die Sowjet-bog van die sewentiger- en tagtigerjare grootgemaak is.

Volgens FvK:

“Absurde, teenstrydige en onnodige regulasies in oorvloed … 70 000 troepe in die veld, gewapen met outomatiese oorlogwapens. 'n Aandklokreël van 20:00 tot 05:00 wat nie geregverdig kan word nie. Die oppergesag van die reg word daagliks ondermyn terwyl troepe en polisie beweerde oortreders sonder die voordeel van 'n verhoor gestraf word. Die slagspreuk, 'ons is almal saam hierin' is nou 'n klug. Dit wil lyk op die skrywers van die artikel die spyker op die kop slaan."

BC skryf:

“Kom ons wees eerlik, die ANC wag al vir jare gretiglik om 'n diktatorskap in te stel. Dit is die enigste moontlike manier om hul magsvergrype te vergroot."

En ten slotte, EO:

“Goeie genugtig! Het hierdie twee manne regtig die huidige vlak 4-inperking met die Duitse Demokratiese Republiek vergelyk? Toe ek aanvanklik die artikel begin lees het, het ek gedink dit is as 'n grap bedoel, maar dit word al hoe duideliker dat dit nie is nie."

Dit klink inderdaad baie vreemd om Suid-Afrika se algehele inperking met die DDR se Stasie te vergelyk. Sulke drastiese openbare gesondheidsmaatreëls is sekerlik oor die algemeen geregverdig, gegewe die erns van COVID-19 en die feit dat Suid-Afrika miljoene burgers het wie se immuunstelsels onder verdenking is, insluitende die 7,7 miljoen mense met Vigs en meer as 400 000 TB-infeksies elke jaar, waarvan 20 000 gevalle middelweerstandige TB is. Dit is 'n besonder ernstige gesondheidsgevaar, aangesien TB 'n respiratoriese siekte soortgelyk aan COVID-19 is. Ander hoë-risiko toestande sluit in wanvoeding en groeibelemmering, asook chroniese toestande soos vetsug, hoë bloeddruk, diabetes en asma.

Mills en Hartley mag reg wees om daarop te wys dat “die Verenigde Nasies sover gegaan het as om Suid-Afrika as een van die lande uit te wys wat die algehele inperking met onnodige geweld misbruik", maar wat hulle nie noem nie, is dat die minister van verdediging om verskoning gevra het vir die dood van Collins Khoza wat deur SANW-lede veroorsaak is in die afdwinging van die algehele inperking in Alexandra.

Die regering het blykbaar ook afstand gedoen van sy aanvanklike planne om krisiskolle in informele nedersettings te ontruim en die bevolking daar uit te dun ten einde sosiale afstandskepping te fasiliteer. Die Stad Kaapstad het ook besluit om 'n tydelike skuiling vir 3 000 haweloses by die Strandfontein-sportterrein te sluit nadat nieregeringsorganisasies (NRO's) en aktiviste op grond van menseregte- en gesondheidsredes vir die sluiting daarvan gepleit het. Ons sal maar moet sien of die regering gaan gehoor gee aan menseregte-prokureurs en NRO's se kommer oor die rol van die 73 000 soldate wat gedurende die algehele inperking ontplooi gaan word.

Terwyl dwang-polisiëring en “kwarantynkampe" vir haweloses en vlugtelinge inderdaad problematies en uitgedaag moet word, is beperkinge op oefening en die aankoop van sigarette en alkohol tog sekerlik nie tekens dat 'n polisiestaat besig is om te vorm nie? Tog, as 'n mens van die kommentaar op sosiale media lees, sou 'n mens dink ons bly alreeds in n Stasi-tipe land.

'n Mens kan waarskynlik sulke skrikaanjaende sienings van konserwatiewe witmense wat in die woonbuurtes opgesluit is, verwag. Hierdie deel van die Suid-Afrikaanse samelewing leef in 'n middelklas-borrel waar beperkings op hul vryhede (dit is om te oefen, fiets te ry en met hul honde te gaan stap) toenemend as 'n teken van totalitarisme gesien word, selfs al word hierdie maatreëls deur geldige openbare gesondheidsbekommernisse gemotiveer om kwetsbare mense teen 'n dodelike siekte te beskerm. Hierdie vryheidsgesindes het ook tipies baie min begrip of deernis vir die armes en die gemarginaliseerdes wat nou nog meer as ooit tevore al die beskerming wat hulle van die regering kan kry, nodig het.

Kommer oor outokratiese inkruiping kom egter nie net van die konserwatiewe en vryheidsgesinde kampe nie. Dit wil voorkom asof sommige progressiewe burgers ook bekommerd is. Daar was byvoorbeeld op 27 April 2020 'n lewendige gesprek op Facebook tussen voormalige anti-apartheidsaktiviste in reaksie op kommer dat vlak 4-beperkinge op oefening vir mense wat 60 en ouer is, kan inlui.

Soos 'n veteraan anti-apartheidsaktivis dit gestel het:

“Ek kry die idee dat ons besig is om in 'n baie ondemokratiese en outoritêre ruimte in te beweeg – iets waarvoor ek baie goed toegerus is om uit te ken sodra dit kop uitsteek … ek stem saam met diegene wat voel dat ons te ver gaan. Meer drakonies as wat nodig is. Ek het 'n fassinerende artikel deur die direkteur van die liggaam wat die ebola-krisis gehanteer het, gelees. Dit is die moeite werd om die grootste les wat geleer is, aan te haal: ''n regering kan nie beleide in mense se kele afdruk nie, selfs wanneer dit vir hul eie beswil mag wees'."

Terwyl sommige van die inperking-beperkings beslis weer oordink en herformuleer moet word, is hierdie maatreëls sekerlik nie tekens van totalitêre neigings nie?

Gegewe Suid-Afrika se outoritêre verlede, kan 'n mens miskien 'n onwillekeurige verset teen sommige van hierdie maatreëls verwag. Daar is beslis ook presedente regoor die wêreld waar krisisse en noodtoestande gebruik is om om landburgers se regte en vryhede in te perk.

Die Italiaanse filosoof, Giorgio Agamben het inderdaad op 26 Februarie 2020, tydens die hoogtepunt van die Italiaanse COVID-19-krisis, 'n uitlokkende artikel geskryf waarin hy beweer dat maatreëls vir inperking in Italië “waansinnig, irrasioneel en absoluut onnodig" was en dat dit bloot 'n geleentheid vir die regering was om vrees en paniek te gebruik om 'n noodtoestand in te stel en alle vryhede op te hef – alles in die naam van basiese biologiese oorlewing, of soos hy dit noem, “naakte lewe".

'n Meer aanvaarbare bewering is gemaak oor die manier waarop die VSA se “oorlog op terreur" ná “9/11" tot die installering van 'n reuse Binnelandse Veiligheid-waarnemingsapparaat gelei het wat nog steeds in plek is. Net so kon lande soos China met die uitbreek van COVID-19 hul massa-waarnemingstelsels uitbrei en Hongarye se eersteminister, Viktor Orban, het COVID-19 gebruik om vryheid van spraak verder in te perk en verkiesings uit te stel. Maar om die inperkingsmaatreëls van die Ramaphosa-administrasie met die hierdie gevalle van outokratiese inkruiping te vergelyk, blyk onwaar en skrikaanjaend te wees.

In 'n artikel deur prof Keymanthri Moodley en haar kollegas van die Universiteit Stellenbosch wat onlangs in die South African Medical Journal verskyn het, vra hulle of Suid-Afrika se COVID-19-reaksies as “drakoniese maatreëls" of 'n “proporsionele reaksie" beskou kan word.

Die skrywers kom tot die gevolgrekking dat kwarantyn- en inperkingstrategieë beide wetlik en eties geregverdig moet kan word en met “deernis, selfbeheersing en respek vir menseregte" toegepas word ten einde geldig en doeltreffend in openbare gesondheidsnoodgevalle te wees. Hulle wys ook daarop dat sulke maatreëls met Suid-Afrika se Handves van Regte versoenbaar moet wees, wat “menswaardigheid, gelykheid en vryheid in 'n oop en demokratiese samelewing" beskerm, ten einde “demokratiese regmatigheid" te hê.

Daar moet beslis 'n fyn balans tussen maatreëls wat nodig is om die verspreiding van die virus te bekamp en respek vir demokratiese regte wees. Soos Steven Friedman opgemerk het, 'n “regering wat luister" moet 'n balans tussen kundige en regering-gedrewe siektebeheermaatreëls en samewerking met landsburgers en hul behoeftes handhaaf.

'n Onlangse studie deur prof Pricilla Reddy van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het gevind die meerderheid landsburgers beweer dat hulle aan die COVID-19-regulasies voldoen. Sulke opnames is natuurlik problematies omdat hulle staatmaak op dít wat mense sê hulle doen, eerder as wat hulle regtig doen. Nog 'n ingesteldheidstudie deur Victor Research het getoon dat steun vir die algehele inperking van 77% toe dit die eerste keer aangekondig is, gedaal het tot 30% aan die einde van April. Ongeag die akkuraatheid van hierdie bevindinge, blyk dit duidelik te wees dat vrae oor demokratiese regmatigheid sal bly voorkom namate die inperkingsmaatreëls ontvou.

Terwyl die reddingspakket van R500 miljard en die gefasseerde oopstelling van die ekonomie die regmatigheid van sulke maatreëls mag ondersteun, word dit al hoe duideliker dat COVID-19 weer eens getoon het dat die Suid-Afrikaanse samelewing diep verdeeld is.

Dit is nie verbasend dat Suid-Afrika weereens as 'n land met twee nasies beskryf word nie: die middelklas wat relatief veilig en gemaklik agter hul hoë mure is, en wat nou op die oopstelling van die ekonomie en die beëindiging van outoritêre beperkings op hul persoonlike vryhede aandring; en die armes in die townships en informele nedersettings vir wie die probleem nie outoritarisme is nie, maar werksgeleenthede, toelaes en bykomende welsyn-staatsintervensies om hul sukkelbestaan te ondersteun.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en Suid-Afrikaners het baie onlangs nog regdeur die bank die regering geloof vir sy verantwoordelike en doeltreffende reaksies op die vernietigende COVID-19-bedreiging. Die regering se reaksies mag dalk nie perfek wees nie, maar hulle is ver van 'n afdraandepad na outoritêre magsbeheer nie.

Namate die land al hoe nader aan die oog van die COVIC-19-storm beweeg – wat ons nou na verwagting in Julie gaan tref, moet ons nog dieper dink oor die regering se verpligting om die armes en kwetsbares te beskerm, selfs al beteken dit ons moet individuele vryhede opoffer.

Dit gaan nie maklik vir 'n regering wees om 'n balans tussen individuele vryhede en die behoeftes van die ekonomie en openbare gesondheid te handhaaf nie. Dit gaan beide 'n “regering wat luister" en landsburgers wat bereid is om opofferings te maak om miljoene kwetsbare Suid-Afrikaners te beskerm, verg.

Dit het niks met die skrikbeelde van die Stasi of Stalin te doen nie; dit gaan oor die basiese ordentlikheid waarvan Albert Camus in sy 1947-roman, The Plague, praat.

Professor Steven Robins is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement Sosiologie en Sosiale Antropologie.