Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademikus is mederedakteur van omvattendste leksikografiewoordeboek ter wêreld
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 05/05/2020

Die laaste drie dele van die eerste vyfdelige leksikografie-woordeboek ter wêreld is onlangs vrygestel danksy 'n span leksikograwe van regoor die wêreld, insluitend prof Rufus Gouws, 'n professor in Afrikaanse Taalkunde verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Vir die afgelope twintig jaar het Gouws saammet 'n aantal internasionale akademici wat spesialiseer in leksikografie gewerk aan die samestelling van die leksikografiese vakwoordeboek van vyf dele genaamd Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Leksikografie is die “aktiwiteit of beroep om woordeboeke saam te stel".

Die projek is in 1999 gekonseptualiseer deur wyle prof Herbert Ernst Wiegand, 'n internasionaal beroemde leksikograaf en akademikus wat gespesialiseer het in metaleksikografie (met ander woorde, die studie van leksikografie). Kort daarna het Wiegand 'n klein groep teoretiese leksikograwe van regoor die wêreld byeengebring om die proses te loods om 'n woordeboek van vyf dele saam te stel. Sommige van die leksikograwe het reeds ondervinding gehad van woordeboeksamestelling.  Wiegand het gedien as hoofredakteur van die projek tot sy dood in 2018.

Volgens Gouws het die woordeboek, wat uitgegee is deur die Duitse uitgewer De Gruyter, lank geneem om te produseer. Baie soos die skoenmaker sonder skoene, het leksikograwe dekades bestee om hul energie te fokus op woordeboeke vir verskillende ander vakgebiede, maar die vakterminologie vir leksikografie is nog nooit voorheen in hierdie mate gestandaardiseer nie.

“Vir 'n lang tyd reeds was daar 'n behoefte om leksikografiese terme vir internasionale gebruik te standaardiseer, maar ons wou ook 'n bron skep wat bespreking van die terme insluit sowel as verwysings na ander bronne wat verder nagevors kon word."

Elke deel van die woordeboek bestaan uit sowat 1 000 bladsye. In die eerste deel word die leksikografiese bespreking voorafgegaan deur 'n sogenaamde “sistematiese inleiding" wat 'n oorsig bied van die veld van leksikografie. Hierdie teks kan beskou word as 'n bondige handboek van leksikografie.

Met verwysing na die grootte van die woordeboek en die tydsduur om te dit saam te stel, sê Gouws: “Dit het 'n tyd geneem om met die werklike samestelling van die woordeboek te begin want ons moes deeglik beplan wat presies ons wou doen en hoe ons dit wou doen. Hierdie woordeboek oor woordeboeke is beplan op so 'n wyse dat dit innoverende strategieë en prosedures van woordeboek-samestelling toon. Voortdurende ontwikkeling in die veld van leksikografie lei tot nuwe terme wat na vore kom en ons moes ook voorsiening maak vir die insluiting van hierdie terme in die woordeboek."

“Dit is die meeste omvattende leksikografie-woordeboek wat vandag ter wêreld bestaan en bied 'n gedetailleerde analise van alle vakterme in die veld. Een van sy uniekste kenmerke is egter dat die lys terme ook in nege ander tale vertaal is, waarvan Afrikaans een is," sê Gouws.

Ten einde die vakterminologie wat in leksikografie gebruik word, te standaardiseer, het die span 'n woordeboek geskep wat nuttig sou wees vir leksikograwe van verskillende tale.

“Elke term het dus 'n Duitse verklaring, gevolg deur 'n Engelse vertaling van die term en sy verklaring, 'n meer volledige omskrywing in Duits, verwysings na verwante terme en relevante literatuur en die vertaalekwivalent van die term in Afrikaans, Bulgaars, Spaans, Frans, Hongaars, Italiaans, Portugees en Russies." 

Die vyfde deel bevat alfabetiese registers vir elk van die tale wat in die woordeboek verteenwoordig word. Gebruikers kry kruisverwysings van enige term in hierdie lyste na die behandeling van daardie term in die hoof- alfabetiese teks van die woordeboek.

Die insluiting van Afrikaanse leksikografiese terme in die woordeboek spreek van die bydrae wat Afrikaans-leksikograwe gemaak het tot die ontwikkeling van die veld in Suid-Afrika en elders. Leksikografiese terminologie in Afrikaans is goed gevestig. Boonop het die Departement Afrikaans en Nederlands lank reeds 'n belangrike rol gespeel in die onderrig van teoretiese leksikografie en het meesters- en PhD-programme in die veld aangebied sedert die 1990's.

“Ons is ook een van die vennoot-universiteite in die konsortium universiteite wat die Europese Meestersgraad in Leksikografie (EMLex) aanbied, wat 'n tweejarige internasionale MA-program is befonds deur Erasmus Mundus. Universiteit Stellenbosch is die enigste nie-Europese universiteit wat deel vorm van hierdie konsortium en is genooi om deel te neem op grond van die kwaliteit en omvang van leksikografiese werk aan ons universiteit." 

Die woordeboek kan bestel word van De Gruyter by www.degruyter.com

SU academic co-edits world’s most comprehensive lexicography dictionary.jpg​​

Foto: Prof Rufus Gouws, 'n Professor in Afrikaanse Taalkunde verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, was een van die mede-redakteurs van die eerste vyfdelige  leksikografie-woordeboek ter wêreld wat saamgestel is deur 'n span leksikograwe van regoor die wêreld.