Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MSc-student oppad na Londen vir studies in wetenskapskommunikasie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 20/04/2020

'n MSc-student in dierkunde in die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), Celeste de Kock, is vir 'n MSc in wetenskapskommunikasie  by die Imperial Kollege aanvaar.

Die MSc in Wetenskapskommunikasie-program van Imperial Kollege is in 1991 ingestel en aanvaar jaarliks slegs 45 tot 50 studente vir hierdie program. Imperial Kollege word as een van die top tien universiteite ter wêreld beskou.   

De Kock sê dat sy aanvanklik beplan het om in die visuele kunste te studeer, maar in graad 11 van plan verander het nadat sy gedurende die Maties Wetenskapswinterweek met plant- en dierkunde kennis gemaak het. “Ek was altyd lief vir die natuur, veral vir die skoonheid van vorm en funksie, en die klassifikasie van plante en diere. Toe hulle ons dus in die Natuurwetenskappe Gebou inneem tydens die Wetenskapswinterweek, was ek baie opgewonde en het ek geweet dit is presies wat ek wil doen," sê sy.

Gedurende my studies het ek egter tot my teleurstelling besef dat daar baie min geleentheid was vir kreatiewe uitdrukking. Sy verduidelik: “Ek was nog altyd geïnteresseerd in 'n wye verskeidenheid van onderwerpe en is altyd op die uitkyk vir maniere om wetenskap en die visuele kunste te te kombineer. Maar meestal is daar maar min ruimte vir kreatiwiteit in die wetenskap, en as gevolg van die akademiese kultuur van publikasie in wetenskapsvaktydskrifte, gaan die meeste van die wetenskap verlore vir Jan en San Alleman. Die doel van wetenskap is tog om uiteindelik ons begrip van die wêreld rondom ons te verdiep en, waar relevant, dit as werktuig te gebruik om ons lewens te verbeter. Ek glo dat hierdie wetenskapskennis toeganklik moet wees vir almal, en op so 'n vlak gekommunikeer moet word dat almal dit kan verstaan.  

“Kuns kan gebruik word om die gaping tussen die algemene publiek en rou wetenskap te oorbrug. Deur opwindende wetenskap te vertoon en te verduidelik met visuele hulpmiddels wat die aandag trek, hetsy deur video's, infografika en uitstallings, maak dikwels 'n groter impak as slegs die geskrewe of gesproke woord," voeg sy by.

Hierdie voltydse kursus oor een jaar, bied 'n balans tussen teoretiese en praktiese modules, in kombinasie met 'n internskap. Volgens De Kock is sy veral opgewonde oor die internskapsgeleenthede wat die kursus bied, wat vennote soos New Scientist, Nature en die Wetenskapsmuseum in Londen insluit.

Sys is tans besig om die tesis vir haar MSc in dierkunde af te handel, asook aansoek te doen vir finansiële ondersteuning vir haar beplande studies by die Imperial Kollege wat hopelik op 1 Oktober 2020 gaan begin.

De Kock sê dat meer BSc-studente wetenskapskommunikasie as beroep moet oorweeg: “Moenie net aanvaar dat 'n loopbaan in die wetenskap slegs beperk is tot navorsing nie. Wetenskapskommunikasie bied 'n kreatiewe, interdissiplinêre loopbaan buite die akademie en bied baie geleenthede in televisie, radio, joernalistiek, museums, digitale media en beleidsmaking," sluit sy af.