Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veilige chemikalieë roei saamry-plae uit, bewaar vrugtegehalte
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/04/2020

Vrugte-uitvoerders en -boere in die Wes-Kaap moenie net met die finansiële impak van die COVID-19-pandemie rekening hou nie; hulle voer ook 'n stryd teen die graan-stinkluis wat 'n doring in hul vlees geword het. Die graan-stinkluis, wat as 'n saamry-plaag beskou word, beweeg van wilde grasse en koring na verskeie sagtevrugte-variëteite en besmet die oes en veroorsaak groot ekonomiese verliese.

“Vrugte-uitvoerders kan egter die stryd teen die graan-stinkluis wen deur pruime, pere en perskes met die veilige chemiese etielformiaat (oftwel ethyl formate) te berook sonder om 'n nadelige uitwerking op die gehalte van die vrugte te hê," sê dr Renate Smit, 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Entomologie aan die US behaal.

Smit sê dit is belangrik om alternatiewe na-oes-behandelings te vind wat meer omgewingsvriendelik en doeltreffend is aangesien laetemperatuurbehandelings teen plae soos die graan-stinkluis 'n nadelige uitwerking op die gehalte van vrugte kan hê. Sy voeg by dat die plaagdoder metielbromied (oftewel methyl bromide), wat met groot sukses teen verskeie plae gebruik is, verban is.

“Alternatiewe tegnologieë is van kritieke belang vir ons landbou-uitvoerbedrywe om voort te gaan met handel in plaagvrye vrugte, en om internasionale handel te handhaaf en uit te brei – veral as 'n mens in ag neem dat 45% van die totale produksiehoeveelhede na die buiteland uitgevoer word. 

“Dit is belangrik om die graan-stinkluis te beheer, want in die 2017/2018-seisoen is sowat 1 800 kartonne pere wat vir die VSA bestem was, verwerp omdat hulle met die graan-stinkluis besmet was. In dieselfde seisoen is 'n besending perskes ook gestop is weens hierdie plaag."

As deel van haar studie het Smit die potensiaal van CATTS (Gekontroleerde Atmosfeertemperatuurbehandelingstelsel) en etielformiaat-beroking as maniere om die graan- stinkluis te beheer, ondersoek. CATTS-tegnologie gebruik blootstelling aan hoë temperature vir kort periodes, te same met verminderde suurstofvlakke en verhoogde koolsuurgasvlakke wat insekte se asemhaling ontwrig en hulle uiteindelik doodmaak.

Smit het gevind dat CATTS-behandeling nie die verlangde uitwerking gehad het nie, want die graan- stinkluis kon die hoë temperature en die beheerde atmosfeer deurstaan. Hoë-temperatuurbehandelings het ook 'n negatiewe uitwerking op vrugtegehalte gehad.

Om aanvanklik die doeltreffendheid van etielformiaat te bepaal, het sy graan-stinkluise in geperforeerde mikrosentrifuge-buise geplaas. Sy het toe hierdie buise in keëlvormige laboratoriumflesse geplaas en met 'n stopper geseël om klein berokingskamers te skep.

Smit het etielformiaat-konsentrasies van tussen 0 en 150 gram per kubieke meter (g/m3) geplaas om te bepaal hoe die insekte sou reageer. Konsentrasies van tussen 0 en 150 g/m3 is ook gebruik om die uitwerking van etielformiaat-beroking op die gehalte van die vrugte saam met insektesterftes te toets om die drempel te bepaal waarop die chemiese stof vir elke soort vrug en variëteit giftig sal raak.

“Ons proefneming het getoon dat 'n minimum konsentrasie van 50 g/m3 vir 'n uur lank nodig is om die graan-stinkluis te dood wanneer dit met etielformiaat berook word. Hierdie konsentrasie is ook as doeltreffend bewys wanneer dit op groter volumes soos verskepingshouers gebruik word," sê Smit.

“Deur die konsentrasie wat gebruik word, na 100 g/m3 te verhoog, dring die berokingsmiddel die verpakking binne en versprei dit om al die insekte wat saam met die gepakte vrugte geplaas is, te laat vrek. Hierdie uitslae toon dat 'n hoër konsentrasie etielformiaat nodig is om die graan-stinkluis dood te maak wanneer dit verpakte vrugte besmet.

“'n Konsentrasie van 50 g/m3 kan dus gebruik word om graan-stinkluise in onverpakte vrugte te beheer, terwyl 85 g/m3 genoeg vir verpakte vrugte behoort te wees."

Wat vrugtegehalte betref, sê Smit die smaak van steen- en kernvrugte-variëteite wat aan 'n smaaktoets onderwerp is, het nie verander nie.

“Beroking met etielformiaat bied 'n alternatiewe beheermetode en sal baie makliker wees om kommersieel toe te pas om die graan-stinkluis te beheer. Die toepassing van hierdie tegnologie sal markuitbreiding en toegang tot markte wat tans ontoeganklik is weens hierdie plaag, bewerkstellig."

Sy wys daarop dat etielformiaat reeds sedert die 1920's as 'n plaagbeheerbehandeling vir gedroogde vrugte en in die kommersiële vervaardiging van kunsmatige geurmiddels vir essense en koeldranke soos limonade gebruik word.  

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Renate Smit

Departement Bewaringsekologie en Entomologie

Fakulteit AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

E-pos: rsmit@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za