Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Druiwepulp kan voerkrale 'n ekonomiese hupstoot gee
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 09/04/2020

Vleisbeesboere kan gerus die ekonomiese voordele daarvan oorweeg om gedroogde druiwe- en sitruspulp as 'n bron van vesel te voer vir diere wat in voerkrale grootgemaak word. Só sê veekunde-navorser dr Tawanda Tayengwa van die Universiteit Stellenbosch (US).

Deur sy navorsing wou hy uitvind of dit vir veeboere in lae en middel-inkomste lande van waarde is om uitgedroogde druiwe- en sitruspulp as alternatiewe veselbronne te gebruik, en om te kyk of dit hul rande kan help rek.

Van sy bevindinge hieroor is reeds in internasionale vaktydskrifte gepubliseer, waaronder Meat Science en Sustainability. Dr Tayengwa het die navorsingswerk vir sy PhD in Veekundige Wetenskappe in die US Fakulteit AgriWetenskappe onlangs onder leiding van dr Cletos Mapiye, 'n senior lektor in die US Departement Veekundige Wetenskappe, voltooi.

'n Plan met vrugte-afval
Sitrusvrugte en druiwe tel onder die vrugte wat die meeste in die wêreld gekweek word. Tot 100 miljoen en 80 miljoen ton daarvan word onderskeidelik jaarliks geoes. 'n Derde hiervan word gebruik vir die maak van sap en wyn. In Suid-Afrika word jaarliks onderskeidelik 2,9 miljoen en 2 miljoen ton geoes. Na dit verwerk word, is daar sowat 225 000 metrieke ton sitruspulp en 280 000 metrieke ton druiwepulp waarmee 'n plan gemaak moet word.

"Om maniere te vind om hierdie beskikbare vrugte-afval te gebruik maak nie net ekonomiese sin nie, maar is ook goed vir die omgewing," sê dr Tayengwa, wat 'n MSc in Veekunde in Zimbabwe voltooi het voordat hy middel 2017 met sy PhD-navorsing aan die Universiteit Stellenbosch begin het.

Hy sê dat beesproduksie in Suid-Afrikaanse weivelde redelik laag is. Daarom word meer as 80% van alle beeste in voerkrale grootgemaak sodat daar in vleisliefhebbers se behoeftes voldoen kan word. Weens watertekorte en beperkte voorraad veevoer funksioneer die meeste voerkrale egter nie so optimaal soos wat hulle kan nie. Dit beteken noodwendig dat verbruikers hoë pryse vir beesvleis betaal, en produsente se winsgrense knap is.

“Ons moet alternatiewe en onderbenutte voedingsbronne soos vrugte-afval ondersoek om hierdie bedryf te help om meer volhoubaar te wees," verduidelik dr Tayengwa die motivering agter sy studie.

Veselryke opsie

Sitruspulp en druiwedoppe bevat albei baie vesel. Dr Tayengwa het 'n reeks eksperimente uitgevoer om te sien hoe die gebruik daarvan as voerbron vergelyk met die gebruik van koringsemels, wat gewoonlik as 'n bron van vesel vir voerkraalbeeste gevoer word. Gedroogte afval is gebruik omdat dit andersins te veel water en tanniene bevat.

Dr Tayengwa het voerkraalstudies gedoen op 24 Angus-beeste van sewe maande oud. Dit is uitgevoer op Mariendahl, een van die Fakulteit AgriWetenskappe se proefplase buite Stellenbosch. Elke bul het 150 g gedroogde sitruspulp, droë druiwepulp of koringsemels per kilogram voer ontvang.

Hy het onder meer met verteerbaarheidstoetse en groeiprestasietoetse gemonitor tot watter mate die diere die alternatiewe veselopsies vreet en verteer. Hy het deeglik daarop gelet hoe hulle groei, en hoeveel gewig die bulle daagliks aangesit het, en hoe doeltreffend die voer gebruik is. Die chemiese en fisiese eienskappe van die vleis is ook geanaliseer, en die vet-samestelling en rakleeftyd daarvan is onder andere ook vasgestel. Die vleis het ook proetoetse ondergaan.

“Bulle wat gevoer is met 'n dieet wat gedroogde druiwe- of sitruspulp bevat het daagliks meer gewig aangesit en uiteindelik meer geweeg as dié by wie se dieet koringsemels gevoeg is. Hulle het 'n hoër karkasgewigte en dressing persentasies gehad,"som dr Tayengwa van die belangrikste bevindings op. “Met betrekking tot produksiekoste het dit meer winsgewend uitgewerk om die  beeste veselryke druiwepulp te voer, gevolg deur sitruspulp en koringsemels."'

Rakleeftyd van vleis

Dr Tayengwa het ook gekyk of die voer van pulp 'n invloed het op die rakleeftyd van vleis wat in lugdeurlaatbare verpakking verpak word, en die kwaliteit van die vleis as dit gaargemaak is.

“Daarvolgens kan gedroogde druiwepulp 'n beter natuurlike preserveermiddel kan wees as sitruspulp," sê hy. “Die vleis van beeste wat druiwepulp gevreet het, het 'n langer raklewe gehad in vergelyking met dié van die diere wat sitruspulp en koringsemels geëet het."

Hierdie bevinging is van waarde, aangesien talle produsente tans sinteties vervaardigde antioksidante in voer en vleis gebruik om die raklewe daarvan te rek. Verbruikers maak egter toenemend hul stemme dik hieroor, en spreek 'n voorkeur uit vir natuurlike produkte soos anti-oksidantryke vrugte-afval

In 'n smaaktoets is gevind dat die vleis van beeste wat sitrus- of druiwepulp gevoer is, sowat 10% taaier was as dié van die bulle op die semel-dieet.

Danksy toetse op die vetsuur- en aromakwaliteite van die vleis van beeste wat die vrugte-afval gevoer is, , is gevind dat hulle 'n beter profiel ten opsigte van geseonde vetsure en aromakomponente het. tot die wenslike geur van die verbruikersvleis as koring semels wat gevoed word met beesvleis.

“In die geheel gesien wys die resultate dat die gebruik van druiwepulp die grootste potensiaal vir vleisbeesboere inhou," vat hy saam.