Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ballet, dansbewegings kan rugbyspelers fiks hou tydens inperking
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/04/2020

Die algehele inperking weens COVID-19 mag dalk rugbyspelers binne hou, maar dit beteken nie hulle kan nie aan hul fiksheid werk nie. Volgens 'n onlangse navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosch (US) kan hulle steeds hul voorsprong op hul teenstanders behou indien hulle ballet en ritmiese (dans-) bewegings deel van hul krag- en kondisioneringprogram maak terwyl hulle binnenshuis oefen.

“Deur ritmiese bewegings by hul oefenprogram in te sluit, kan rugbyspelers hul buigbaarheid, ratsheid, spieruithouvermoë en dinamiese balans (om hul postuur stabiel te hou terwyl hulle beweeg) verbeter," sê Jocelyn Solomons, wat onlangs haar meestersgraad in Sportwetenskap aan die US behaal het. Sy is tans ingeskryf as 'n doktorale student.

Solomons sê sy wou twee wêrelde wat oënskynlik heeltemal van mekaar verwyderd is, naamlik dans en rugby, kombineer omdat die insluiting van ritmiese bewegings in krag- en kondisioneringprogramme vir rugby groot moontlikhede inhou. Sy voeg by dat die fokus op spesifieke dans-geïnspireerde bewegings in die vorm van “oefeninge" is, eerder as op dansroetines.

In hierdie eerste navorsingstudie van sy soort in Suid-Afrika, het Solomons probeer vasstel wat die uitwerking van 'n ritmiese beweging-intervensie op rugbyspelers se prestasie sou wees. Sy het spelers van die Stellenbosse Rugby-akademie en die Westelike Provinsie Rugby-akademie genader om aan haar intervensie van 16 weke deel te neem.

Solomons sê die spelers was eers baie geskok en skepties, maar nadat sy vir hulle 'n video gewys het van die Wigan Warriors-rugbyspan wat ballet by hul oefenprogram ingesluit het, was hulle opgewonde om iets nuuts en anders as hul normale oefenprogram te probeer.

As deel van die intervensie, het die spelers – beide voor- en agterspelers – verskeie ritmiese bewegings as deel van hul oefenprogram uitgevoer. Die bewegings was spesifiek op hul biomotoriese vaardighede (buigbaarheid, dinamiese balans, ratsheid, krag, sterkte en uithouvermoë) gemik. Die oefeninge het ballet, basiese salsa, spronge (moderne dans) en wingerdstappe en -draaie (wat byvoorbeeld in die fokstrot, polka, wikkeldans, ens gebruik word), asook verskeie stu- en statiese strekoefeninge ingesluit.

“Die spelers se krag en sommige lokale spieruithouvermoë en biomotoriese vaardighede het statisties aansienlik verbeter van voor tot ná die behandeling. Toe die agter- en voorspelers vergelyk is, het hul ratsheid en krag ook statisties aansienlike verbeterings van voor tot ná die toets getoon," sê Solomons.

“Die oefeninge het die spelers gehelp om geneeskundige balle verder te gooi terwyl hulle sit en om hoër uit 'n staande posisie te spring. Hulle kon ook meer opsitoefeninge in twee minute doen, asook meer optrekke en enkelbeen-hurksitte.

“Veelvuldige biomotoriese vaardighede kan gelyktydig geoefen word, wat voordelig vir 'n veeleisende rugby-oefenprogram is. Met ander woorde, ritmiese bewegings kan as 'n instrument gebruik word om opwarming te doen, as 'n kondisioneringsmetode om spesifieke biomotoriese vaardighede te verbeter, of, wanneer nodig, kan dit as 'n vorm van herstel vir spelers gebruik word."

Solomon sê ten einde die ritmiese beweging-intervensie so doeltreffend moontlik te maak, moet dit regdeur die rugbyseisoen toegepas word en moet dit aan die posisionele behoeftes van rugbyspelers voldoen.

“Die bevindinge van die studie is veral van toepassing op afrigters, asook ander spesialisafrigters (krag- en kondisionering-, sowel as tegniese en taktiese afrigters) wat voortdurend na nuwe maniere soek om spelers se prestasie te verbeter en om alternatiewe oefenstrategieë by hul krag- en kondisioneringsprogramme te voeg."

Solomons sê spelers van alle ouderdomme kan hierdie bewegings by hul oefenprogram insluit. Sy wys daarop dat ritmiese beweging ook in een of ander vorm in ander sportsoorte soos sokker gebruik kan word en het reeds voordele getoon. “Enigiemand van enige ander sportsoort kan ritmiese bewegings by hul oefenprogram insluit, solank hulle die bewegings van die spesifieke sportsoort naboots."

Solomons beplan om haar bevindinge met rugbyafrigters te deel.

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Jocelyn Solomons

E-pos: jocelynjsolomons@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za