Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biblioteekdienste en -hulpbronne tydens tydelike sluiting van geboue
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/03/2020

Op grond van die nuutste ontwikkelinge rakende die COVID-19-pandemie en die noodsaaklikheid vir sosiale afstandskepping om die infeksiekromme laag te hou, is ʼn besluit geneem om alle biblioteekgeboue vanaf Saterdag, 21 Maart 2020 tot verdere kennisgewing te sluit. Biblioteekpersoneel sal voortgaan om dienste en hulpbronne te verskaf om studente en personeel te ondersteun, soos hier onder uiteengesit.

Hoe om met ons in verbinding te tree

Jy kan die Biblioteek om hulp deur ons 24-uur- aanlyn verwysingsdiens, Ask a Librarian, per telefoon en op Twitter en Facebook kontak. Fakulteitsbibliotekarisse kan per e-pos of direk vir inligtingsdienste gekontak word.

Elektroniese hulpbronne

Die Biblioteek se elektroniese hulpbronne bly ten volle toeganklik deur die Biblioteek se webwerf, op kampus en elders. Vir hulp met toegang tot e-hulpbronne kan jy van die gids Off-campus access for Stellenbosch registered users gebruik maak. Raadpleeg asseblief die gids Coronavirus (COVID-19): Library services and contacts vir inligting oor hulpbronne wat gratis beskikbaar is.

E-handboeke

Sommige uitgewers het beperkings op die gebruik van hul materiaal in hierdie tydperk opgehef. Al 700 Cambridge University Press-handboeke sal byvoorbeeld tot 31 Mei 2020 gratis beskikbaar wees.

Inligtingdienste, inligtingsgeletterdheid en navorsingsondersteuning

Raadpleeg die gids Find, access and use information effectively: a step-by-step guide en gaan na biblioteekgidse.

Raadpleeg die Biblioteek se opleidingskalender en bespreek jou deelname aan ʼn biblioteek-webinaar. Geskeduleerde biblioteekopleidingsessies sal vanaf 30 Maart as aanlyn of opgeneemde sessies aangebied word. Jou fakulteitsbibliotekaris of -opleier sal met jou kommunikeer.

Hernuwing van boeke

Biblioteekboeke kan aanlyn hernu word (twee keer per item, tensy iemand anders die item versoek het).

Afkampusdokumentlewering

As jy boeke van die Biblioteek benodig en eerder tuis wil bly, kan jy vir afkampusdokumentlewering registreer sodat die boeke per koerier na jou gestuur kan word. Skanderings van vaktydskrifartikels en hoofstukke van boeke in gedrukte formaat kan ook per e-pos na jou gestuur word.

Terugbesorging van boeke

Jy verkies moontlik om jou biblioteekboeke ná ure sonder sosiale kontak terug te besorg. Maak gebruik van die boekteruggawe-houer spesifiek vir hierdie doel by die ingang van elke biblioteek om jou boeke terug te besorg.