Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toppresteerders in rekenaarwetenskap beloon
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 18/03/2020

Jacobie Mouton, 'n oud-leerder van die Hoër Meisieskool Bloemhof, is aangewys as die beste finale-jaar rekenaarwetenskap-student in die Universiteit Stellenbosch Universiteit se Fakulteit Natuurwetenskappe.

Vir dié prestasie het hierdie top-presteerder die Andries van der Walt-medalje, sowel as 'n kontantbedrag van die sagteware maatskappy Entersekt, ontvang. Mev. Nettie Van der Walt (83), weduwee van die wiskundige en rekenaarwetenskaplike, wyle Prof Andries van der Walt, het die medalje tydens 'n spesiale funksie op 12 Maart 2020 aan haar oorhandig.

Die ander pryswenners was Brendan Watling (beste eerstejaarstudent), Caleb Zeeman (beste tweedejaarstudent) en Johannes Coetzee (beste BScHons-student). Drie BScHons-studente het ook pryse vir hul projekte ontvang: David Baker Effendi (beste honneursprojek), Heinrich Cilliers (beste datawetenskapprojek) en Ryan Lang (beste masjienleerprojek). Hul prysgeld is geborg deur verskeie tegnologiemaatskappye, waarond Techairos, Epi-Use Labs, Capitec Bank, Alphawave en Praelexis.

Jacobie sê sy het na matriek, sonder enige blootstelling aan rekenaarwetenskappe óf kodering, besluit om vir 'n BSc in Wiskundige Wetenskappe met rekenaarwetenskap as hoofvak, in te skryf.

“Dit was maar 'n skoot in die donker. Ek het nie IT op skool geneem nie en het absoluut geen kennis oor rekenaars of programmering gehad nie. Ek dink ek was aangetrokke tot die konsep van probleemoplossing op 'n kreatiewe sowel as wiskundige manier."

Vir haar HonsBSc-projek gaan sy vanjaar die studievield van rekenaarvisie en beeldverwerking aanpak en 'n identifikasie-sisteem bou om luiperds op grond van foto's van hul kolle van mekaar te onderskei.

Ten spyte van haar goeie punte, erken sy dat sy nog altyd redelik geïntimideer is deur dié vakgebied en die groot hoeveelheid onderliggende kennis daaraan verbonde: “Die meeste van die tyd het ek nie 'n idee waar ek moet begin met 'n nuwe probleem of taak nie. Maar in my daaglikse worsteling daarmee, het dit gelukkig nog altyd goed uitgewerk," voeg sy by.

In 2016 was Jacobie die toppresteerder in haar skool, en derde in die Wes-Kaap. Sy was ook die beste tweedejaarstudent in Toegepaste Wiskunde in 2018, met 'n gemiddeld van 99.5%.