Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nog ’n internasionale FLAIR-beurs vir US-ingenieursnavorser
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/03/2020

'n Navorser en dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) het daarin geslaag om nog befondsing deur die FLAIR (Future Leaders – African Independent Research) samewerkingstoekenning te verseker nadat sy verlede jaar (2019) deur die Koninklike Genootskap (Royal Society) aangewys is as een van 30 wetenskaplikes in Afrika om die internasionale FLAIR-navorsingsbeurs te ontvang.

“Ek is baie opgewonde oor al die navorsingsbefondsing asook die ondersteuning wat ek ontvang het. Dit is vir my as jong navorser 'n bevestiging dat ek die regte ding doen en dat my hart op die regte plek is, aangesien 'n mens se navorsing baie nou verbonde aan jou as mens is en dit maak al die verskil," sê dr Margreth Tadie, 'n navorser en dosent by die US se Departement Prosesingenieurswese.

FLAIR is 'n twee-jaarprogram van die Afrika Akademie vir Wetenskappe (AAW) en die Koninklike Genootskap (Royal Society) en word deur die Verenigde Koninkryk (VK) se Global Challenges Research Fund (GCRF) ondersteun. Die program is ontwerp om talentvolle navorsers wat in 'n vroeë stadium in hul loopbaan is en wie se navorsing op die behoeftes van die vasteland fokus, te help om onafhanklike loopbane by instellings in Afrika en uiteindelik hul eie navorsingsgroepe te vestig.

Die samewerkingstoekennings sal nuwe geleenthede aan FLAIR-navorsers bied om hul loopbaan- en navorsingsgeleenthede te bevorder, terwyl dit ook aan hulle toegang sal bied tot opleiding en toerusting by instellings gesetel in die VK. Dit sal ook die uitruiling van navorsingspersoneel, kennis en kundigheid tussen VK-geriewe en FLAIR gasheerorganisasies bewerkstellig.

Volgens Tadie is sy baie opgewonde om saam met prof Karen Hudson-Edwards van die Universiteit van Exeter aan haar navorsing oor mynafval in Suid-Afrika te werk.

“Dit is baie spesiaal om saam met prof Edwards navorsing te kan doen. Wat by my aanklank gevind het, is dat ons dieselfde waardes en visie het, en dit maak ons vennootskap wonderlik. Sy het al baie werk oor die uitwerking van mynbedrywighede op die omgewing gedoen, en dit is waar my hart lê en waaroor my navorsingsprojek gaan."

Tadie is ook een van twee US-navorsers wat deur die Universiteit gekies is om deel uit te maak van die departement van hoër onderwys en opleiding se Toekomstige Professors-program, wat onder leiding van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Opvoedkunde aan die US, staan.

Die Toekomstige Professors-program is 'n twee jaar lange programme wat 'n opleidingsprogram met mentorskap en ondersteuning insluit om senior navorsers en dosente te help om medeprofessors en vol professors te word. Die tweede deel van die program behels internasionale plasing waarvolgens navorsers soos Tadie by 'n internasionale instelling geplaas sal word om haar navorsing en loopbaan verder te bevorder.

“Dit is regtig baie opwindend om deel van hierdie program te wees, en dit is eerlikwaar so 'n groot eer. Om deur die Universiteit genomineer te word en om dan gekies te word, is wonderlik. Ek is baie opgewonde oor die toekoms omdat ek dink ek alles het wat ek nodig het om sukses te behaal."

Om meer oor Magreth Tadie te lees, klik hier.

Vir meer inligting oor die FLAIR-beurse, besoek https://royalsociety.org/grants-schemes-awards/grants/flair/.