Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-postdoktorale genoot wen internasionale datawetenskapuitdaging
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 13/03/2020

​'n Postdoktorale genoot in die Departement Ekonomie, dr Cobus Burger, was die wenner van 'n internasionale datawetenskapuitdaging wat daarop gemik is om die Suid-Afrikaanse regering te help om sterftes in padongelukke te verminder.

Die kompetisie – van Oktober 2019 tot vroeg in February 2020 – het altesame 738 datawetenskaplikes van regoor die vasteland en die wêreld gelok. Die doel daarvan was om 'n masjienleermodel met behulp van historiese padvoorval- en verkeersdata van die Uber-platform te bou sodat daar akkuraat voorspel kan word wanneer en waar die volgende padvoorval in Kaapstad gaan plaasvind.

Die uiteindelike model sal die Suid-Afrikaanse owerhede in staat stel om te voorspel waar hulle hulp benodig sal word en om maatreëls daar te stel om veiligheid op Kaapstad se paaie te help verseker.

Die vervoerekonomiegroep in die Departement Logistiek het die kompetisie saam met die maatskappy Uber, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap en datawetenskapkompetisie-platform Zindi, aangebied.

Dit is nie die eerste keer dat hierdie partye saamwerk nie. Verlede jaar het hulle 'n eendaagse masjienleer-hackathon by die Launchlab op Stellenbosch aangebied, waar 'n span elektriese ingenieurstudente van die Universiteit Stellenbosch as naaswenners aangewys is.

Burger, wat ook as senior datawetenskaplike by Predictive Insights werk, sê sy weninskrywing was 'n enkele “light GBM"-model wat op die laaste drie maande van 2018 gekonsentreer het. (Light GBM is 'n algoritme vir masjienleer.)

Hy het dit soos volg verduidelik: “Byna al die verklarende vermoëns van my model is afkomstig van die kameradata. Historiese gegewens is gebruik om te bepaal hoeveel motors elke padsegment elke uur van elke dag van die week gaan gebruik. Hierdie voorspellings het goed gekorreleer met verkeersinsidente.

“Ek het die kameraname gebruik om tussen inkomende en uitgaande kameras te onderskei. Ek het hierdie onderskeid baie nuttig gevind. Ek het ook dae in ag geneem wat geen kameradata gehad het nie, aangesien hierdie dae ook van groot belang was."

Burger het $2,750 vir sy poging ontvang. Die Gusi Lebedi-span van Rusland was tweede en die span Zindi Stars van Nigerië het derde geëindig.

Prof Stephan Krysgman van die Departement Logistiek, wat Burger met sy prestasie gelukgewens het, het gesê hy het die beste spanne van oor die hele wêreld geklop. “Dis 'n ongelooflike prestasie," het hy bygevoeg.

Reginald Kgwedi, organiseerder en dosent in die Departement Logistiek, het gesê hy is dankbaar vir die geleentheid wat hierdie platform skep het vir datawetenskaplikes, navorsers en akademici om saam te werk. 

"Met data is daar soveel meer wat ons kan bereik om met praktiese oplossings vir ons vervoeruitdagings vorendag te kom," het hy gesê.

  • Foto van Dr Cobus Burger verskaf.