Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons moet praat oor vroue se versteekte traumas
Outeur: Juliana Claassens
Gepubliseer: 09/03/2020

Sondag (8 Maart) was Internasionale Vrouedag. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf prof Juliana Claassens van die Geslagseenheid by die Fakulteit Teologie oor hoe ons meer aandag kan skenk aan die weggesteekte traumas wat vroue regoor die wêreld ondervind.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die artikel soos geplaas.

Vroue se lewens in hakies …

Juliana Claassens*

In haar kortverhaal, “Three [Love] Stories in Brackets" wat in die bundel African Love Stories: An Anthology (2006) opgeneem is, toon die Suid-Afrikaanse skrywer en digter Antjie Krog op 'n kragtige manier hoe die stemme van vroue dikwels onhoorbaar is in die letterkunde. Krog vertel drie plaaslike [liefdes]stories: 'n persoonlike staaltjie oor haar eie ouma wat amper deur haar goed-vir-niks man uit haar erfporsie gekul is; uittreksels oor die lewe van Susanne Smit uit haar dagboek; en die storie van die Zoeloekoning, Shaka, se ma, Nandi, soos dit in 'n lofsang voorkom. As 'n innoverende literêre tegniek, gebruik Krog oop en geslote hakies om die stilte rondom vroue se denke en gevoelens aan te dui. Sy verduidelik:

Die hakies moet sê: Vroue se lewens vind gewoonlik in die geheim plaas, in hakies, in stilte, in plekke waarvan ons nie weet nie. Hulle vertel jou nie daarvan nie, iemand anders praat daaroor. So het jy die stories oor vroue soos vertel deur ander, maar die hakies herinner jou dat die stem wat jy hoor, nie die stem van die vroue is nie; dit is die stem van ander.

Internasionale Vrouedag wat jaarliks op 8 Maart gevier word, nooi ons om vir 'n oomblik stil te staan en na te dink oor hoe dit met vroue gaan – in ons land, asook regoor die wêreld. Krog se aangrypende literêre tegniek van oop en geslote hakies herinner ons daaraan dat wanneer die spreekwoordelike koors van die stand van vroue se welstand gemeet word, ons dit wat “in hakies, in stilte, in plekke waarvan ons nie weet nie" is, van nader en dieper moet bekyk. Die waarheid is dat daar maar al te veel stories oor pyn en lyding in vroue se lewens is wat verdoesel word, selfs vir die mense naaste aan hulle.

Dit is hierdie private of verdoeselde pynlike ervarings wat die feministiese sielkundige Laura Brown genoop het om te skryf dat die meeste traumas vir baie jongmeisies en vroue wel in die geheim plaasvind. Sy skryf in haar hoofstuk in die boek Trauma: Explorations in Memory (1995) dat bloedskande “in die middel van die nag" gebeur; mishandeling van eggenotes en verkragting binne die huwelik gebeur “agter die geslote deur van huweliksverhoudings"; gedwonge seksuele verhoudings – met jong meisies wat uitgelok word om seks met hul kêrels te hê – gebeur op motors se agtersitplekke; seksuele uitbuiting vind in dokters se spreekkamers plaas.

In my onlangs-voltooide monografie oor die lees van Bybelse en hedendaagse stories oor trauma, ondersoek ek die verskillende maniere waarop die letterkunde kan help om hierdie opsigtelike en onopsigtelike voorbeelde van die sistemiese skending van vroue se waardigheid op te teken. Die ikoniese romanskrywer Margaret Atwood besin byvoorbeeld in 'n essay wat in Maart 2017 in die New York Times verskyn het, oor die betekenis van haar klassieke roman The Handmaid's Tale (1985) in die Trump-era. Volgens Atwood vorm die literêre formaat van die getuie 'n sentrale tema in The Handmaid's Tale, wat op 'n boeiende wyse die veelvlakkige aanvalle op vroue se vryheid in 'n distopiese wêreld wat al hoe meer blyk om met ons eie te oorvleuel, dokumenteer. Daar word gesê dat Offred, die hoofkarakter in The Handmaid's Tale, “haar storie so goed as moontlik vaslê; dan steek sy dit weg in die hoop dat iemand wat vrydenkend genoeg is om dit te verstaan en dit kan deel, dit sal ontdek. Dit is 'n aksie van hoop: Elke opgetekende storie sinspeel op 'n toekomstige leser."

Deur traumastories wat vroue se weggesteekte leiding weergee, te lees, neem ons onbewustelik die rol van die getuie in. Om 'n getuie te wees, is om bewus te wees van dít wat in hakies in vroue se lewens gebeur; om bewus te word van vroue se geheime of weggesteekte traumas.

Om die taak van die getuie te aanvaar deur stories te lees wat vroue se trauma weergee, is egter ook vir 'n ander rede belangrik. Daar is getoon dat die daad van lees van fiksie 'n terapeutiese uitwerking op mense het wat moet vrede maak met die nagevolge van ernstige trauma. Julia Kristeva praat in haar klassieke werk Black Sun (1989) van die letterkunde as 'n “teen-depressant" – in die afwesigheid van sielkundige behandeling help dit om mense wat hulle in die put van wanhoop bevind, op te beur. Dit kan dus gesê word dat stories oor trauma ons aan mekaar verbind. Deur stories van vroue se geheime traumas te lees, kan veral vroue wat vir 'n baie lang tyd in stilte gely het, ervaar dat hulle deel word van 'n virtuele gemeenskap waar hulle tot die besef kom: “Ek is nie alleen nie."

Die aksie van die lees van traumatiese stories wat ons aandag op vroue se lewens wat in hakies gebeur, vestig, openbaar verder bepaalde etiese implikasies. Stories van trauma soos dit in die romans van Margaret Atwood, maar ook van Toni Morrison, Penelope Fitzgerald, Anna Burns en ML (Margot) Stedman gevind word, is 'n belangrike instrument om verhale van geheime of versteekte traumas wat deur vroue ervaar word, op die lappe te bring; om lig te werp op die onregverdighede wat in die geheim, in die donker, agter geslote deure, plaasvind. In hierdie verband kan dit dus gesê word dat dit 'n belangrike manier van bewusmaking is om deur die lees van stories van trauma as 'n getuie te dien.

Internasionale Vrouedag mag dus 'n goeie tyd wees om 'n boek oop te slaan wat die weggesteekte traumas van vroue in storievorm vasvang om ons te herinner aan wat vroue regoor die wêreld in die werklike lewe ondervind. Ons het nou meer as ooit getuies nodig: dapper mense wat bereid is om op te staan en te praat waar ander nie kan praat nie; aktiviste wat uit solidariteit die geskendes, die stilgemaaktes en die gemarginaliseerdes wie se lewens al te dikwels in hakies plaasvind verteenwoordig.

*Prof Juliana Claassens is 'n professor en departementele voorsitter: Ou Testament en hoof van die Geslagseenheid by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.