Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe ooreenkoms ’n hupstoot vir water- en energienavorsing in Afrika
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 04/03/2020

Duitsland se Fraunhofer-Gesellschaft, een van Europa se toonaangewende organisasies wat hulle toespits op toegepaste navorsing, het kragte met die Universiteit Stellenbosch (US) saamgesnoer om die uitdagings ten opsigte van water, energie en voedselsekerheid wat Suidelike Afrika in die gesig staar, aan te pak.

Die nuutgestigte Fraunhofer Innovasieplatform (FIP) betrek die US se Fakulteite van Ingenieurswese, Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe, onder die vaandel van die  US Waterinstituut en die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, sowel as vier Fraunhofer Institute. Alhoewel die ooreenkoms in Februarie 2020 onderteken is, sal die amptelike bekendstelling later vanjaar plaasvind.

Die Fraunhofer Innovasieplatform (FIP) sal die hele spektrum van water- en energiesekerheidsuitdagings in die streek onder die loep neem - van akademiese navorsing, tot die ontwikkeling, oordrag en implementering van tegnologie.  Hierdie platform sal bestaande projekte in die konteks van die water-energie-voedselverband komplementeer, wat dié van die ARUA Sentrum van UItnemendheid in Energie insluit, wat in die US se Fakulteit Ingenieurswese gesetel is en deel uitmaak van die African Research Universities Alliance (ARUA)-struktuur.

Prof Reimund Neugebauer, president van die Fraunhofer-Gesellschaft, sê die nuutgestigte FIP is uniek in die sin dat vier Fraunhofer Institute (en nie slegs één nie) betrokke is in die platform: “Alle vennote is aktiewe lede van Fraunhofer se Alliansie vir Waterstelsels en het 'n uitgebreide geskiedenis van projekaflewering op internasionale samewerkingsvlak en meer spesifiek, in Afrika-lande. Die FIP sal ook samewerking met die Fraunhofer Energie-alliansie, insluit, wat een van die grootste energienavorsingsnetwerke in Europa is."

Die vier Fraunhofer Institute wat betrokke is in die FIP, is die Instituut vir Koppelvlakingenieurswese en Biotegnologie; vir Optronika, Stelseltegnologieë en Beeldverkenning; vir Sonenergiestelsels; en vir Oppervlakingenieurswese en Dun Films.

Prof Gideon Wolfaardt, direkteur van die US Waterinstituut, sê waternavorsing is een van die US se strategiese fokusareas: “Die US Waterinstituut bied 'n virtuele sambreel waar spanne met unieke kombinasies van kundigheid saamgestel kan word na gelang van wat die uitdaging waarmee hulle te make het, vereis. Ons het sedert 2016 aan verskeie waterverwante projekte gewerk saam met die Fraunhofer-Gesellschaft en sien daarna uit om die vele nuwe geleenthede te verken wat hulself sal voordoen in 'n langtermynvennootskap met die Fraunhofer-Gesellschaft."

Die totstandkoming van die FIP sal gekoördineer word deur prof Wolfaardt in die hoedanigheid van interimdirekteur, dr Marelize Botes van die US Waterinstituut, Karin Kritzinger van die Fakulteit Ingenieurswese, asook dr Ursula Schließmann van Fraunhofer as visedirekteur.

Prof Wikus van Niekerk, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, sê die nuutgestigte  platform “bied 'n wonderlike geleentheid aan die Universiteit Stellenbosch om saam met ons kollegas van die Fraunhofer Institute te werk ten einde projekte te ontwikkel vir die oordrag van tegnologie in die breër Afrika-konteks."

Prof Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê die inisiatief sal die impak van ons huidige en toekomstige navorsing daadwerklik vergroot: “Met hierdie groot poel wetenskaplikes, ingenieurs en tegnici wat spesialiskennis van verskillende velde kombineer, het die FIP enorme potensiaal vir kennisoordrag en die ontwikkeling van kapasiteit in die streek." ​