Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Woordfees word volmondig mondig
Outeur: US Woordfees
Gepubliseer: 02/03/2020

Die Toyota US Woordfees het gegroei van 'n deurnagfees ter viering van die Afrikaanse woordkuns in 1999 tot een van die land se grootste kunstefeeste. Dié geleentheid het in 2019 ongeveer 70 000 besoekers gelok met 332 uitverkoopte aanbiedings. In 2020 word die fees 21. Hierdie mondigwording word gevier met meer as 500 aanbiedings oor tien dae in 16 afdelings en 75 venues in en om Stellenbosch. Twee van hierdie afdelings – Dans en Landbou – is nuut op die feesspyskaart.

Op enige gegewe feesdag kan jy 'n pop-, rock-, hiphop- of jazz-konsert bywoon, 'n uitvoering van klassieke musiek geniet, topkos en -wyn proe, jou gelukkig lag vir stand-up-komedie, merkwaardige teater ervaar of luister na 'n politieke debat of paneel van skrywers.

Feesdirekteur Saartjie Botha vertel meer oor wat die Woordfees so besonders maak.

Wat is vanjaar se tema en wil julle daarmee bereik?

0TwpY7GV.jpeg

Die tema is “Aanhou beweeg en geraas maak" – geneem uit die kortverhaal “Ek het jou gemaak" van Jan Rabie. Dit is oorspronklik gepubliseer in die bundel kortverhale 21, wat allerweë beskou word as die begin van die belangrike Sestiger-literêre beweging. Met dié tema herbevestig die fees ons verbintenis tot die letterkunde, en wil ook met die tema kommunikeer dat die kunste saak maak en baie op die hart het.

Hoe verskil die Woordfees van ander nasionale kunstefeeste?

Ons is nie 'n vakansiefees nie en het nie stalletjies en 'n feesterrein nie. Ons het 'n groot skrywers- en boekeprogram, 'n omvangryke diskoersreeks en ook film, dans en klassieke musiek op ons spyskaart.

Wat is die vooruitsigte vir die Woordfees en die inhoud vorentoe: onmiddellik, kort en lang termyn?

Ons wil graag gesien word as 'n kunstefees wat bly verras en vernuwe. Ons wil graag die bedryf strategies bestendig. Ons wil vir kunstenaars 'n platform skep om naam te maak en stem dik te maak. Ons wil ook graag meewerk om sosiale kohesie in die land te verbeter.

 

Gee asb TIEN wenke om die beste uit 2020 se fees te put – en al die opwinding te ervaar en te oorleef!

  1. Beplan – daar is so baie om van te kies. As jy nie vooraf jou dag beplan nie, gaan jy geleenthede misloop.
  2. Gebruik ons pendeldiens en vermy verkeersknope en spaar jouself die frustrasie om parkeerplek te soek.
  3. Kyk uit vir gratis aanbiedings – daar is baie hoëgehalte-platsak-plesiere.
  4. Waag 'n kans – koop een kaartjie vir 'n vertoning van 'n kunstenaar waarvan jy nog nooit gehoor het nie.
  5. Hou sosiale media en ons feeskoerant, Ink, dop vir aanpassings, bykomende vertonings en enige veranderings.
  6. Sit tyd opsy om asem te skep en te verwerk wat jy beleef.
  7. Geniet Stellenbosch se goeie wyn voor of ná 'n vertoning.
  8. Behandel kunstenaars met die respek wat hulle verdien. Moet jouself nie koel waai, op jou selfoon kyk of met jou vriendin gesels terwyl 'n vertoning aan die gang is nie. Jy steur die kunstenaar en mede-gehoorlede.
  9. Stel jouself oop vir nuwe perspektiewe, nuwe wêrelde en nuwe idees.
  10.  Die belangrikste van alles: Geniet elke oomblik!

Feesgidse is by die Woordfeeskantoor (Erfurthuis, Ryneveldstr. 37, Stellenbosch) beskikbaar en kaartjies deur Computicket. Die volledige feesgids kan ook aanlyn afgelaai word by woordfees.co.za.