Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bevestig plek op ranglys vir ontluikende ekonomieë
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/02/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy posisie as een van die voorste universiteite in die ontluikende ekonomieë van die wêreld bevestig.

Die US beklee weer eens die 24ste plek (van no 42 in 2017) op die Times Higher Education (THE) Emerging Economies University Rankings-ranglys vir 2020. Tien instellings van Suid-Afrika verskyn onder die top 200.

Die ranglys sluit net instellings van lande of streke wat deur die Financial Times-aandelebeurs (FTSE) as “gevorderd ontluikend", “sekondêr ontluikend" of “grens" geklassifiseer word.

Volgens die THE gebruik sy universiteitsranglys vir ontluikende ekonomieë dieselfde 13 prestasie-aanwysers as wat vir die THE wêreldranglys vir universiteite gebruik word om die volledigste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word. Die gewigte word egter spesiaal geherkalibreer om die eienskappe van die ontluikende ekonomie-universiteite weer te gee. Die prestasie-aanwysers word in vyf gebiede gegroepeer: Onderrig (die leeromgewing); Navorsing (hoeveelheid, inkomste en reputasie); Aanhalings (navorsingsinvloed); Internasionale Uitkyk (personeel, studente en navorsing); en Bedryfsinkomste (kennisoordrag).

“Groot klem word binne die ontluikende ekonomieë op die impak wat universiteite op die samelewing kan hê, geplaas," sê prof Hester Klopper, die US se Viserektor vir Strategie en Internasionalisering. “Tesame met ons opgang onder universiteite wêreldwyd, beklemtoon ons gevestigde plek op hierdie spesifieke ranglys een van ons kern strategiese temas, Navorsing vir impak." Sy voeg by dat dit 'n bewys is van die impak wat die US se navorsing wêreldwyd het en die erkenning wat die gehalte en statuur van sy navorsers geniet.

“Hoewel ons bewus is van die belangrikheid wat ranglyste in die algehele beskouing van 'n instelling se akademiese en navorsingsreputasie speel, fokus ons op akademiese en navorsingsuitnemendheid wat 'n beter wêreld vir almal sal skep" beklemtoon Klopper. “Dit is egter vir ons baie bevredigend om internasionaal erken te word terwyl ons daarna strewe om oplossings vir die samelewing se probleme deur navorsings- en wetenskaplike programme van wêreldgehalte te vind."

Die instelling se visie is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word.

  • In September 2019 is aangekondig dat die Universiteit Stellenbosch sy algehele posisie op die Times Higher Education wêreldranglys vir universiteite van 301–350 tot 251–300 verbeter het om die US in die derde plek onder Suid-Afrika se voorste universiteite – kort op die hakke van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand – te plaas. Dit plaas die US ook in die boonste 1% van universiteite wêreldwyd.