Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-afwentelmaatskappy verantwoordelik vir een 2019 se top-uitvindsels
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/02/2020

'n Afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US) is verantwoordelik vir 'n nanovesel kosmetiese produk wat deur Time-tydskrif as een van die 100 beste uitvindsels van 2019 aangewys is.

Die Stellenbosch Nanofiber Company (SNC) het bekendgemaak dat dit saam met Taiki USA, 'n wêreldleier op die gebied van velsorg en grimeerprodukte, werk om die Amerikaanse maatskappy Artis se Artis Phantom Cleansing Silks na die algemene mark te bring.

Die Artis Phantom Cleansing Silks word sedert verlede jaar hoofsaaklik aanlyn verkoop, en is een van net vyf skoonheidsuitvindsels wat in Time se 2019-lys opgeneem is.

Volgens Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en Sake-ontwikkeling by Innovus, het SNC se sukses 'n “nuwe maatstaf" vir al die Universiteit se beginnertegnologiemaatskappye geskep.

SNC is in 2011 op die been gebring as 'n afwentelmaatskappy van die US se bedryfsinteraksie-, tegnologie-oordrag- en kommersialiseringsmaatskappy, Innovus.

Die maatskappy het verskeie van die voorloper mediese nanovesel-produkte ontwikkel, wat wissel van wondverbande wat brandwonde help om vinniger te genees, tot resorberende weefselsteiers vir die skep van plaasvervangerdele vir die menslike oog.

“Ons is ontsettend trots daarop dat tegnologie wat by die US geskep is, so suksesvol gekommersialiseer kon word dat hul samewerking met internasionale vennote kon lei tot 'n produk wat deur Time-tydskrif erken is. Dit is weer eens 'n bewys van hoeveel potensiaal daar in die werk van die US se navorsers opgesluit lê en dit skep by ons almal die vertroue dat ons met sukses saam met vennote kan werk om ons eie tegnologie na die mark te bring waar dit tot voordeel van die samelewing aangewend kan word. Ek is persoonlik baie trots op dr Eugene Smit en sy span. SNC se sukses kan op baie meer gebiede deur ons ander afwentelmaatskappye herhaal word," sê Nel.

Die belangrikste doel van hierdie nanovesel-skoonheidsproduk is om 'n tradisionele driestapproses – verwydering van olie, reinig met skuim en ligte eksfoliasie – in een maklike en doeltreffende skoonheidsritueel te omskep.

'n Unieke kombinasie van bioafbreekbare, oplosbare nanovesel-materiale en bestanddele soos jojoba-olie en vitamiene E word vir die silks of klein, ovaal lappies gebruik.

Aangesien die produk nie aktiveer totdat dit met water in aanraking kom nie, is geen oordadige preserveermiddels nodig om die bestanddele te stabiliseer soos die geval is met konvensionele reinigingsjel, -room of -skuim nie.

​Die Artis-maatskappy beskryf die produk as die “gesigwasmiddel van die toekoms" en SNC, saam met hierdie Amerikaanse maatskappye, hoop om hierdie innoverende velsorgproduk binnekort aan die algemene mark bekend te stel.