Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR-voorsitter belowe om sy beste vir studente te gee
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 12/02/2020

Die nuutverkose voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR) vir die 2020 akademiese jaar, Lewis Mboko, sê hy is opgewonde en gereed om sy beste vir die studente te gee deur die beste moontlike Stellenbosse omgewing vir almal te skep.

Die 22-jarige Ekonomie- en Beleggingsbestuur-student van Harare in Zimbabwe sê hy stel 'n inklusiewe Universiteit Stellenbosch in die vooruitsig vir sy termyn as voorsitter – 'n plek waar studente se ras, seksualiteit, finansiële status of geboorteland nie as hindernis dien in hul strewe om hul volle potensiaal te bereik nie.

Mboko is sover bekend die eerste student van Zimbabwe om as Voorsitter van die Studenteraad verkies te word.

Lewis het groot planne vir sy termyn wat in September ten einde loop. “Ek beplan om kwessies wat ons as 'n instelling teister, kwessies soos historiese skuld, te pak en ek wil platforms daarstel waar gesprekke oor kwessies soos geslagsgebaseerde geweld, verantwoordelike drankgebruik, rasseverhoudings, seksualiteit en ander kritiese sake kan plaasvind," sê Lewis.

“Ek beplan onder meer om 'n gazebo op die Rooiplein op te slaan of op sekere tye 'n tafel in die Neelsie te hê sodat ek op hoogte kan bly van die kwessies waarmee die studente worstel en sodat ons kan saamwerk aan oplossings," voeg hy by. 

Lewis sê hy glo in eenheid. “My grootste prioriteite is om die kampus te verenig, om seker te maak dat geen student uitgesluit is nie en dat alle stemme gehoor word – nie net die hardste of magtigste stemme nie, maar alle stemme."

Hy beplan om die sigbaarheid van die SR op die Stellenbosse kampus te verhoog en meer toeganklik vir studente te wees.

“Die Universiteit Stellenbosch is baie divers en die behoeftes is ook uiteenlopend. Dit wissel van die een uiterste waar iemand se grootste probleem is om iets te kry om te eet, tot die ander uiterste van parkering," sê Lewis.

Hy sê die feit dat hy die verantwoordelikheid op hom neem om elke Matie te verteenwoordig, beteken dat hy hierdie verskille in oorweging moet neem en niemand se behoeftes as minder belangrik moet beskou nie. Lewis sê hy sal die studente op só 'n manier verteenwoordig dat daar in almal se behoeftes voorsien word.

Lewis erken dat dit onmoontlik is om dit alleen te doen. “Ek verwag nie om dit op my eie te doen nie, maar deur hande te vat met elke liewe belanghebber van die Universiteit om te verseker dat die Universiteit Stellenbosch die beste plek vir ons studente word."

Wanneer hy oor sy persoonlike lewe praat, sê Lewis sy persoonlike ontwikkelingsfokusgebied is ontwikkelingsekonomie en sy doelwit is om 'n geoktrooieerde finansiële ontleder te word nadat hy sy studies voltooi het.

“Ek droom daarvan om te verstaan hoe die finansiële veld werk en om na die huidige stand van Afrika te kyk – veral die agterstand in vergelyking met ander vastelande, aangesien baie gedoen moet word en ek wil deel wees van daardie verandering en sien hoe my vasteland verbeter," voeg hy by.

Hy sê dat hoewel hy in een van Afrika se armste lande gebore is, droom hy daarvan om een van die mense te wees wat gaan help om Afrika se storie te herskryf.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het Mboko gelukgewens en gesê da thy daarna uitsien om saam met hom te werk. “Jou verkiesing pas in by ons fokus op internasionalisering. Studente bly 'n prioriteit vir ons en dit maak my altyd trots om te sien dat Maties 'n impak as wêreldburgers maak."

Dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, het Mboko gelukgewens dat hy “die harte van medestudente gewen het, wat die soort studenteleierskap is wat die studente waardeer en daarna smag." 

Sy het bygevoeg dat Mboko 'n beginsevaste persoon is wat weet waarvoor hy staan, nederig met 'n uitsonderlike vermoë om te luister voordat hy 'n besluit neem en passievol daaroor is om studente te dien. 

“Hy is 'n leier wat altyd bereid is om te leer, maar ferm oor wat voordelig is vir die breër studentegemeenskap. Die Afdeling Studentesake is gereed om al die ondersteuning te bied wat die SR as span nodig het en om hulle as leiers te motiveer om eties en met integriteit te lei."