Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch stel nuwe hoof van LaunchLab aan
Outeur: Innovus & LaunchLab
Gepubliseer: 05/02/2020

​Die gewoel en gewerskaf van New York se beleggingsbankwêreld het plek gemaak vir San Francisco se golwende heuwels en staproetes en die plek geword waar hy besef het dat hy besighede wil bou wat die potensiaal het om mense se lewens op groot skaal positief te beïnvloed.

“Ek glo elke onderneming moet 'n sosiale gewete hê", sê Joshua Romisher, wat so pas aangestel is as die Nedbank Universiteit van Stellenbosch LaunchLab se hoof uitvoerende beampte.

LaunchLab is die Universiteit Stellenbosch se besigheidsinkubator vir nuwe maatskappye (start-ups) wat voortspruit uit die plaaslike entrepreneuriese ekosisteem. Romisher is egter van plan om die LaunchLab vanjaar vir maatskappye regoor Afrika oop te stel. Geen wonder dat sy persoonlike missie “impak op skaal" is nie. Innovus, die Universiteit se innoveringsafdeling, het LaunchLab gestig.

Saam met sy aanstelling, bring Romisher 'n dekade se ervaring in hoofsaaklik skuldkapitaalmarkte by Credit Suisse Securities in New York en San Francisco. Midde in die finansiële krisis van 2008, het hy ook gehelp om Braver Stearn, 'n innoverende handelsplatform vir jong opkomende maatskappye, te vestig. Sy bankloopbaan het hom na San Francisco gelei, waar hy instrumenteel was om 'n winsgewende eenheid van die bank te laat groei. Uitstappies na Silicon Valley het sy verbeelding aangegryp en sy belangstelling geprikkel om kapitalisme te gebruik om kritiese globale kwessies op te los.

“Silicon Valley is 'n kookpot van dinge wat jy nodig het om 'n besigheid te begin. Dit het 'n ekosisteem van kundiges en tegniese bronne – 'n plek van innovering."

Universiteit van Stanford

In 2012 het Romisher die bank verlaat om sy Meestersgraad in Bestuur aan die Universiteit van Stanford te voltooi. Hier het hy die vaardighede ontwikkel om ondernemings te bou wat die potensiaal het om miljoene mense positief te beïnvloed. Sy fokus was op skoon energie, want hy glo omgewingsimpak die mees kritiese uitdaging van ons tyd. Dit is 'n ook 'n probleem wat deur die innoverende private sektor kan oplos. Romisher het oor die afgelope ses jaar verskeie besighede in tien lande suid van die Sahara van die grond af gebring. Gedurende hierdie tyd, het hy meer as $250 miljoen van talle beleggingsgroepe ingesamel om nuwe besighede te befonds.

“Die meeste mense in Afrika sal nooit aan 'n tradisionele elektrisiteitsnetwerk verbind word nie. Hulle sal van die begin af hul energie van sonkrag ontvang. Op dieselfde wyse het die meeste mense in Afrika nooit 'n landlyn ervaar nie. Hulle eerste en enigste manier vir kommunikasie was 'n selfoon."

Romisher het gesê miljoene mense in Afrika vertrou steeds op keroseen en kerse om te kook en vir lig. Hulle asem daagliks giftige rook in. Hy was die hoof finansiële beampte van 'n nuwe maatskappy wat verspreide sonenergie aan meer as 500 000 kliënte in landelike lae-inkomste gebiede in ses lande verskaf het. Hulle was meestal boere, maar hierdie was net die begin.

“Ons het aan die kliënt 'n lening toegestaan om sonenergie in sy of haar huis te installeer. Saam met die lening het die persoon meteens 'n kredietgeskiedenis, dus kon ons ook 'n finansiële produk aanbied wat vir skoolfooie of 'n begrafnis kan betaal, en op hierdie manier sy of haar likiditeitsprobleme help oplos," het Romisher gesê. “Ons missie was om produkte en dienste te verskaf wat mense se lewens sal verander."

Nuwe geleenthede

Vir Romisher is sosiaal en besigheid een en dieselfde ding. “Goeie besighede moet sosiaal wees en sosiale ondernemings moet 'n besigheid wees. Vir volhoubaarheid moet dit ook winsbejag wees."

Hy glo te midde van ontwrigting is daar altyd geleenthede. Romisher sien die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar as geleenthede vir entrepreneurs om die rol van besigheid te heroorweeg.

Hy sien die LaunchLab as 'n verhoog waarheen entrepreneurs hulle idees kan bring en waar dit dan in 'n volhoubare, lewensveranderende onderneming gevorm kan word. “LaunchLab sal die plek wees waar entrepreneurs en hul toegewyde spanne kan saamwerk en kreatiewe foute kan maak. Dit is op hierdie punt waar fondsinsameling in die prentjie kom; en so kry die entrepreneurs en die beleggers 'n kans om mekaar te ontmoet. Die LaunchLab sal ook kritiese dienste aan maatskappye bied, soos onder meer fondsinsameling en die verkryging van talentvolle werknemers. Met hierdie funksies uit die weg geruim, sal die entrepreneurs dan ongedeerd op hulle produkte en kliënte kan fokus."

Romisher is van mening dat LaunchLab die platform is wat noodsaaklike dienste moet bied en belangrike verbintenisse (plaaslik en internasionaal) moet smee vir die jong maatskappye van die toekoms. “Hierdie maatskappye sal kritiese sosiale kwessies oplos, werkskepping aandryf en die volgende generasie leiers uit Afrika oplewer," het Romisher gesê

Hoekom Stellenbosch?

Romisher het Stellenbosch gekies omdat dit “die kern van 'n wêreldklas Universiteit, uistekende ondernemings, entrepreneuriese innovering en 'n wonderlike omgewing is om 'n gesonde en gelukkige gesin in groot te maak". Hy het gesê dat hierdie omgewing geweldig ooreenstem met die ses jaar wat hy in San Francisco, en spesifiek, Silicon Valley deurgebring het. “Dit is 'n plek wat die beste en slimste in die wêreld lok – mense wat bedags wil innoveer, in die middag wil branders ry en dan saans saamwerk in 'n pragtige omgewing." Die geleentheid as hoof van die launchLab bied aan hom die kans om diep betrokke te raak in hierdie gemeenskap, terwyl hy wil help om dit vorentoe te neem.​