Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US is gasheer vir BRICS-konferensie oor Wiskunde en Statistiek in 2021
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 04/02/2020

​Wiskundiges, toegepaste wiskundiges en statistici van Brasilië, Rusland, Indië en China sal in November 2021 in Stellenbosch bymekaarkom vir die vyfde internasionale BRICS-konferensie vir Wiskunde en Statistiek.

Die Unversiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Natuurwetenskappe en Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe sal as gasheer optree vir die konferensie wat vir die eerste keer in Suid-Afrika sal plaasvind. Die konferensie sal ook ondersteun word deur drie van Suid-Afrika se belangrikste verenigings in hierdie vakgebied, naamlik: die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging  (SAMS), die Suid-Afrikaanse spesiale balangegroep vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde (SANUM), en die Suid-Afrikaanse Statistiese Vereniging (SASA).

Die BRICS-konferensie het in 2016 tot stand gekom ten einde samewerking en uitruilskemas op die gebied van wiskunde onder die vyf lande te bevorder. Die vierde konferensie sal van 6 tot 10 Julie 2020 by die Indiese Instituut vir Wetenskapsonderrig en -navorsing (IISER) in Thiruvananthapuram plaasvind.

Prof Nick Hale, voorsitter van die reëlingskomitee en 'n dosent in die Afdeling Toegepaste Wiskunde by die US, sê die tema vir 2021 se konferensie sal fokus op die bevordering van vennootskappe en inklusiewe netwerke vir wiskundiges, toegepaste wiskundiges en statistici van regoor die BRICS-lande en die Afrika-kontinent.

Terwyl gewilde onderwerpe van die dag soos datawetenskap en masjienleer sekerlik onder bespreking sal wees, sal die kollig ook val op belangrike fokusareas soos vroue in wiskunde, en wiskunde-onderrig, voeg hy by.

Prof Paul Mostert, voorsitter van die US se Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap en 'n lid van die reëlingskomitee, sê die aanbied van die konferensie sal saamval met die 75ste herdenking van die departement: “Ons is baie opgewonde om hierdie mylpaal saam met kollegas in die wiskundige wetenskappe binne die breër BRICS-gemeenskap te kan vier. Die departement beskou die konferensie as 'n ideale geleentheid om die nuutste navorsing in die wiskundige en statistiese wetenskappe in Suid-Afrika ten toon te stel en te deel met 'n internasionale gehoor."

Die konferensie sal vanaf 21 tot 26 November 2021 plaasvind en sal 'n openbare lesing insluit om bewusmaking te skep van die belangrikheid, relevansie en verreikende invloed van wiskunde en statistiek in die moderne wêreld.