Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaplikes ontwikkel padkaart vir wêreldwye insekbewaring
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/02/2020

​​Met 'n geskatte 40% van alle insekte wat deur uitwissing bedreig word, het 73 wetenskaplikes van regoor die wêreld, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US), besluit dat dringende stappe gedoen moet word om ons insekspesies te beskerm. Hulle het onder leiding van prof Jeff Harvey van die Nederlandse Instituut vir Ekologie met 'n padkaart vir wêreldwye insekbewaring en herstel vorendag gekom.

Die padkaart, met 'n oproep tot ingryping op die kort, medium en lang termyn, het onlangs in die vaktydskrif Nature Ecology & Evolution verskyn.

Dit bevat 'n lys onmiddellike “geen berou" (no regrets)-stappe wat so gou as moontlik gedoen moet word om wêreldwye insekbevolkings te bewaar. Hierdie stappe sluit onder meer pogings in om mense op te voed oor die belangrike rol van insekte, om restourasie- en bewaringsprogramme aan te vul, om die gebruik van plaagdoders uit te faseer, om die invoer van ekologies-skadelike produkte te verminder, om die bekendstelling van uitheemse spesies te vermy en te temper, en om landskapheterogeniteit in landbou te bevorder. Grootskaalse beoordeling van die spesies, gebiede en kwessies wat ons aandag nodig het, moet ook gedoen word. 

Op die medium termyn moet nuwe navorsingstudies oor die verskillende mensgeskepte stressors en huidige inligting oor insekdiversiteit in die verlede in private museums en insekversamelings by universiteite ontleed word. Langtermynstappe sluit vennootskappe in om nuwe habitatte vir insekte te skep en bestaandes te herstel en te beskerm en 'n wêreldwye moniteringsprogram sodat mense dieselfde metodes kan gebruik om insekte te beskerm. 

Een van die medewerkers, dr James Baxter-Gilbert van die US se Sentrum vir Indringerbiologie, het in sy kommentaar oor die belangrikheid van die padkaart gesê: “Hierdie padkaart sal regerings, navorsers en bewaringskundiges help om die bedreigings wat 'n uitwerking op insekgemeenskappe het, aan te spreek en sodoende die afname van insekte wêreldwyd te bekamp." Baxter en die vermaarde insekkenner van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, prof Michael Samways, het tot die ontwikkeling van die padkaart bygedra.

Volgens Baxter-Gilbert is dit in ons beste belang om insekte te bewaar, aangesien hulle 'n belangrike rol in die instandhouding van ekostelsels en die volhoubaarheid van funksionele voedselwebbe speel. “Sonder die insekte sal die natuur soos ons dit ken, verlore gaan. Verder is insekte noodsaaklik vir menslike voedselproduksie, met baie spesies wat gewasse bestuif en as 'n biologiese plaagdoder dien," voeg hy by.

“In die lig van die wêreldwye verlies aan biodiversiteit, is bewaringsaksies nou meer nodig as ooit. Tog, indien ons die tipiese spesies wat deur bewaring geteiken word (die vertebrate, die donsige of veeragtige diertjies, al die individuele gunsteling-charismatiese spesies wat elkeen van ons het), wil beskerm, moet ons eers die insekte bewaar, aangesien hulle so 'n groot las van die ekologiese funksie dra wat die res van lewe toelaat om te bly voortbestaan."

Baxter-Gilbert voeg by dat die Sentrum vir Indringerbiologie se werk oor indringerplante en -diere beslis sal help met insekbewaring in die toekoms.

  • Bron: Harvey, J.A., Heinen, R., Armbrecht, I. et al. International scientists formulate a roadmap for insect conservation and recovery. Nature Ecology & Evolution (2020). https://doi.org/10.1038/s41559-019-1079-8  

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr James Baxter-Gilbert

Sentrum vir Indringerbiologie

Departement Plant- en Dierkunde

Universiteit Stellenbosch

Sel: 082 407 0956

E-pos: jbg@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za