Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US werk saam met top Franse sakeskool
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/02/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy reputasie as 'n belangrike strategiese en internasionale rolspeler in hoër onderwys gestand gedoen toe die Universiteit 'n vennootskap met die wêreldbekende Franse sakeskool, SKEMA, van stapel gestuur het. Hierdie vennootskap, die eerste tussen SKEMA en 'n tersiêre instelling in Suid-Afrika en Afrika, baan die weg vir die vestiging van die SKEMA Sakeskool Suid-Afrika aan die US.

​Die bekendstelling is Vrydag (31 Januarie 2020) by die Adam Small-teaterkompleks op die Stellenbosch-kampus gehou. Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die US, en mnr Damien Roux, direkteur van wêreldwye bemarking en kommunikasie by SKEMA, het 'n formele ooreenkoms namens die twee instellings by die geleentheid, wat deur verteenwoordigers van die US, SKEMA, die Franse Ambassade, die Franse Handelskamer, asook die eerste groep van die 30 SKEMA-studente bygewoon is, onderteken.SKEMA-77.jpg

Volgens die ooreenkoms sal die SKEMA Sakeskool Suid-Afrika kursusse by die US aanbied, met die US wat die nodige logistieke ondersteuning en infrastruktuur sal verskaf om sy akademiese aktiwiteite op kampus te bedryf. Dit sluit lesingskamers asook kantoorruimte vir SKEMA se administratiewe personeel en akademici op 'n roterende grondslag in. Studente sal vir een semester op Stellenbosch woon, toegang tot die Universiteit se geriewe hê en sal die akademiese program wat deur dosente van die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB) en SKEMA aangebied word, deurloop. Dit word in die vooruitsig gestel dat gesamentlike programme, navorsingprojekte, fakulteitsuitruilings en besoeke van US-studente aan ander SKEMA-kampusse regoor die wêreld uit die vennootskap sal voortvloei.

Prof Klopper het die belangrikheid van die geleentheid beklemtoon en gesê “die ondertekening van hierdie ooreenkoms met SKEMA neem ons vennootskap beslis na die volgende vlak. Dit bevat die bloudruk van die US se strategiese strewe om aan al ons studente 'n transformerende leerondervinding te bied en om hulle vir die eise van die wêreldwye arbeidsmark toe te rus."

Sy het ook genoem dat die vennootskap tussen die US en SKEMA nog 'n voorbeeld is van die sterk en vrugbare band tussen die US en tersiêre instellings in Frankryk.

“Die US stap al 'n lang pad saam met Franse hoëronderwysinstellings deur middel van bilaterale en navorsingooreenkomste en studentebeweeglikheid. Ons is verbind tot hierdie verhouding en sien uit daarna om saam te werk."

Roux het gesê SKEMA hoop om 'n rol in die plaaslike gemeenskap te speel en wil deel word van die streekstelsel. Hy het die eerste groep studente aangemoedig om hiertoe by te dra.

Afgesien van Frankryk en Suid-Afrika het SKEMA ook kampusse in die VSA, China en Brasilië.

  • Hooffoto: Prof Hester Klopper en mnr Damien Roux onderteken die ooreenkoms. Foto 1: Verteenwoordigers van die US, SKEMA, die Franse Ambassade, die Franse Handelskamer en SKEMA-studente by die bekendstelling. Fotograaf: Stefan Els