Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-personeel vereer vir uitnemendheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/01/2020

​Personeel van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) is tydens afsonderlike prysuitdelings in die Eikestad vereer met die Universiteit Stellenbosch se Kanselierstoekenning soewel as toekennings vir uitnemendheid in navorsing en onderrig.

Kanselierstoekenning

Tydens die EBW-gradeplegtigheid op 12 Desember 2019 het prof GA (Andrie) Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie en mev Gretchen Arangies, bedryfsdirekteur by USB, albei die Kanselierstoekenning ontvang. Hierdie gesogte toekenning gee erkenning aan personeel wie se loopbane getuig van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste.

Arangies, wat haar loopbaan by US se Afdeling Menslike Hulpbronne in 1989 begin het, het die toekenning ontvang vir haar “operasionele vermoëns, akademiese insig en natuurlike leierskapseienskappe" wat sy in die kategorie “professionele dienste" geopenbaar het.

Fakulteitsdekaan prof Ingrid Woolard het  gesê dat die operasionele sukses en implementering van 'n aggressiewe groeiplan by USB grootliks toegeskryf kan word aan die verstommende werksetiek van Arangies.

“Ek voel verootmoedig om die toekenning van so 'n wonderlike instelling soos die Universiteit Stellenbosch te ontvang. Dit is vir my 'n eer om op hierdie wyse erken te word vir my bydraes tot die Universiteit en veral USB, "sê Arangies.

Schoombee is erken vir sy volgehoue uitnemendheid in onderrig en leer. Hy is geprys vir sy unieke en professionele bestuur van die Departement Ekonomie oor die afgelope 20 jaar en vir die transformasie van die geslags- en rassesamestelling in dié departement.

“Sy leierskap het die departement in staat gestel om 'n prominente rol in navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens te speel," sê Woolard.

Tydens 'n seremonie op 5 Desember 2019 by STIAS, is die US se toppresteerders in navorsing, onderrig en mediakommunikasie aangekondig. Vier EMS-akademici het sertifikate ontvang vir hul uitstekende bydraes tot onderrig en navorsing.

Uitnemendheid in onderrig

Dr Sharon Malan, programleier van die Verlengde Graadprogram, het 'n toekenning vir uitnemendheid in onderrig in die kategorie “ontluikende dosent" ontvang.

Die onderrigtoekennings vereis dat kandidate portefeuljes indien wat hul kritiese denke oor die konteks waarin hulle onderrig, hul studente, vakkennis en professionele ontwikkeling as dosente toon. Die portefeuljes verskaf insig in die trajek van hulle onderrigontwikkeling en die uitdagings, mislukkings en suksesse wat hulle beleef het.

Malan sê die inhandiging van haar onderrigportefeulje was 'n lewensveranderende ervaring.

“Om oor myself as onderwyser te skryf en 'n kykie in die lewens van die studente wat ek onderrig, te gee, dien as bevestiging dat ons verhale saak maak en vir ander belangrik kan wees. Dit was 'n verfrissende ervaring wat my gehelp het om my onderrig(tegniek) van binne na buite te ondersoek, eerder as andersom," het sy gesê.

Uitnemendheid in navorsing

Prof Charles Adjasi van USB, asook proff Josephine Musango en Solosh Pillay van die Skool vir Publieke Leierskap, is met toekennings vir uitnemendheid in navorsing vereer.

Dié toekennings word toegeken aan US-navorsers wat die grootste bydrae gelewer het tot geakkrediteerde publikasies. Twee kategorieë is in ag geneem, nl. (i) US navorsers wat die grootste bydrae gelewer het ten opsigte van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se publikasiesubsidie-eenhede (afsnypunt hierdie jaar was 4.15) en (ii) US navorsers wat die grootste aantal geakkrediteerde navorsingspublikasies geproduseer het in samewerking met hul nasionale en internasionale navorsingsvennote en studente (afsnypunt hierdie jaar was 14). In hierdie rondte is daar ook erkenning gegee aan navorsers wat drie en meer doktorsgrade afgelewer het in die relevante tydperk.

Die toekennings is oorhandig deur prof Eugene Cloete, viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie. Volgens Cloete is navorsingspublikasies en die suksesvolle aflewering van doktorsgrade van die belangrikste produkte wat deur US navorsers gelewer word.

“Dit lewer 'n kritiese bydrae tot die uitbou van die internasionale reputasie van die US as 'n uitnemende navorsingsuniversiteit, en maak 'n wesenlike bydrae tot die US se jaarlikse inkomste," het Cloete gesê.

Musango en Adjasi is bekroon met toekennings in die kategorie “aantal doktorsgrade afgelewer ", terwyl Pillay hare ontvang het vir haar aantal navorsingsuitsette.

  • Foto's (v.l.n.r.): Wenners van die Kanselierstoekenning, mev. Gretchen Arangies en prof Andrie Schoombee; proff Solosh Pillay en Josephine Musango (ontvangers van toekennings vir Uitnemendheid in Navorsing); en dr Sharon Malan, wat vir Uitnemendheid in Onderrig vereer is. Prof Charles Adjasi van USB is ook vir Navorsingsuitnemendheid vereer, maar was in die buiteland toe die toekennings oorhandig is.