Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet Dr Insekboer!
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/01/2020

Ontmoet dr Michael Woods, bes moontlik die hoogs gekwalifiseerde insekboer in die wêreld. Vir sy doktorsgraad in veekundige wetenskappe het hy navorsing gedoen oor hoe om insekte die beste moontlik te versorg en te voed sodat daar op groot skaal met hulle geboer kan word.

Woods het op 12 Desember 2019 sy doktorsgraad in veekundige wetenskappe tydens ʼn gradeplegtigheidsgeleentheid van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang. Hy is die eerste persoon om ʼn PhD te verwerf in die massaboerdery van insekte en hoe om hulle verder te prosesseer tot bruikbare byprodukte.

Groeiende nismark

Volgens voorspellings sal die gebruik van insekte in die dierevoermark teen 2030 meer as 2 300 miljoen Amerikaanse dollar sterk wees, en die verskaffing van insekte aan die voedsel- en voedingsbedryf op 8 000 miljoen Amerikaanse dollar staan.

“Dis die vinnigste groeiende landboubedryf tans in die wêreld," vertel Woods, wat op Saldanha groot geword, in 2010 aan Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer het en daarna ʼn BSc en ʼn MSc in Veekundige Wetenskappe aan die US verwerf het.

“Ons besef toenemend die waarde van insekte as voedselbron vir plaasdiere en die mens, om peste en indringerplante te beheer, en om ons te help om van afvalkos en abattoirafval ontslae te kan raak sonder dat dit op die ashope hoef te land," vertel hy. “Om hierdie dienste te kan verskaf moet mens volhoubaar en op gereelde basis kwaliteit-insekte aan die mark kan verskaf. Dis waar grootskaalse insekboerdery inkom."

Elke deeltjie waardevol

Woods bestudeer insekboerdery reeds sedert sy meestersgraadjare aan die US, nadat hy besef het dat dit ʼn nismark is wat groot besigheidsgeleenthede bied.

Vir sy MSc het hy spesifiek gekyk na insekvoeding, en watter verskillende diëte inseklarwes gevoer moet word om die beste moontlike eindprodukte te kan lewer. Sy konsultasiewerk hieroor sedertdien het hom reeds na by die 20 lande geneem.

“Om met insekte te boer is in baie opsigte soortgelyk aan die intensiewe produksie van vee. Net so speel voeding speel ʼn groot rol in die sukses sowel as die koste van die produksie van insekte. Net soos varke en hoenders het insekte ook spesifieke voedingstowwe of nutriënte nodig om te floreer, wat mens in hul kos moet kan verskaf," vertel Woods. “Die lekkerte van insekte is dat mens net glad nie soveel spasie nodig het om grootskaals met hulle te boer nie."

“Insekte bestaan basies uit drie dele: vet, proteïene en ʼn bietjie chitien," verduidelik hy verder. “Elke deel is waardevol, en kan nuttig gebruik word."

As deel van sy doktorsgraadstudies het Woods ʼn bestaande hidroliseproses wat ensieme gebruik aangepas. Daardeur kan vet, proteïene en chitien ten beste afsonderlik onttrek word uit die inseklarwes waarmee hy boer. Die proteïen kan byvoorbeeld gebruik word in dierevoer, of in voedsame aanvullings vir mense. Die chitien kan omskep word in bioafbreekbare verpakking of filters.

Woods het hierdie deel van sy navorsingswerk voltooi onder leiding van sy hoofstudieleier, dr Elsje Pieterse van die US Departement Veekundige Wetenskappe, en dr Neill Goosen van die US Departement Prosesingenieurswese. Saam het hulle ook nou vir Susento (wat vir “sustainability through entomology" staan) gestig. Die maatskappy, wat nog in sy babaskoene is, word ondersteun deur Innovus, die US se innovasiemaatskappy wat verantwoordelik is vir die kommersialisering en beskerming van idees wat uit die US se werksaamhede ontstaan.

ʼn Handvol maatskappye in Suid-Afrika is reeds besig met insekboerdery, hoofsaaklik om as voedselbron vir die dieremark te dien, of as deel van pesbeheerprogramme. Susento is na Woods se kennis die eerste wat ʼn “totale waardeketting" aanslag het, en in alle velde van insekboerdery betrokke sal wees tot by die verskaffing van by-produkte. Die maatskappy gaan ook diëte ontwikkel vir insekte wat in massas geteel moet word as deel van geïntegreerde pesbeheerprogramme of as voer, vir die lewering van vesel (byvoorbeeld sywurms) of as voedselbronne (soos mopaniewurms). Daar sal ook met insekte vir die troeteldierbedryf geboer word, en veral venstervlieë sal in verskillende byprodukte verwerk word.

Woods bedryf reeds ʼn eksperimentele eenheid op die Fakulteit AgriWetenskappe se Mariendahl Proefplaas buite Stellenbosch wat tot 30 kilogram venstervlieglarwes per dag lewer. Hy beplan egter ʼn loodseenheid op Mariendahl wat ʼn ton larwes per dag kan lewer, tesame met ʼn prosesseringsaanleg. Weldra hoop hy om selfs groter eenhede op die been te bring.

Woods sê hy het die larwes van venstervlieë gekies omdat hulle nie ʼn pes is nie, nie siektes versprei nie en ook nie in huise voorkom nie.

“Hulle is so skadeloos soos erdwurms," vertel hy.

Hy sal ook kleinskaals met meelwurms en krieke boer, wat as voedsel vir die troeteldiermark gelewer kan word.

Wêreldkenner

Woods se studieleier, dr Elsje Pieterse, word beskou as een van die voorste kenners op die gebied van insekboerdery ter wêreld. Dié plaaskind van Namibië speel al sedert haar studentejare meer as 30 jaar terug met die idee om insekte as ʼn alternatiewe, minder waterintensiewe en waterbesoedelende bron van proteïene in veral pluimveevoer te gebruik. Sy het in 2007 met navorsing daaroor aan die US begin. Sedertdien het 21 nagraadse studente reeds onder haar leiding gegradueer met navorsing oor verwante onderwerpe, met ʼn verdere nege wat tans besig is om aspekte van insekboerdery te ondersoek.

Woods is haar eerste PhD-student wat sy doktorale studies in dié veld voltooi. Een van Pieterse se MSc-studente, Mari van Aswegen, gradueer ook in Desember. Sy het navorsing gedoen oor hoe mens danksy koperbrommers yster en proteïne uit abattoirafval kan oes en dit dan in hoendervoer kan gebruik.

Dr Pieterse vertel dat insekboerdery geensins water – of brandstofintensief nie.

“'n Mens kan grootskaals op ʼn baie klein stukkie grond daarmee boer. So kan ʼn mens tot 7500 keer meer proteïene per hektaar produseer in vergelyking met ʼn hektaar soja. Hulle is ook minder waterintensief om mee te boer as soja. Om die waarheid te sê, daar is ʼn nettowins van water as mens met venstervlieë boer, want die waterdamp wat hulle vrystel kan deur kondensasie opgevang word."

Sy sê dis voordelig vir die omgewing om insekte te gebruik om byvoorbeeld vrugtepulp en skille wat by kos- en sap fabrieke ophoop af te breek. Kos wat op afvalhope ontbind stel metaangas vry, wat sleg is vir die omgewing. Dieselfde gebeur nie wanneer insekte oorskietkosse afbreek en verteer nie. Kos wat maande in die grond kan lê voordat dit ontbind kan deur insekte binne dae opgebruik word.

Insekte gaar goeie omega 3-vetsure op as hulle op afval uit visfabrieke teer, en gaar yster op uit abattoirafval. Wanneer insekte in dierevoeding omskep word, verhoog hulle weer die vetsuur- of ystersamestelling van die diere se vleis.

Pieterse se studies het gewys dat hoenders wat venstervlieglarwes vreet meer en groter eiers met sterker doppe lewer. Vleis wat geproduseer is van diere wat insekte gevreet is ook sappiger weens ʼn verhoogde waterbindingskapasiteit. 

Dr Pieterse reken ook daar moet meer werk gemaak word van die antimikrobiese peptiede wat insekte produseer, want dit sou as alternatiewe tot antibiotika in die behandeling van infeksies gebruik kan word. Louriensuur in insekte is dieselfde vetsuur as wat in klapperolie voorkom,  en kan die immuunstelsel versterk. Die waarde daarvan vir die kosmetiekbedryf word ondersoek.

Insekte as voedselbron

“Die mensdom se groeiende vraag na bronne van proteïen is meer as waaraan boere kan voorsien uit bestaande dier- en plantbronne. Insekte het die vermoë om hierdie gaping te vul, en daarom is insekboerdery toenemend belangrik," reken Woods.

Hy weet dat baie mense hul neuse sal optrek by die idee van insekte eet. “Dis veral mense met ʼn Westerse ingesteldheid wat so dink. Onthou, daar's baie lande waar mense lank reeds insekte eet. Interessant genoeg word voorspel dat die bevolkingsgroei die hoogste gaan wees in lande waar mense juis reeds insekte eet," vertel Woods.

Hy sê produkte wat vir die Westerse mark geproduseer word, soos byvoorbeeld ʼn kriekgebaseerde energiestafie uit Australië, bestaan gewoonlik nie uit heel insekte nie, en word eerder as proteïenmeel en in maaltye waarvan dit slegs een van talle bestanddele is gebruik.

Een van dr Pieterse se huidige PhD-studente, Leah Bessa, maak reeds onder die handelsmerk Gourmet Grubb suiwelvrye roomys van venstervlieglarwes.

Woods sê die smaak van ʼn insek word bepaal deur wat dit vreet en hoe dit geproduseer word. So is die proteïenpoeier wat van venstervlieglarwes gemaak word maar vaal in kleur en smaak, en daar kan dus gemaklik geurmiddels bygevoeg word.

Hy sê die aminosuurprofiel van insekproteïen vergelyk goed met die daaglikse behoefte daarin van diere soos varke en hoenders, en selfs mense. Dis makliker verteerbaar en word makliker deur die liggaam opgeneem teen ʼn laer metaboliese koste as ander proteïene, veral plantgebaseerde proteïnes. Sprinkane, sywurms en krieke bevat vyf keer meer antioksidante (wat die afbreek van die liggaam se selle keer) as lemoensap of olyfolie.

“Die ingeligte verbruiker wat al hierdie dinge weet sal heel moontlik oor die grilfaktor daarvan kom, en fokus op die voordele van insekmeel en poeiers," reken Woods.

Onderskrif vir foto's bo:

Links en middel, dr Michael Woods met van die venstervlieg-larwes waarmee hy boer (foto's deur Engela Duvenage), en regs, so lyk ʼn volwasse venstervlieg (foto deur Nina Parry).