Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ochodo ontvang toonaangewende Afrika Navorsingsleierskap-toekenning
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 06/01/2020

​Dr Eleanor Ochodo, 'n seniornavorser en dosent in die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg, is een van vier “opkomende sterre en toekomstige navorsingsleiers" wat 'n wesenlike befondsingstoekenning sal ontvang vir navorsing wat daarop gemik is om prioriteits-gesondheidvraagstukke in Sub-Sahara Afrika aan te spreek.

Ochodo, wat by die Departement Globale Gesondheid gesetel is, is een van vier ontvangers van 'n besonder luisterryke toekenning – en een waarvoor die kompetisie besonder straf is – naamlik die 2019 Afrika Navorsingsleierskap-toekenning van die Verenigde Koninkryk (VK) se Mediese Navorsingsraad en die VK Departement vir Internasionale Ontwikkeling (DFID).

Dit word jaarliks toegeken en is daarop gemik om “leierskap in navorsing te versterk dwarsdeur Afrika suid van die Sahara deur uitsonderlike talentvolle individue te lok en te behou, wat aan die hoof sal staan van hoë-gehalte navorsingsprogramme op die gebied van globale kern-gesondheidkwessies wat relevant is vir die gebied."

“Ek is opgewonde daaroor dat ek 'n luisterryke toekenning ontvang het waarvoor daar sterk kompetisie is en dat ek dit kan gebruik om die wetenskap van bewys-sintese en die omskakeling van navorsing in beleid in Afrika kan bevorder," het sy gesê.

Ochodo se navorsingveld is bewysgebaseerde gesondheidsorg met 'n spesifieke fokus op diagnostiese toetse en merkers. Sy fokus spesifiek op die akkuraatheid van diagnostiese toetse en merkers, hulle impak op pasiënte, en hoe die resultate omgeskakel kan word in beide praktyk en beleid. Sy was voorheen die ontvanger van navorsingstoekennings van die Wêreld Gesondheidsorganisasie en die Wellcome Trust Stigting en het al wyd gepubliseer in plaaslike en internasionale joernale.

Haar aanbieding vir die Afrika Navorsingsleierskap-toekenning was getiteld "Research to Policy in Africa: evidence synthesis for building a translation pipeline to eliminate infectious diseases".

Sy het gesê dat sy die vier-jaar lange befondsing sou gebruik vir 'n projek wat daarop gemik is om navorsingsbevindings in beleid te omskep deur middel van die opsomming en integrasie uit verskillende velde. Die projek behels samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch, Kenia Mediese Navorsingsinstituut en die Liverpool Skool vir Tropiese Geneeskunde.

Sy het uitgebrei oor presies wat die befondsing sou behels, en het die volgende te sê gehad: “Aansteeklike siektes soos MIV, tuberkulose en malaria veroorsaak steeds aansienlike siekte en sterftes in Afrika. Deur MIV, tuberkulose en malaria as voorbeelde te gebruik, is hierdie projek daarop gemik om op 'n formele vlak 'n benadering te ontwikkel wat navorsings-bevindings in beleid kan verander deur die opsomming en integrasie van navorsingsbevindings uit verskillende velde.

“Beleidmakers vereis gewoonlik navorsingsbewyse uit baie verskillende velde voor hulle besluite maak waarin hulle gesondheidsintervensies aanbeveel. Op die oomblik word die grootste deel van gesondheidsbeleide op globale vlak bepaal. Daar is 'n behoefte vir die aanpassing van globale riglyne om die nasionale behoeftes van lande in Afrika te akkommodeer. My beoogde werk is daarop gemik om nuwe metodes daar te stel om navorsing te integreer uit verskillende bronne deur middel van die aanpassing van globale riglyne."

Ochodo het opleiding ontvang as 'n mediese dokter in Nairobi, Kenia voordat sy 'n nagraadse sertifikaat in Aansteeklike Siektes van die Universiteit van Edinburgh en 'n MSc in Internasionale Gesondheid van die Vrije Universiteit in Amsterdam en 'n PhD in Kliniese Epidemiologie van die Universiteit van Amsterdam ontvang het.

Daarna het sy na Suid-Afrika verhuis om in die Departement Globale Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch te werk.

“Op hierdie punt in my loopbaan, na ek my studie voltooi het wat deur die Wellcome Trust befonds is, is ek gereed om 'n program van wetenskap en suid-tot-suid navorsingsnetwerke in bewys-sintese en implementeringswetenskap daar te stel. Ek is baie opgewonde dat hierdie nuwe MNR-toekenning daardie platform sal verskaf.​

“Ek voel geëerd en is baie opgewonde dat daar 'n platform aan my gegee is om die volgende dinge te bevorder: die wetenskap, metodes en kapasiteit van bewys-sintese en toepassing van navorsing in Afrika."