Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alles gereed vir Tuiskoms 2020
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 24/12/2019

​Die Universiteit se Tuiskoms-en-Familienaweek vir alumni vind vanaf 5 tot 9 Maart 2020 op ons skilderagtige Stellenboschkampus plaas. Ons sien uit daarna om jou terug te verwelkom op die kampus en beplan verskeie geleenthede spesiaal vir jou.​

Ons het ook ’n wye reeks Woordfees-geleenthede ingesluit as deel van Tuiskomsnaweek en as alumni kry jy natuurlik spesiale afslag op ’n verskeidenheid van 50 Woordfees-produksies.

Kyk gerus waarna jy alles kan uitsien oor Tuiskomsnaweek:

 

Donderdag 5 Maart om 18:00

Tuiskoms-leierskapsberaad
Hoe lei jy ’n onderneming, gemeenskap of span in krisistye? Ons het ’n paar inspirerende leiers uitgenooi om hul gedagtes oor Leierskap in krisistye met jou te deel by ons Tuiskomsleierskapsberaad.

 

Vrydag 6 Maart om 18:00
Tuiskoms-ete by Die Stal
Jy word uitgenooi na ons Tuiskoms-langtafelete onder die eikebome by Coetzenburg se Die Stal, die onlangs opgeknapte Alumni-klub. As jy in 1970, 1980, 1990, 2000 of 2010 ’n eerstejaar-Matie was, kry jou vriende hier en kom deel in ons Grootste Reünie ooit. Verwag ’n heerlike makietie en goeie geselskap!

 

Saterdag 7 Maart om 08:00
Tuiskoms-parkdraf
Vir die fikses en amper-fikses onder ons duur die feestelikhede voort by ons Tuiskomsparkdraf. Ons sluit by die organiseerder van die Kayamandi-parkdraf aan, so trek jou maroen aan en bring jou gesin saam, die vierbeenfamilie ook. Hardloop, draf of stap die 5 km saam met ons.


Saterdag 7 Maart om 10:30
Kom vir tee by Die Stal op Saterdag 7 Maart om 10:30. Kampustoere vertrek vanaf 11:00 vanaf Die Stal, per fiets, tuk-tuks en te voet. Hierdie toere sluit stoppe by koshuise en fakulteite in.

 

Saterdag 7 Maart 2020
Jaargroep-reünies
Op Saterdag 7 Maart word daar verskeie kleiner jaargroep-reünies by spesifieke koshuise gehou. Kontak gerus jou koshuis vir meer inligting.

 

Saterdag 7 Maart 2020
Harmonie Dameskoshuis vier hul 115-jarige bestaan op Saterdag 7 Maart in 2020!

 

Saterdag 7 Maart 2020
Helderberg Wynveiling
Vertrou hulle om almal welkom te laat voel - die jaarlikse Helderberg Wynveiling vind op Saterdag 7 Maart om 18:30 plaas. Vir meer inligting hieroor, kontak vir Matthew Odendaal by 19874472@sun.ac.za.

 

Sondag 8 Maart 2020
2020 Kaapstad-fietstoer
Het jy al vir die Kaapstad-fietstoer ingeskryf? Op Sondag 8 Maart, kan jy die fietstoer saam met die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, sy seun Braam en dogter Gera, aanpak ter ondersteuning van die #Move4Food-veldtog. Geniet die afdraande-pret en die Suikerbossie-trap, die fondsinsameling, en die kameraadskap uitgevat in ’n spesiale #Move4Food-fietsryhemp. Kom, maak
’n draai by ons gasvryheidstent ná die fietsrit vir ’n goeie masseer-sessie, alles vir ’n goeie doel.

Inskrywings vir alumni-fondswerwers is reeds te koop. Stuur gerus ’n e-pos aan ontwikkeling@sun.ac.za vir meer inligting.

 

Maandag 9 Maart om 14:00
Rugbykapteinsmiddagete
As ’n spesiale fondsinsameling vir die Craven Beursfonds bied ons die Rugbykapteinsmiddagete. Kom luister hoe voormalige Maties- en Ikeys-rugbykapteins en -spelers hul spesiale wedstryd-herinneringe deel en geniet middagete onder die eikebome by Die Stal.

Vir meer inligting, kontak dfvandyk@sun.ac.za. 

 

Maandag 9 Maart om 18:00
Maties XV teen Ikeys XV
Sportliefhebbers kan uitsien na ’n opwindende rugbywedstryd wanneer die Maties XV en die Ikeys
XV mekaar by die Danie Craven-stadion in die Varsitybeker-toernooi pak. Bespreek jou kaartjie vir die
wedstryd betyds deur Webtickets, aangesien die gewilde Varsitybeker-toernooi ’n kragmeting soos geen ander is nie. Jy is ook welkom om die Alumni-klub by Die Stal of die Maties Rugby-klubhuis in die stadion voor en ná die wedstryd te besoek.

http://ww.webtickets.co.za