Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe direkteur van die Skool vir Rekeningkunde streef na topstatus
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/12/2019

​Met die onlangse aanstelling van prof Pieter von Wielligh as die nuwe direkteur van die Skool vir Rekeningkunde, verbaas dit 'n mens glad nie om te hoor dat dié deurwinterde Matie vasbeslote is om die skool as die nommer een keuse vir rekeningkundestudente in Suid-Afrika te vestig nie.

Von Wielligh het op 1 Augustus 2019 oorgeneem by die afgetrede prof Pierre Olivier, wat meer as 15 jaar in die pos was.

“Ek is my voorganger, wat ook in baie opsigte my mentor en 'n vriend is, ewig dankbaar," het Von Wielligh gesê. “Prof Olivier het 'n fundamentele en deurslaggewende rol gespeel in die geskiedenis van die Skool vir Rekeningkunde. Onder sy visioenêre leierskap en bestuur het ons gegroei van 'n redelike klein vis in die dam van universiteite wat deur professionele liggame geakkrediteer is, tot 'n sleutelspeler in die opleiding van professionele rekenmeesters in Suid-Afrika. "

Aangesien hy voorheen vir 15 maande as waarnemende direkteur ingestaan het, is die posisie soos hy hom dit voorgestel het, sê hy.

“Ek geniet die uitdagings en omgewing wat my nuwe rol bied terdeë. Om in beheer van meer as 90 personeellede te wees, is uiters bevredigend, hoewel dit natuurlik ook met uitdagings gepaard gaan. Verder geniet ek dit om direk betrokke te wees by die bestuur van die fakulteit.

“Toe ek die akademie betree het, wou ek hoofsaaklik klasgee en die toekoms vir studente op my eie manier probeer verander. Ek het nooit kon droom dat ek myself in 'n pos sou bevind wat soveel vertroue en verantwoordelikheid verg as dié van die direkteur van die skool nie. Dis met nederige waardering vir die verantwoordelikheid wat aan my toevertrou is dat ek hopelik 'n meer verreikende bydrae kan lewer tot dit waarin ek regtig glo, naamlik die bemagtigende impak van onderwys in die samelewing," het hy bygevoeg.

Von Wielligh se betrokkenheid by die skool het op 1 Augustus 2000 begin toe hy as senior lektor in die destydse Departement Rekeningkunde aangestel is. Hy het sy doktorsgraad in 2005 verwerf en is op 1 September 2008 tot vol professor bevorder. In 2016 word hy die adjunkdirekteur van Leer en Onderrig van die Skool vir Rekeningkunde.

Dié US-alumnus – hy het sy BRek (cum laude), BRek Hons (cum laude), MRek- en PhD-studies aan sy alma mater voltooi – skroom nie om sy visie vir die Skool vir Rekeningkunde uiteen te sit nie.

“Ek wil hê dat die skool die eerste keuse vir voornemende rekeningkundestudente van regoor Suid-Afrika word. Ek wil sien dat die skool se afgeronde alumni deurlopend uitstekende slaagsyfers in professionele eksamens behaal en goed toegerus sal wees vir die uitdagings wat die vierde industriële rewolusie bied."

Hy sê nog 'n doelwit is dat die skool 'n tasbare verskil sal maak in die plaaslike en nasionale samelewing deur middel van sy navorsings- en maatskaplike impakinisiatiewe.

Hy glo dat 'n gelukkige werksplek noodsaaklik is vir 'n gelukkige arbeidsmag. Hy wil 'n werksomgewing skep waar personeel as 'n span saamwerk en waar “insette, verskillende standpunte en selfs meningsverskille gesien word as positiewe bydraers tot die gesprek wat so 'n belangrike element van die akademie is".

Dié voormalige leerder van die Hoërskool DF Malan tel onder sy helde wyle Nelson Mandela en Desmond Smith, die vorige besturende direkteur van Sanlam en een van sy mentors.

“My definisie van sukses is om die beste te doen met die talente waarmee ek geseën is. Ek is 'n gedrewe en ambisieuse persoon in beide my loopbaan en persoonlike lewe en glo regtig dat ambisie sukses stimuleer," het hy gesê.

Von Wielligh is 'n ywerige padloper en stapper en sorg dat hy ten minste een keer per jaar die wit strande van die Griekse Eilande besoek.

  • Foto verskaf deur die Skool vir Rekeningkunde: Prof Pieter von Wielligh