Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste vrouebaas van aandelebeurs tree by alumnifunksie op
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/12/2019

Me Nicky Newton-King, die eerste vroulike uitvoerende hoof in die 132-jarige bestaan van die Johannesburgse Aandelebeurs  (JSE), was die spesiale gas by die jaarlikse geleentheid vir alumni en graduandi van die Fakuteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Dié funksie is Maandag, 9 Desember 2019 gehou.

Newton-King, 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch, is 'n prokureur wat spesialiseer in korporatiewe finansies en sekuriteitsregulering. Sy het in 1996 by die JSE aangesluit en het Russel Loubser in Januarie 2012 as uitvoerende hoof opgevolg. Op 1 Oktober vanjaar het sy uit hierdie posisie getree.

In haar verwelkomingsrede het prof Ingrid Woolard, dekaan van Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, aangekondig dat 1 676 studente hierdie jaar gradueer – 'n nuwe rekord vir die fakulteit.

“Ons is ongelooflik studentgerig en trots op die goeie resultate van studente in hierdie fakulteit. Ons het 'n slaagsyfer van 85% in al ons modules aangeteken. Dit spreek boekdele van die toewyding van ons personeel en 'n kultuur onder ons studente wat dui op 'n begeerte om te leer en deel te neem," het sy gesê.

Woolard het die alumni bedank vir die goeie werk wat hulle as ambassadeurs vir die fakulteit doen.

“Ons is bly dat julle steeds met die universiteit en die fakulteit identifiseer. Dit is 'n riem onder die hart dat julle mense van hierdie buitengewone plek vertel waar jongmense kan studeer. Ons wil hê dat dié boodskap na alle gemeenskappe uitgaan."

Dr Mike Lamont van die Departement Ondernemingsbestuur het daarna 'n gesprek met Newton-King gevoer. Hier is 'n paar van die vrae en antwoorde:

V: Die besigheid van die JSE en ander beurse dek 'n verskeidenheid aspekte – primêre en sekondêre markte, regulering, dataverkope, skakeling met ander aandelebeurse soos die Londense Aandelebeurs en, wat opleiding betref, die investering om die vaardighede van privaat individue te verbeter. Hoe het die sakebedrywighede van die JSE in werklikheid verander sedert sy notering?

A: Notering was die beste ding wat ons kon doen omdat dit die bestuur op hul tone hou.  Toe ander aandelebeurse  gelisensieer is, het dit nie 'n groot impak op ons gehad nie, want ons het toe reeds oor die ondervinding beskik om 'n kommersiële onderneming te bestuur. Die verwagting dat ondernemings na jou toe sal kom, bestaan glad nie in die JSE-omgewing nie. Jy moet meeding vir besigheid. En wie wen as jy 'n behoorlike onderneming bedryf? Die kliënte wen. Ek glo dus vas in beurse en die dissipline wat gepaard gaan met notering, want ek reken deursigtigheid bevorder bestuur se aanspreeklikheid.

V: Hoe skei die JSE sy rolle as 'n winsgewende entiteit en 'n reguleerder?

A : Ek glo vas dat 'n beurs 'n reguleerder moet wees. As 'n reguleerder probeer jy standaarde stel wat objektief verifieerbaar is en voorsien jy beleggers met voldoende inligting om beleggingsbesluite te neem. As 'n selfregulerende entiteit reguleer ons verhandeling, noterings, en algemene compliance van deelnemers wat onder ons purview. Dit is belangrik vir reguleerders om op te staan wanneer daar nie meer aan standaarde voldoen word nie. Maar ek dink daar is 'n geleentheid vir ons om die finansiering van entrepreneurs te fasiliteer ten einde die ekonomie aan die groei te kry. Ons gaan nie net in groot maatskappye investeer nie; ons moet ook in kleiner maatskappye investeer waar daar groter risiko's is.

V: Wat doen jy om te verseker dat die direksies van AltX (die JSE se kleinkapitalisasiebeurs) werk?

A: Die kwessie rakende klein ondernemingsdireksies is dat die entrepreneurs eerstens nie beheer wil prysgee nie, en dis presies wat jy moet doen as jy na 'n openbare mark kom. Die tweede punt is dat dit duur is om genoteer te word; nie noodwendig weens die JSE se fooi nie, maar die fooie verbonde aan die gebruik van raadgewers. Myns insiens moet klein entrepreneurs hulself bemagtig en 'n tegniek genaamd 'n direkte notering oorweeg. Maatskappye se aansluiting by die effektebeurs kan dikwels seepglad verloop.  

  • ​Foto deur Henk Oets: V.l.n.r. is prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, me Nicky Newton-King en dr Mike Lamont van die Departement Ondernemingsbestuur.