Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreld lê wyd oop vir US se eerste Internasionale Besigheid-graduandi
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 10/12/2019

'n Spesiale groep studente sal vanaand by die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede Desember 2019-gradeplegtigheid vereer word, wanneer die eerste groep van 22 studente van die BCom (Internasionale Besigheid)-klas hul grade ontvang.

Die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het in 2016 hierdie innoverende program – 'n vier jaar lange BCom (Internasionale Besigheid bekendgestel. Die program is daarop gemik om gegradueerdes te lewer wat toegerus sal wees om rolspelers in die internasionale kennisekonomie te word. Dit was belyn met die US se visie om 'n universiteit van wêreldgehalte te wees wat geleenthede vir studente skep om meer met die wêreld verbind te wees.

Die grade sal vanaand (Maandagaand, 9 Desember 2019) aan die 22 suksesvolle baanbreker-studente by die US se tweede gradeplegtigheid toegeken word.

Volgens die programkoördineerder, prof Pierre Erasmus, is hierdie program die eerste van sy soort in Suid-Afrika en 'n voorloper in sake-opleiding op voorgraadse vlak in die land.

“Die vier jaar lange Baccalaureus-program spreek die behoefte aan om studente te lewer wat toegerus is om rolspelers in die internasionale kennisekonomie te word. Dit bied studente blootstelling aan en ontwikkel hul globale ingesteldheid deur 'n omvattende en internasionaal-georiënteerde leerplan."

Gedurende die program van vier jaar, word studente blootgestel aan 'n multikulturele ondervinding en kry hulle die geleentheid om 'n netwerk met studente in ander dele van die wêreld deur middel van 'n gestruktureerde uitruilprogram te bou.

“Ek het die afgelope vier jaar baie ongelooflike mense ontmoet, verhoudings gebou en in die proses baie oor myself geleer. Die idee om een van die eerstes te wees om hierdie graad te ontvang en die werksmark daarmee te betree, is baie opwindend," sê Alexandra Haines, een van die graduandi van die program.

Om een van die eerste graduandi van hierdie program te wees, het volgens Haines, ook vir haar en haar klasmaats baie geleenthede geskep om terugvoer en insette oor die program te gee. Sy hoop dit sal help met die ontwikkeling en toekomstige groei van die kursus.

Studente het as deel van die graadprogram ook die geleentheid gekry om in hul derde jaar 'n uitruilsemester te onderneem – iets waarna Irmilee Uys baie uitgesien het.

“Dit was nog altyd my droom om vir 'n internasionale maatskappy te werk. Die oomblik toe ek van hierdie eksklusiewe kursus hoor wat studente aan verskeie aspekte van die sakewêreld blootstel, het ek onmiddellik geweet dat dit presies was wat ek wou doen."

Sy beskryf haar uitruilsemester wat sy in haar derde jaar by die Tegniese Universiteit van München (TUM) in Duitsland deurgebring het, as 'n lewensveranderende ondervinding.

 “Ek voel baie bevoorreg om by TUM, wat as een van die beste universiteite in die wêreld beskou word, te kon studeer. Gedurende my uitruilsemester het ek ook baie oor die werklike sakewêreld geleer aangesien ek 'n internskap by die internasionale maatskappy Siemens in Duitsland kon voltooi. Ek het gedurende die internskap baie lang ure gewerk, maar elke oomblik was lonend. Teen die einde van my internskap kon ek vlot Duits praat."

Beide Haines en Uys beplan om hul meestersgrade oorsee te voltooi.

Hier is n kort beskrywing van die program en die toelatingsvereistes:

Die BCom (Internasionale Besigheid)-graad:

  • is 'n vier jaar lange program;
  • sluit 'n uitruilsemester gedurende die derdejaar in (studente skryf by 'n vennoot-universiteit oorsee in);
  • bestaan uit BCom-, Regsgeleerdheid- en Sosiale Wetenskap-modules;
  • sluit n vreemde taal (Chinees, Duits of Frans) in die eerstejaar in;
  • is 'n keuringsprogram aangesien net 30 plekke beskikbaar is; en
  • word net in Engels aangebied.

Toelatingsvereistes sluit in:

  • Algehele NSS-gemiddeld van ten minste 60% (Lewensoriëntering uitgesluit)
  • Wiskunde 60%
  • Engels Huistaal 60% OF Enges Eerste Bykomende Taal 70%

Vir meer inligting oor die BCom (Internasionale Besigheid)-program, klik hier. ​

Foto deur Stefan Els.