Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Paartjie by Ingenieurswese vang saam graad
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 09/12/2019

​Die vreugdevure brand hoog vir drs Wouter en Louzanne Bam, 'n egpaar wat saam hul doktorsgrade in Ingenieurswese op dieselfde gradeplegtigheid ontvang het.

Die twee het nie net saam graad gevang nie, maar Wouter het ook 'n gesamentlike graad ontvang, naamlik 'n PhD in Bedryfsingenieurs by die Universiteit Stellenbosch (US) en 'n PhD in Ekonomie van KU Leuven. Louzanne het 'n PhD in Bedryfsingenieurswese ontvang.

Die egpaar, wat albei dosente in die Fakulteit Ingenieurswese is, was deel van die 623 graduandi wat hul kwalifikasies op 9 Desember 2019 tydens die gradeplegtigheid vir die Fakulteit Ingenieurswese ontvang het.

Wouter sê om 'n gesamentlike graad te doen was 'n verrykende ervaring omdat dit hom blootgestel het aan die interdissiplinêre kennis van albei universiteite.

“Die enigste 'uitdaging' van 'n gesamentlike graad is dat jy aan die vereistes van albei universiteite moet voldoen. Dit beteken, byvoorbeeld, dat daar 'n groter paneel was vir my mondelinge eksamen, met verteenwoordigers van albei universiteite, sodat ons aan die vereistes vir albei instellings kon voldoen," sê hy.

Wouter se navorsing fokus op bedryfsbeleidmaking in mineraalryke ontwikkelende lande met 'n fokus op beleid wat die toegevoegde waarde van minerale produkte bevorder voordat dit uitgevoer word. Hy het ondersoek ingestel na hoe minerale waardekettings gekonseptualiseer kan word om 'n holistiese kontekstualisering van so 'n beleid te bewerkstellig.

Al is hy in wese 'n ingenieur, was Wouter nogal altyd ook in die ekonomie geïnteresseerd. Nadat hy 'n BEng (Bedryfsingenieurswese) cum laude in 2012 aan die US voltooi het, het sy belangstelling in ekonomie tot 'n meestersgraad aan die Cambridge-universiteit gelei. “Die navorsing vir my meestersgraad het gehandel oor die lewensvatbaarheid van hernubare chemiese veevoer-waardekettings. Nadat ek my meestersgraad voltooi het, het ek naïef gereken dat 'n ondersoek na die vraag of mineraalryke ontwikkelende lande hul minerale plaaslik moet veredel, 'n natuurlike progressie van my meestersgraad sou wees," voeg hy by.

“Dit draai toe uit dat my onderwerp, wat die kwessie oor of dit beter is vir lande om uit te voer of hul eie rou materiaal te prosesseer, meer kompleks was as wat ek verwag het," sê Wouter.

Op haar beurt was Louzanne se navorsingsbelangstelling deur die woord “kreatiwiteit" geïnspireer.

“Toe ek op hoërskool was, het ek geen idee gehad wat ek ná matriek wou doen nie. Maar op 'n dag vang 'n advertensie in 'n koerant my oog. Dit het gesê as jy kreatief is en van Wiskunde hou, moet jy oorweeg om ingenieurswese te studeer. Dit het my belangstelling geprikkel, en nadat ek die Stellenbosch Ingenieurswese-winterskool in my matriekjaar bygewoon het, was ek oortuig om Bedryfsingenieurswese te studeer," sê sy.

Vir haar PhD-navorsing het Louzanne gefokus op die fundamentele elemente van 'n bestuursraamwerk om spankreatiwiteit in ingenieursorganisasies te ondersteun.

“ 'n Paar jaar gelede het ek 'n praatjie oor kreatiwiteit by die US Sakeskool bygewoon en dit het my belangstelling in die vakgebied gestimuleer. Ek het baie gereflekteer op die belang van kreatiwiteit in ingenieurs se werk. Ingenieurs los probleme op, en kreatiwiteit speel beslis 'n bepalende rol in die probleemoplossingsproses.

Die perspektief wat in die navorsing aanvaar word, is dat kreatiwiteit op sigself nie 'n uitkoms is wat organisasie moet nastreef nie. Inteendeel, die punt is om bewus te wees van beperkende omstandighede wat spankreatiwiteit stimuleer om eerder 'n positiewe as 'n negatiewe uitkoms te hê; dit dui op 'n uiters beduidende uitkoms.