Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
George Claassen eerste ontvanger van US se Media Lewenslange Prestasie-toekenning
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/12/2019

Prof George Claassen, voormalige hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) en adjunkredakteur van Die Burger, is die eerste ontvanger van die US se Media Lewenslange Prestasie-toekenning.

  • Lees die volledige commendatio hier ​

Claassen (70) het Donderdag (5 Desember 2019) die toekenning tydens 'n geleentheid in die Wallenberg Navorsingsentrum by STIAS op Stellenbosch ontvang. By die geleentheid is toekennings gemaak aan US-personeel wat uitgestyg wat betref onderrig en navorsing en diegene wat hul navorsing en kundigheid met uitnemendheid aan en deur die media kommunikeer.

Mnr Martin Viljoen, Bestuurder: Media, het 'n commendatio tydens die geleentheid voorgelees en gesê dat Claassen met reg die vader van wetenskapskommunikasie in Afrika genoem kan word. “Hy het 'n diepgaande invloed gehad op sowel die joernalistiek as beroep en as studieveld."

Viljoen het bygevoeg dat Claassen uitgeblink het in wetenskapsjoernalistiek en die ombudstelsel as belangrike sfere van kontemporêre joernalistiek.

Hy was die eerste akademikus in joernalistiek in Suid-Afrika wat 'n kursus in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek ontwikkel het en eweknieë aan Amerikaanse universiteite beskou sy werk as van die beste op hierdie gebied.

“Claassen het die denke van 'n hele generasie joernaliste wat in Suid-Afrika en verder werksaam is, gevorm deur sy kennis oor wetenskapskommunikasie oor te dra en joernaliste die vaardigheid aan te leer om vals nuus en pseudowetenskap op te spoor. Hy het 'n blik op die media toekoms gehad  dienooreenkomstig voorberei, onder meer vir die ontploffing van sosiale media, vals nuus en propaganda wat op ons skerms verskyn. In baie opsigte het Claassen die aanslag gelei om die impak van hiervan op, in en van die media teë te werk, en dit het dus as geen verrassing gekom dat hy die organiseerder was van die eerste internasionale konferensie oor kwaksalwery en pseudowetenskap nie."

Claassen het ook wetenskapsjoernalistiek gekombineer met die vestiging van die eerste omvattende kursus in kulturele en wetenskaplike geletterdheid in die US se joernalistiekprogramme, terwyl hy baie aandag geskenk het aan die bevordering van omgewingsjoernalistiek en verslaggewing oor klimaatsverandering.

Claassen is sinoniem met die mediaombudsisteem op die vasteland, het Viljoen gesê. Hy het die media-ombudstelsel in Media24 opgerig en is tans, na sy uittrede uit die maatskappy, steeds ombud vir die maatskappy se gemeenskapskoerante en openbare redakteur van News24.

Hy was 'n bestuurslid van die International Organisation of News Ombudsmen and Readers' Editors, hy is 'n rubriekskrywer oor die onderwerp en organiseerder van en spreker by verskillende konferensies en simposia op internasionale skaal.

Op ouderdom 70 lyk dit nie of Claassen tekens van afskaling toon nie. Afgesien van sy werk as ombud, is hy 'n wetenskapskorrespondent vir die SAUK en doseer hy steeds aan die US se Departement Joernalistiek.

  • Benewens die Media Lewenslange Prestasie-t​oekenning, is US-personeel in die kategorieë Media Denkleier, Nuusmaker en Medewerker vereer. ​