Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2019 US-hoogtepunte video – hoe vinnig kan prof Wim praat?
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 05/12/2019

​“ʼn Groot dankie aan almal wat gehelp het om die Universiteit Stellenbosch (US) vorentoe te neem in 2019, nog ʼn jaar van hoogtepunte vir ons," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, in sy jaareind-videoboodskap aan personeellede, studente, alumni, skenkers, vennote en vriende van die instelling.

En dan probeer hy soveel moontlik hoogtepunte van die jaar in twee minute ingepas kry (geïnspireer deur Jacinda Ardern, Premier van Nieu-Seeland, se soortgelyke poging verlede maand). Kyk sy video om te sien of hy dit regkry! (Volledige teks hieronder.)

  1. Ons het 45 000 eerstejaarsaansoeke vir 2020 ontvang – 6 000 meer as verlede jaar. En die hoofrede wat aansoekers verskaf, is ons akademiese reputasie.
  2. Ons studente handhaaf steeds ʼn module-sukseskoers bó 86%, een van die hoogstes in die land.
  3. Geld wat vir beurse ingesamel word, het die afgelope vyf jaar met 82% toegeneem. Baie dankie aan almal wat ons studente ondersteun.
  4. Ons het meer as 9 000 kwalifikasies toegeken die afgelope akademiese jaar, 52% op nagraadse vlak, insluitend 308 doktorsgrade, 'n nuwe rekord.
  5. Ons is goed op dreef om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word, met ons nuwe Visie en Strategiese Raamwerk, wat vanjaar in werking getree het.
  6. Ons het verder opgang gemaak op die ranglys vir universiteite, wat die US onder die voorste 1% van universiteite wêreldwyd plaas. Ons Besigheidskool se MBA is nou no. 1 in Afrika.
  7. 473 van ons akademici beskik nou oor ʼn gradering van die Nasionale Navorsingstigting, ʼn toename van 92% die afgelope dekade.
  8. Ons het die afgelope tien jaar 127 patente geregistreer, die meeste in die land.
  9. Een van ons tweedejaarstudente het vanjaar ʼn groot prys gewen met háár uitvinding… ʼn eetbare strooitjie!
  10. Die Universiteit se elektrisiteitsverbruik het gedaal tot die vlak van 2008, ons waterverbruik is 51% laer en ons herwin 55% van ons afval.
  11. Ons het sewe nuwe alumni-kringe wêreldwyd op die been gebring, wat die totaal nou op 22 te staan bring.
  12. Die hoogste hof in die land het bevind ons Taalbeleid is “grondwetlik geregverdig".
  13. Ons bly verbind tot die gebruik van Afrikaans, tesame met Engels, as onderrigtale teen die agtergrond van inklusiwiteit en meertaligheid.
  14. Ons het ʼn groot skenking ontvang vir ʼn Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk.
  15. Die US Woordfees word volgende jaar vir die 21ste keer aangebied en is nou die grootste kunstefees in die land.
  16. Oudregter Edwin Cameron is as nuwe kanselier verkies. Hy volg dr Johann Rupert op, wat die Universiteit die afgelope dekade uitsonderlik gedien het.
  17. Meer as 400 van ons personeellede en 500 studente het die afgelope jaar altesame 138 000 diens-ure aan gemeenskappe gewy.
  18. Ons het 'n baie groot toekenning ontvang om beter behandeling vir kinders wat aan veelvoudige middelweerstandige tuberkulose ly, te ontwikkel.
  19. Ons Kampusvernuwingsprojek vorder goed. Ons 147 kapitaalprojekte wat tans aan die gang is maak van ons die grootste ontwikkelaar in die Wes-Kaap.
  20. Ons belê ook groot in IKT vir gemengde en hibriede leer en onderrig.
  21. Maties Rugby het wéér die Varsitybeker gewen! En ons wêreldkampioen Universiteitskoor sal volgende jaar hul titel in België gaan verdedig.

Prof De Villiers sluit af, op rustiger trant: “Dis vir my werklik ʼn eer om ons Universiteit te lei, en ek sien uit na my tweede termyn, wat in April begin. Sterkte met die laaste verpligtinge van 2019, waar jy jou ook al in die wêreld bevind. Geniet die rustyd wat voorlê, en alles van die beste vir 2020."​