Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fourie-verslag: bewerings teen Rektor ongegrond
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 02/12/2019

​2 Desember 2019

Mediaverklaring

Fourie-verslag: bewerings teen Rektor ongegrond 

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), is van enige blaam onthef ná 'n ondersoek na beweringe dat hy probeer inmeng het in die Konstitusionele Hof se gedingvoering rakende die US se Taalbeleid 2016, deur oudregter Edwin Cameron te probeer oorreed om die nominasie vir die Kanseliersverkiesing te aanvaar.

  • Kyk na 'n kort video hier.

Regter Burton Fourie het bevind dat “daar geen bewyse was ter ondersteuning van 'n bevinding dat die optrede van die Rektor rakende die nominasie van oudregter Cameron vir die amp van Kanselier van die Universiteit Stellenbosch 'n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie".

Regter Fourie se verslag is by die laaste Raadsvergadering van die jaar op 2 Desember ter tafel gelê. Lees die volledige verslag hier.

Hy skryf in die verslag: “Dit is my siening dat die [bogenoemde] feite en omstandighede, en veral die optrede van die Rektor, holisties beskou, nie aanleiding gee tot 'n redelike besorgdheid oor vooroordeel aan die kant van regter Cameron weens beïnvloeding deur prof De Villiers nie. Die bewyse toon hoogstens dat die Rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het – en selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die nominasie van 'n nuwe Kanselier te identifiseer. Regter Cameron, aan die ander kant, het homself eers vir nominasie beskikbaar gestel nadat toestemming van adv Heunis namens Gelyke Kanse ontvang is. 'n Oorsig van bewyse as 'n geheel dui, myns insiens, nie op onbehoorlike gedrag deur enige een van die twee rakende die nominasie van regter Cameron nie. Dit dui ook nie daarop dat hulle in enige stadium op enige manier opgetree het wat redelikerwys beskou kon word dat regter Cameron partydig in die Gelyke Kanse-gedingvoering was nie."

Ná deeglike oorweging van die verslag, het die Raad die volgende resolusie aanvaar:

  • dat die Raad kennis neem van die verslag deur afgetrede regter Burton Fourie, wat die relevante feite en bevindinge uiteensit van sy ondersoek na die klagte wat deur dr Leon Schreiber teen die Rektor aanhangig gemaak is;
  • dat die Raad oudregter Fourie se verslag, asook die samevatting daarvan, aanvaar dat “gegrond op die onderhoude en die dokumentasie wat aan [hom] beskikbaar gestel is, daar geen bewyse was ter ondersteuning van 'n bevinding dat die optrede van die Rektor rakende die nominasie van oudregter Cameron vir die amp van Kanselier van die Universiteit Stellenbosch 'n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie.";
  • dat die klaer van die uitkoms van die ondersoek in kennis gestel word;
  • dat die verslag in die publieke domein gestoor word; en
  • dat geen verdere stappe gedoen sal word rakende die Rektor se kontak met oudregter Cameron om hom te vra of hy homself as 'n kandidaat vir die US-kanselierskap beskikbaar sal stel nie, en dat die Raad die saak hiermee as afgehandel beskou.

Afgetrede regter Fourie is aangestel om 'n onafhanklike ondersoek te gelas ná 'n klagte teen prof De Villiers. In 'n brief aan die instelling op 24 Oktober 2019 het dr Leon Schreiber, 'n US-alumnus, die Raad, via die Registrateur, versoek om die bewerings te ondersoek dat prof De Villiers by die hofsaak probeer inmeng het deur regter Edwin Cameron te probeer oorreed om die die nominasie vir die Kanseliersverkiesing te aanvaar.

Dit volg nadat die Konstitusionele Hof op 10 Oktober 2019 eenparig in die guns van die Universiteit beslis het in die saak waarin die US die aansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014 Taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

Die Uitvoerende Komitee van die Raad (UK(R)) het by sy spesiale vergadering op 31 Oktober 2019 besluit om ʼn ondersoek te loods ooreenkomstig goeie beheer-en-bestuur en deursigtigheid. Die UK(R) het toe die afgetrede regter Burton Fourie aangestel om die ondersoek te onderneem. Voor sy aftrede in 2017, was hy ʼn jarelange en gerespekteerde lid van die Hoë Hof in die Wes-Kaap en waarnemende lid van die Hoogste Hof van Appèl.

Prof De Villiers – wat die UK(R) se besluit om die ondersoek te loods, verwelkom het – het in reaksie op die verslag se bevindinge gesê: “Ek herhaal wat ek van die begin af gesê het: Ek het beslis nie met die regsproses ingemeng nie. Ek is tevrede dat ek in absolute goeie trou opgetree het, en dat die verkiesingsproses korrek verloop het. Dit is nou deur die ondersoek bevestig.

“Al waaroor ek spyt is, is dat daadwerklike pogings om my en die Universiteit verdag te maak, ook aanvalle op oud-regter Cameron, die ander regters en die prosesse van die Konstitusionele Hof ontketen het. Nie ek of enigiemand anders het enige geheime of onderduimse bedoelings gehad toe ons oudregter Cameron probeer oortuig het om homself as Kanselierskandidaat beskikbaar te stel nie. Daar was geen poging tot geheimhouding nie. Dit was algemene kennis dat 'n aantal vooraanstaande US-alumni, insluitende lede van die US se Rektoraat, oudregter Cameron as 'n uitstekende kandidaat vir die verkiesing van 'n nuwe Kanselier beskou het. Dit is ook heeltemal onrealisties om aan te voer dat een mens soveel invloed kon uitoefen om 'n hele regbank van tien vooraanstaande regters van die Konstitusionele Hof daarvan te oortuig om ten gunste van die Universiteit Stellenbosch te beslis, en alle lede van dié kieskollege – buiten twee – om vir regter Cameron te stem."

Eers noudat die ondersoek afgehandel is, kon die Universiteit in detail reageer.