Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
R7 m aan US toegeken vir gryswaterprojek
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 02/12/2019

​Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) het R7 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegeken in die kategorie 'Volhoubare infrastruktuur' vir die kampuswye gryswaterprojek.

Nadeem Gafieldien, Direkteur van Eiendomsdienste by die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur, sê die toekenning het gekom ná 'n werksessie wat in 2016 deur die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) aangebied en deur ses universiteite bygewoon is.

“Ons het ons huiswerk gedoen en het ook omvattende navorsing oor die droogte gedoen om te kon motiveer waarom ons as instelling hierdie toekenning verdien. 'n Nuwe sub-kategorie, 'Infrastruktuurdoeltreffendsheidtoekenning' is by die volhoubare infrastruktuur-kategorie gevoeg met gryswater as een van die pilare in die kategorie, en ons het dié toekenning vir ons gryswaterprojek ontvang.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die totale koste van die projek nie R7 miljoen nie, maar R12 miljoen beloop het. Die Universiteit Stellenbosch se SUNCOM het R5 miljoen vir die projek bewillig, terwyl die DHOO die groot bedrag van R7 miljoen beskikbaar gestel het," voeg hy by.

Gafieldien sê die US is die eerste hoëronderwysinstelling wat gryswater op hierdie skaal herwin en dit kan een van die redes wees waarom hulle die toekenning ontvang het.

Die US se geoutomatiseerde gryswaterstelsel versamel stortwater by die koshuise op die kampus, behandel dit en plaas dit dan terug in die stelsel om vir die spoel van toilette gebruik te word.

Die stelsel is eerste by die koshuise geïnstalleer en sal ook later by akademiese geboue op die Stellenbosse kampus in werking gestel word.

Die gryswateraanleg is nou 'n maand in werking en het reeds 'n vermindering van 35% in waterverbruik, asook 'n vermindering in energiegebruik vir waterverwarming vir storte, tot gevolg gehad.

'n Soortgelyke stelsel word tans by die US se Tygerbergkampus ontwikkel en sal hopelik teen die einde van die jaar in gebruik geneem kan word.

“Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs in Kaapstad het onlangs 'n innovasieprys aan die raadgewende ingenieurs wat aan die projek gewerk het, JG Afrika, vir hul werk aan ons gryswaterprojek toegeken. Dit is hoe groot hierdie projek is," sê Gafieldien.

Hy noem ook dat 'n span van die DHOO die US jaarliks besoek om te sien hoe die projek vorder. “Met hul laaste besoek, was die DHOO-span baie ingenome met ons vordering om die projek in werking te stel," sê hy.

“By die US fokus ons daarop om ons bestaande infrastruktuur optimaal te benut en om dit harder en beter te laat werk. Ons doelwit is om ons totale verbruik van drinkbare water te verminder," voeg hy by.

Gafieldien sê ook die R7 miljoen-toekenning het die Universiteit gehelp om sy waterverbruik te verminder en ook om die finansiële las te verlig terwyl dit hulle help om harder en beter te werk om die bestaande infrastruktuur optimaal te benut.