Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fredericks gebruik sport as 'n reddingsboei om jongmense op die regte pad te kry
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 25/11/2019

Jerome Fredericks – 'n dosent in die  Arbeidsterapie-afdeling – sal nooit die dag vergeet wat 'n vriend hom gevra het of hy vlugbal wil speel nie. Dit was die dag wat daar in sy lewe as 't ware 'n ommekeer was.

“Ek het op 'n straathoek in die Paarl gestaan, besig om vir geld te bedel. Ek het uit 'n gebroke familie gekom. My ouers het geskei toe ek drie jaar oud was. Ek het by my grootouers gewoon in baie swak sosio-ekonomiese omstandighede," het Fredericks gesê.

“As kind was ek kwaad en ongelukkig. Ek het eenkeer daarvan gedroom om 'n professor te wees, maar toe ek my ma daarvan vertel het, het sy gelag, en gesê dat dit nie moontlik was nie. Ek het haar geglo. Sy het vir my drome gelag.

“Ek het begin rondhang saam met bende-vriende en gedroom daarvan om 'n bendelid te word. Ek het begin droom daarvan om 'n nommer te kry en om 'n bendeleier te word."

Dit was onder hierdie omstandighede wat sy vriend hom na die vlugbalbaan genooi het.

“Daardie een dag het my lewe verander. Ek het aan vlugbal verslaaf geraak. Ek het dadelik so gereeld as moontlik begin speel. Ek het in 'n roetine ingekom daarvan om 'n paar keer per week te oefen. Naweke het ons wedstryde gehad. Ek het begin om na myself om te sien en ek het lewensvaardighede geleer soos toewyding en dissipline. Ek het begin kyk na my geestelike lewe. Ek het nuwe mentors en nuwe vriende ontmoet met ander waardesisteme. Ek het minder tyd gehad vir negatiewe aktiwiteite. Ek het al my bende-vriende verloor en het begin om goed te vaar op skool!"

Dit is hierdie dramatiese ommeswaai in sy lewe wat gelei het daartoe dat hy nie net die hoofseun en top-student van die Paulus Joubert-hoërskool in die Paarl geword het nie, maar ook gekies is vir die O-19 SA vlugbalspan. Dit het Fredericks se passie laat opvlam vat om sport te gebruik om sosiale verandering teweeg te bring.

Hy het 'n gewilde hoofspreker geword by gemeenskapsbyeenkomste en daar is ook al met hom onderhoude gevoer op die radio oor sy werk in hierdie veld. Daar is mees onlangs met hom 'n onderhoud geboer op Radio KC in die Paarl en op Paarl FM.

Terwyl hy werk as 'n dosent in die afdeling Arbeidsterapie, waar hy reeds 12 jaar lank werksaam is, is Fredericks ook nou betrokke by rugby-, sokker- en atletiekklubs in die Paarl-omgewing waar hy nog altyd gewoon het. Hy werk ook as 'n konsultant vir verskeie ander klubs. “Ons bied 'n oefenplek en afrigting aan jongmense. Ek bring ook my kennis in arbeidswetenskappe vanaf die universiteit."

“Daar is iets soos beroepsontneming. Dit beteken dat sekere jongmense nie die geleenthede of die fondse het om aan sport deel te neem nie. 'n Deel van my werk bestaan daaruit om by die munisipaliteit voorbrand te maak om fasiliteite te verskaf sodat hulle sport kan beoefen."

Deur middel van die sportsessies, ontvang die kinders ook 'n verskeidenheid van belangrike lewensvaardighede, en word ook waardes aangeleer.

“Ek glo sterk daarin dat kinders waardes kan aanleer deur hulle deelname aan sport," sê Fredericks.

“Baie van die kinders met wie ons by die klubs werk kom uit gebroke huisgesinne en arm familie-opsette, en baie was betrokke by bende- of kriminele aktiwiteite, of is aan dwelmmiddels verslaaf. Ek is self deur alles waardeur hulle gaan, so ek verstaan. Verskeie van die kinders voel hulle behoort nêrens en hulle het geen positiewe rolmodelle of mentors nie. Die hartseerste ding is dat baie van hulle min liefde in hulle lewens ervaar, en ook probleme ervaar wat met verwerping verband hou. Hulle sit dikwels met emosies binne hulle en hulle is werklik kwaad, omdat daar niemand daar is wat vir hulle omgee nie.

“By die sportklub reik ons uit na hulle op verskeie vlakke. Ons het afrigters wat hulle leer om sport te speel, maar ons probeer ook om aan sekere van hulle emosionele behoeftes te voldoen. Ons kyk na hulle fisiologiese behoeftes, sodat hulle geleenthede kry om te oefen en ook om hulle frustrasies te kanaliseer. Ons sien ook om na hulle veiligheid. Ons praat met hulle oor die gevare daarvan om by bende-aktiwiteite betrokke te wees en ook oor drank- en dwelmmisbruik. Ons praat ook met hulle oor die probleme wat verkeerde vriende meebring, en die gevare daarvan om laat in die aand rond te loop.

“Ons maak ook seker dat ons vir hulle liefde betoon en 'n gevoel gee dat hulle iewers behoort, en dat daar hoop is, in die tyd wat hulle by ons deurbring.

“Die jongmense wat na ons klubs kom weet dat hulle aan die afrigter kan sê as hulle probleme het. Hulle weet daar is 'n lewenslyn vir hulle."

Fredericks vertel verder oor die verloop van sy eie lewe: “Na skool was daar geen geld vir my om universiteit toe te gaan nie. Ek het 'n blindelingse kans gevat en ingeskryf vir Arbeidsterapie by die universiteit sonder dat ek enige geld gehad het. Ek het goed gedoen … en van daardie punt vorentoe het ek beurse gekry om te studeer."

Deesdae fokus Fredericks in sy werk meestal op die rol van arbeidsterapie in mense met gestremdhede. Sy navorsingsfokus is op algehele rehabilitasie vir mense wat laer ledemate moes laat afsit. Hy is ook betrokke by 'n aantal navorsingsprojekte.

In sy vrye tyd, wanneer hy nie by die universiteit of die sportklubs werk nie, gee hy praatjies by skole, kerke, en georganiseerde ontbyt- en teebyeenkomste in gemeenskappe waar hy ookal kan. Partykeer gaan hy en sy vrou na plase saam met hulle pastoor om met plaaskinders te werk wat dieselfde probleme as die dorpskinders ervaar. “Ons praat oor sport, maar ook oor waardes en geestelike onderwerpe. Ek gebruik sport as die medium om my boodskap aan jongmense te versprei oor hoe hulle die waardes wat ons leer wanneer ons aan sport deelneem kan gebruik om beter mense te word en om ons omstandighede te verbeter. Ek hoop regtig dit help hierdie kinders, soos wat dit al daardie jare gelede vir my gehelp het."


Onderskrif: Jerome Fredericks.

Foto-erkenning: Damien Schumann