Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Hester Klopper ontvang gesogte internasionale toekenning
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/11/2019

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie by die Universiteit Stellenbosch (US), is met die Dorothy Ford Buschmann Presidensiële Toekenning vereer vir haar uitsonderlike bydrae tot verpleegkunde en globale gesondheid.

Sy het gisteraand (18 November 2019) hierdie gesaghebbende toekenning, wat vir uitsonderlike prestasie in die verpleegkunde en aan leiers op dié gebied toegeken word, in Washington DC in die Verenigde State by die 45ste tweejaarlikse kongres van die Sigma Theta Thu Internasionale Vereniging van Verpleegkunde (Sigma) ontvang.

Sigma is die tweede grootste verpleegorganisasie in die wêreld met sowat 135 000 aktiewe lede in meer as 100 lande.

Die internasionale president van Sigma in oorleg met die Raad van Direkteure ken hierdie prys toe ter erkenning van buitengewone bydraes tot verpleegkunde en gesondheid. Die toekenning het in 1997 ter viering van Sigma se 75ste bestaansjaar ontstaan ter erkenning van die baanbrekerswerk en leierskap van die vereniging se eerste president, Dorothy Ford Buschmann van die Indiana-universiteit in die VSA.

Prof Klopper is bekroon vir haar uitsonderlike bydraes tot verpleegkunde en globale gesondheid wêreldwyd. Sy was 'n stigterslid van en instrumenteel in die vestiging van die eerste Sigma-tak in Afrika, wat uit 19 universiteite in nege lande bestaan en meer as 1500 lede het.

In 2013 is prof Klopper as die eerste president van Sigma afkomstig van buite Noord-Amerika ingehuldig en het sy uitstekende leiding aan die raad van direkteur gegee en ook die leiding geneem met die vestiging van die Wêreldwye Adviesraad vir die Toekoms van Verpleeg- en Verloskunde.

Buiten haar rol in verpleegkunde, word sy ook deur Sigma as 'n wêreldleier beskou, waarvan haar rol as lid van die Raad van Direkteure van die Konsortium van Universiteite vir Wêreldwye Gesondheid en haar aanstelling as Viserektor vir Strategie en Internasionalisasie aan die Universiteit Stellenbosch in Mei 2016 'n duidelike bewys is. Sy word internasionaal as akademikus en professionele leier erken en beskik oor uitgebreide netwerke op die gebiede van wêreldwye gesondheid, beleid, verpleegkunde en gesondheidsorg. Sy het ook ʼn professorale aanstelling in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die US.

Van prof Klopper se ander prestasies nadat sy in 1981 aan Hoërskool Alberton gematrikuleer het, sluit in:

  • In 2016 ontvang sy 'n eredoktorsgraad van die Oxford Brookes-universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK) ter ere van haar wêreldwye bydrae tot die wetenskap van verpleegkunde, opleiding van leiers in gesondheidswetenskappe.
  • Sy was 'n buitengewone professor by die Potchefstroom-kampus van die Noord-Wes-universiteit tussen 2012 en 2018, asook by die Universiteit van Wes-Kaapland, waar sy ook dekaan van die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe was.
  • Sy is die hoofredakteur van IJANS (International Journal of Africa Nursing Sciences).
  • Prof Klopper is in 2013 in die Amerikaanse Akademie vir Verpleegkunde en Wetenskap ingehuldig en is tot op hede die enigste Suid-Afrikaner wat hierdie eer te beurt geval het (FAAN)
  • In Suid Afrika is sy ook ingehuldig as lid van die Akademie vir Wetenskap van SA (ASSAf)
  • Sy het haar Magister Curationis-graad (MCur) in 1993 en haar PhD in 1994 aan die Universiteit van Johannesburg (voorheen bekend as die Randse Afrikaanse Universiteit) voltooi, gevolg deur ʼn MBA-graad in 2002 in die VK. ​