Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer voorste postdoktorale navorsers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/11/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) spog met meer as 300 geregistreerde postdoktorale navorsingsgenote wat 'n betekenisvolle bydrae lewer tot die verwesenliking van die Universiteit se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit word.

Die voorste 20 navorsingsgenote uit hierdie groep is onlangs by die US se jaarlikse Postdoktorale Navorsingsdag vereer. Hulle  het elkeen R10 000 en 'n sertifikaat ter erkenning vir hul uitmuntende navorsingsuitsette asook hul bydrae tot die akademiese omgewing deur studente-opleiding, voorleggings by konferensies en ander nie-akademiese pogings ontvang.

Die Postdoktorale Navorsingsdag wat in 2017 deur die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Eugene Cloete, ingestel is en deur die US se Postdoktorale Vereniging en die Afdeling Navorsingsontwikkeling geborg word, verskaf aan postdoktorale genote 'n platform om hul navorsingsaktiwiteite ten toon te stel.

In reaksie op die toekennings, het Cloete gesê: “Die postdoktorale genote lewer 'n groot bydrae tot akademiese prestasie by die Universiteit. Hulle ondersteun studente en is die dryfkrag vir belangrike navorsing. Die genote wat hier vereer word, het meer as tien manuskripte die lig laat sien, was deel van samewerkende navorsingspanne, het groot navorsingsbeurse ontvang en is ook aktief by universiteits- en ander akademiese verenigings betrokke."

Hy het bygevoeg dat die US sy postdoktorale navorsers hoog aanslaan en die huidige kohort oor die volgende twee jaar tot 500 wil uitbrei, in ooreenstemming met die Universiteit se strategie en visie om wêreldwyd 'n invloed te hê.

Die postdoktorale genote wat by die Navorsingsdag vereer is, is (in alfabetiese volgorde):

Shameemah Abrahams (Biomediese Wetenskappe); Hayley Clements (Sentrum vir Komplekse Stelsels in Transisie); Rosemary Cripwell (Mikrobiologie); Anna Hartfort (Filosofie); Martin Heine (Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe); Heidi Hirsch (Plant- en Dierkunde); Marion Javal (Bewarkingsekologie); Tanya Kerr (Molekulêre Biologie en Menslike Genetika); Lizabé Lambrechts (Africa Open-instituut); Gina Leisching (Biomediese Wetenskappe); Mohsen Mandegari (Prosesingenieurswese); Jan-Lukas Menzel (Aardwetenskap); Corneile Minaar (Plant- en Dierkunde); Charissa Naidoo (Biomediese Wetenskappe); Mario Mairal Pisa (Plant- en Dierkunde); Julia Riley (Plant- en Dierkunde); Letitia Schoeman (Hortologie); Wendy Stone (US Waterinstituut); Alemayehu  Tsige (Hortologie) en Caitlin Uren (Biomediese Wetenskappe)

  • ​​Foto: Sommige van die voorste postdoktorale genote by die Navorsingsdag. Fotograaf: Riana Coetsee