Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hawies groet Maties
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 11/11/2019

In sy vier jaar as afrigter het Hawies Fourie wondere verrig om die wenkultuur weer by Maties Rugby te vestig.

Fourie het ná die seisoen as Maties Rugby-afrigter bedank om die Cheetahs in Bloemfontein af te rig. Drikus Hancke het by hom oorgeneem as Maties se nuwe breier.

Fourie – self 'n oud-Matie – het aan die einde van 2015 by Maties aangesluit. In daardie stadium het Maties in 2010 laas die Varsitybeker-toernooi gewen en daar was baie druk op die klub om te presteer.

Fourie was 'n belangrike bestanddeel in die resep wat gebruik is om 'n oplewing te veroorsaak. “Daar is baie moeite gedoen om Maties Rugby weer die beste in die land te maak," sê Fourie.

In sy vier jaar as breier het Maties in vier Varsitybeker-eindstryde gespeel en twee keer die titel gewen. Die span het ook in vier USSA-eindstryde gespeel en twee titels gewen. Hulle het ook verskeie Westelike Provinsie-klubligatitels gewen.

Maanskyn en rose was dit egter beslis nie.

“Die teleurstelling van ons nederlaag in die 2016 Varsitybeker-eindstryd voor ons tuisskare was groot. Dié wedstryd, tesame met die nederlaag teen Tuks in 2017 se eindstryd, het ons net meer vasberade gemaak om nóg harder te werk en te verbeter. Die oorwinnings op ons tuisveld in 2018 en 2019 was daarom uiters spesiaal," onthou Fourie.

“Ek het gegroei as mens en as afrigter. Ek het die voorreg gehad om saam met wonderlike mense en spelers te werk," vertel die oud-Dagbreker.

Fourie het in sy tyd by Maties baie geleenthede gehad om herinneringe te skep.

“Hoogtepunte op die veld was daar baie. Die wedstryde wat ek altyd sal onthou, is die 2018 en 2019 Varsitybeker-eindstryde. Dit was baie spesiaal om die sterk spanne van onderskeidelik Pukke en Tuks oortuigend te kon klop. Alles gaan egter nie net oor wen nie. Die gehalte rugby wat die span gespeel het, die kameraadskap in die span en die gehalte van die mense in ons bestuurspan sal my altyd bybly.

“Van die veld af het daar elke jaar ongelooflik baie positiewe dinge gebeur. Vir my as afrigter is dit altyd iets waarop ek trots is as ons Matiespelers se loopbane vorentoe beweeg en hulle hulself handhaaf op 'n hoër vlak. Sedert 2016 het 12 Maties reeds Superrugby en/of Pro14-rugby gespeel en 22 spelers het in Curriebeker-wedstryde uitgedraf."

Hy het ook na die internasionale sukses van Janco Venter en Kyle Steyn verwys. Venter was deel van Namibië se groep in die Rugbywêreldbekerkampioenskap en Steyn is al opgeroep tot die Skotland-oefengroep.

Vra enige speler en hy sal jou vertel van die impak wat Fourie op die kultuur van die Maties-rugbyklub gehad het.

“Onder leiding van Braam Venter (oud-speler) het ons uiteengesit wat dit beteken om 'n Matie te wees. Ons het die woord 'Matie' gevat en betekenis aan elke letter gegee. Die leiers in die span het gesorg dat die spelers die waardes uitleef en die proses is dus intern gedryf."

Fourie het 'n paar laaste woorde vir dié wat agterbly.

“Ek wil graag vir elke lid van ons bestuurspan dankie sê vir sy of haar positiewe ingesteldheid en bydrae. Dit was 'n voorreg om saam met elkeen van julle te werk. Ek weet die Klub is in goeie hande en sal net van krag tot krag gaan.

“Aan al die spelers wat die harde werk op die veld en in die gimnasium ingesit het – dankie vir die geleentheid om julle te leer ken en 'n pad saam met julle te stap. Mag al julle drome waar word.

“Professor (Mohammad) Karaan – die President van Maties-rugbyklub – alle voorspoed met alles wat julle vir Maties Rugby beplan.

“Laastens ook baie dankie aan al ons lojale ondersteuners. Ek gaan die gees en geraas Maandagaande in die Danie Craven-stadion baie mis. Daar is nie beter as julle in Suid-Afrika nie..."