Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rapport redakteur spreker by jaarlikse Konvokasievergadering
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 30/10/2019

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, is die gasspreker by die jaarlikse Konvokasvergadering van die Universiteit Stellenbosch (US) wat op Donderdag 14 November 2019 by die Adam Small Teaterkompleks in Stellenbosch plaasvind.

Die Konvokasie is 'n statutêre liggaam van die US wat bestaan uit gegradueerdes, insluitende huidige nagraadse studente, en alle voltydse en afgetrede akademiese personeellede van die US. Volgens wetgewing het alle Suid-Afrikaanse universiteite ʼn konvokasie wat die belange verteenwoordig en insette van alumni in sake wat die Universiteit raak verseker. 

Lede word aangemoedig om vroeg te kom aangesien hulle moet registreer. Die vergadering sal ook die verkiesing van twee nuwe lede van die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie insluit.

Meer oor die gasspreker:

Pelser is redakteur van Rapport en aanbieder van die nuus-aktualiteitsprogram KN Verslag In Gesprek op kykNet. Hy het sy joernalistieke loopbaan in 2001 by Die Burger begin ná die voltooiing van die grade BA Regte, BPhil (Joernalistiek) en MPhil (Joernalistiek) aan die US. In 2004 voltooi hy die graad MPhil (Ontwikkelingstudies) aan die Universiteit van Oxford, waar hy met 'n Rhodes-beurs studeer.

Ná drie jaar by Beeld in Johannesburg is hy na Lagos, Nigerië in 2007 om 'n koerantburo vir Media24 in Wes-Afrika te vestig. Hy word in 2009 nuusredakteur van Beeld en in 2011 redakteur van die nuustydskrif NuusNou/NewsNow. Pelser is al drie keer bekroon met 'n ATKV-mediaveertjie as beste aanbieder van 'n nuus- of aktualiteitsprogram en is in 2019 genomineer vir 'n Safta vir beste TV-aanbieder in Suid-Afrika.

Plek: Adam Small-teaterkompleks, 15 Victoriastraat, Stellenbosch

Tyd: 19:00

Bevestig bywoning per e-pos by konvokasie@sun.ac.za of telefonies by 021 808 9266.