Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ondernemingbestuur-kompetisie moedig sosiale entrepreneurskap aan
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 30/10/2019

'n Sakeplan vir mobiele tutordienste was die wenner van die PPS Entrepreneurskap- en Innovasiebestuur-kompetitisie wat in samewerking met die Departement Ondernemingbestuur aan die Universiteit Stellenbosch aangebied is.

Die kompetisie het studente in hul tweede jaar uitgedaag om met 'n innoverende idee vorendag te kom om 'n maatskaplike kwessie in hul gemeenskap op te los en dan 'n sakeplan daarvoor in te dien.       

Die wengroep – Fundani Tutoring Services – het die probleem ondersoek van kinders in minderbevoorregte Stellenbosch-gemeenskappe wat nie toegang tot formele onderrig het nie. Die groep het 'n sakeplan ontwikkel om mobiele tutordienste aan graad 8-12-leerders in Kayamandi en Cloetesville te bied en sodoende die gaping tussen laer- en hoërskoolonderrig te vernou en die oorgang van matriek na tersiêre vlak te verbeter.

Die groep – wat bestaan het uit Ondela Soyeza, Ndinani Tunce, Kwanele Phuza, Rutendo Chibanda en Sakhile Mhlanga – het R5 000 gewen, asook R5 000 vir die liefdadigheidsorganisasie van hul keuse.

Volgens Rutendo het die kompetisie hulle die geleentheid gebied om 'n goeie daad te verrig en terselfdertyd hul entrepreneurskapsvaardighede te ontwikkel. Hulle het besef dat om 'n besigheid te bedryf, nie maklik is nie en dat dit deursettingsvermoë en toewyding kos om dit te laat werk.

“Boonop het ons spanwerkvaardighede en sakevernuf opgedoen oor hoe om 'n besigheidsituasie vinnig op te som en aan te spreek," het sy bygevoeg.

Die groep het die Legacy-sentrum in Kayamandi as hul begunstigde gekies.

Die naaswenner was Backk Omni Processor. Hierdie groep, bestaande uit Kyra Meiring, Amy Harrison, Kimberley Kambasha, Chikondi Gunde en Brendan Janse van Rensburg, het R2 500 ontvang. Hulle het 'n sakeplan ontwikkel vir 'n produk wat verskillende bio- vaste stowwe en nat afval gebruik om skoon drinkwater en elektrisiteit te genereer en sodoende die maatskaplike en omgewingstoestande in minderbevoorregte gemeenskappe te verbeter.     

Volgens Selma Kruger van PPS was die katalisator vir hierdie inisiatief die 2018 One Young World-kongres sowel as 'n begeerte om sosiale entrepreneurskap te bevorder.    

“Ons wil wys dat organisasies en instellings soos PPS en die Universiteit Stellenbosch kan en moet saamwerk om die denke van jong leiers in kritiese probleemoplossing en die opheffing van plaaslike gemeenskappe te bevorder.        

“Ons was baie beïndruk met die standaard van die sakeplanne. Die land is in veilige hande as julle die toekomstige leiers is wat hierdie kwessies gaan aanpak," het sy vir die studente gesê.

Volgens mnr. Goosain Solomon, lektor, wys die kompetisie dat hulle waardering het vir die werk wat hul studente doen.    

“Hier benewens is die vennootskap met 'n eksterne belanghebbende, PPS, 'n aanduiding van die potensiaal vir sinergie sowel as die relevansie van ons pogings."