Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Iteration 1 workshop for SUNFin team members
SUNFin implementeer nuwe finansiële stelsel
Outeur: Mr Manie Lombard – Chief Director: Finance/ Mnr Manie Lombard – Hoofdirekteur: Finansies​
Gepubliseer: 29/10/2019

Universiteit Stellenbosch (US) is die eerste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat die Oracle Cloud Financials Application -stelsel implementeer om sy huidige finansiële stelsel te vervang.

Hierdie nuwe wolkgebaseerde (cloud-based) stelsel sal US in staat stel om sy finansiële stelsels te moderniseer deur prosesse meer vaartbelyn te maak, produktiwiteit te verhoog en ons besigheidsbesluite te verbeter, aangesien ons toegang sal kry tot omvattende intydse finansiële data en multi-dimensionele ontledings en verslaggewing.

US se besluit om Oracle Cloud Financials Application -stelsel te implementeer beteken dat ons sommige van ons finansiële besigheidsprosesse en -transaksies moet aanpas.

Annemi Murray en haar span is in beheer van die Besigheid-optimiseringswerkstroom. Hulle bied tans End-tot-End (E2E)-werkswinkels aan. Die span het die Verkrygingsprosesse en Bate- en- Fondsebestuur besigheidsprosesse alreeds deurgewerk. Hulle is tans besig met die ontleding van Debiteure proses. Die doelwit met hierdie E2E-werkswinkels is om te bepaal hoe US se besigheidsprosesse beïnvloed word en moet verander om by die vaartbelynde Oracle finansiële wolkprosesse aan te pas. Funksionele verteenwoordigers vanuit Finansies, IT en Fasiliteitebestuur vervul 'n noodsaaklike rol in hierdie werkswinkels.

Die volgende mylpaal in die SUNFin Implementeringsprojek is die aflewering van Iterasie 1 deur ons implementeringsvennoot Visions. Iterasie 1 is 'n prototipe ('n vroeë model of vrystelling van 'n produk wat gebou is om 'n konsep of 'n proses te toets) van die Oracle Cloud Financials -stelsel. Die eerste Iterasie van die SUNFin-stelsel is gebaseer op US se konfigurasiebesluite wat geneem is tydens die CPA (Cloud Process Alignment)-werkswinkels wat vroeër in die jaar gehou is en nou toegerus is met US data. Die doel met Iterasie 1-hersieningswerkswinkels is om Visions die geleentheid te gee om die projekspan bekend te stel aan die eerste vrystelling van die stelsel, asook aan die kern finansiële prosesse sodat US konfigurasiebesluite bevestig word. Die Iterasie 1-hersieningswerkswinkels vind nou plaas en sal teen middel November voltooi wees.  

Die SUNFin-span sal die res van November gebruik om Iterasie 1 te finaliseer en te beplan vir die werk wat volg vir Iterasie 2 wat geskeduleer om gedurende die eerste kwartaal van 2020 afgelewer te word.

 

Terwyl die SUNFinspan voorberei het vir Iterasie 1 het hulle verskeie data skoonmaak-inisiatiewe geïdentifiseer. Hierdie inisiatiewe sal geprioritiseer en aangespreek word in die voorbereidingswerk vir Iterasie 2. As deel van hierdie inisiatief sal die SUNFinspan ook reëls implementeer in die huidige finansiële stelsel om verdere data probleme aan te spreek.  

Vir meer inligting oor die SUNFin Implementeringsprojek, besoek gerus www.sun.ac.za/sunfin.

Rig asseblief enige navrae, opmerkings of bekommernisse wat jy oor die SUNFin Projek mag hê per e‑pos aan sunfin@sun.ac.za.