Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied opwinde nuwe interdissiplinêre studie-opsies in die natuurwetenskappe
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 24/10/2019

Die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch het sy akademiese aanbod uitgebrei, wat vanaf 2020 ook 'n meer interdissiplinêre benadering insluit, gemik op studente wat wil spesialiseer in die velde van medisinale chemie, bioinformatika en berekeningsbiologie, en biomediese ingenieurswese.

Hierdie interdissiplinê BSc-graad stel jou in staat om 'n meer  buigsame kombinasie van verskillende velde, soos chemie gekombineer met fisiologiese wetenskappe; wiskunde en rekenaarwetenskap in kombinasie met die fisiologiese wetenskappe; of rekenaarwetenskap gekombineer met wiskunde, statistiek, biochemie en genetika, te neem.

“Dit beteken dat ons 'n student kan akkommodeer wat belangstel in genetika, maar ook in wiskunde en rekenaarwetenskap, of iemand met 'n sterk belangstelling in wiskunde, sowel as biologie. Ons bied studente dus die geleentheid om hulle belangstellings in die wiskundige, die biologiese en die fisiese wetenskappe te kombineer. Terselfdertyd berei ons hulle voor vir nuwe velde wat die integrasie van kennis en vaardighede uit verskeie studievelde vereis," verduidelik Prof Ingrid Rewitzky, hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe en Visedekaan: Onderrig en Leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Toegepaste Medisinale Chemie-kurrikulum

Met hierdie kurrikulum bied die Departement Fisiologiese Wetenskappe en die Departement Chemie en Polimerwetenskap 'n breë, multidissiplinêre agtergrond in chemie én fisiologie om studente voor te berei vir loopbane in die mediese, farmaseutiese en verwante gesondheidsberoepe.

Prof Anna-Mart Engelbrecht van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, sê studente sal blootgestel word aan onderwerpe soos die chemiese sintese van middels, fisiologie, sowel as die patofisiologiese basis van siektes. In die derdejaar sal studente ook bekendgestel word aan 'n module in die wetlike aspekte van patentereg en innovasiebestuur. 'n Module in plantkunde sal hulle die agtergrond bied om die diversiteit van plantvorme en -funksie op 'n plaaslike en globale skaal te verstaan.

“Hierdie kennis kan gebruik word vir die volhoubare geneesmiddelontwikkeling uit plantekstrak, nuwe prosesse van plantekstraksie, sowel as die gebruik daarvan. Daarom is dit belangrik dat studente ook kennis moet hê van die wetlike aspekte van innovasiebeskerming en -bestuur wanneer nuwe middels ontwikkel word," verduidelik sy.

Prof Willem van Otterlo en Dr Catherine Kaschula van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap beklemtoon die feit dat hierdie kurrikulum studente die sterk chemiese agtergrond sal verskaf wat nodig is om met die fisiologiese wetenskappe op 'n toepassingsvlak te kan omgaan, waarna hulle die opsie het om moontlik hulle studies voort te sit met honneursprogramme in chemie of fisiologie.

Bioinformatika en Berekeningsbiologie-kurrikulum

Hierdie kurrikulum verskaf omvattende opleiding in rekenaarwetenskap, wiskunde, statistiek, biochemie en genetika. Studente wat dit volg, sal 'n diepgaande begrip hê van biologie, met die analitiese vaardigheid wat wiskunde en statistiek bied, wat hulle in staat sal stel om sagtewarehulpmiddels te gebruik of te ontwikkel deur hulle rekenaarwetenskapvaardighede te gebruik.

Prof Hugh Patterton, direkteur van die Sentrum vir Bioinformatika en Berekeningsbiologie (CBCB)  by die US, sê studente sal ook groot biologiese datastelle effektief kan gebruik en analiseer, en nuwe insigte uit die data verkry. “Bioinformatika en berekeningsbiologie is gespesialiseerde velde in datawetenskap, waar enorme biologiese datastelle - gegenereer deur middel van moderne tegnologieë - gebruik word om lewende organismes op 'n vlak van uiterste detail te verstaan. Dit verskaf insig in die chemie en prosesse wat 'n lewende organisme definieer, die verhouding tussen organismes en die evolusie van lewe, en word gebruik om fundamentele vrae in biologie te beantwoord," verduidelik Patterton.

Op 'n nagraadse vlak kan geselekteerde studente 'n honneursprogram in bioinformatika en berekeningsbiologie volg, of, met die volg van addisionele voorgraadse modules, honneursprogramme in biochemie, rekenaarwetenskap of genetika. Die CBCB sal ook 'n MSc- en PhD-graad in bioinformatika en berekeningsbiologie aanbied. 

Biomediese Wiskundige Wetenskappe-kurrikulum

Biomediese ingenieurswese gaan oor die toepassing van ingenieursbeginsels op biologie en geneeskunde ten einde gesondheidsorgprobleme op te los, en word tans beskou as een van die snel groeiendste werksmarkte ter wêreld.

Die Biomediese Wiskundige Wetenskappe-kurrikulum sal studente voorgraads blootstel aan die velde van wiskunde, rekenaarwetenskap en fisiologie. Dit kan lei tot 'n honneursprogram in fisiologie of wiskunde, of 'n nagraadse diploma en later 'n MSc in biomediese ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese.

*Vir meer inligting oor enige van hierdie nuwe aanbiedings, kontak Prof Rewitzky by 021 808 3289 of rewitzky@sun.ac.za