Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet Natuurwetenskappe se voortreflikste dosente
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 23/10/2019

Die 2019-wenners van die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Toekennings vir Voortreflike Onderrig is onlangs aangekondig. Dosente by die Fakulteit Natuurwetenskappe het twee van die 12 toekennings losgeslaan.

Dr Marnel Mouton het die Voortreflike Onderrig-toekenning in die afdeling “Uitgelese Opvoeder" ontvang en prof Gareth Arnott is in die afdeling “Ontwikkelende Opvoeder" vereer.

Die toekennings, wat in 2017 bekendgestel is, gee erkenning aan US-dosente in twee afdelings, “Uitgelese Opvoeder" en “Ontwikkelende Opvoeder" en word gegrond op hul ondervinding en leierskap op die gebied van onderrig en leer.

Deelnemers moes 'n portefeulje indien wat hul denke oor en bewys van vier hoofonderdele uiteengesit het: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moes ook 'n aanduiding gee van die lesse wat hulle op hul reis om uitnemende opvoeders te word, geleer het.

Dr Marnel Mouton

Volgens Mouton is sy uiters dankbaar vir hierdie toekenning en vir die erkenning wat die US gee vir die uiters harde werk wat met navorsing en publikasies gepaard gaan, veral op 'n vakgebied wat nie haar eerste, oorspronklike kundigheidsveld was nie.

“Dit is 'n groot motivering om aan te hou met hierdie belangrike werk. Dit beteken ook dat ek die rol wat ander op hierdie pad gespeel het, erken – soos my kollegas in ons fakulteit en by die Sentrum vir Onderrig en Leer, die onderrig- en leernaaf van die Fakulteit Natuurwetenskappe, asook inisiatiewe van die Universiteit om sy personeel te ontwikkel," sê Mouton.

Mouton se werk fokus tans meestal op wetenskaponderrig. Sy het oor die jare wat sy Biologie vir eerstejaars gedoseer het, ontdek dat daar 'n artikulasiegaping tussen skool en eerstejaar in hoër opleiding was – iets wat sy hoop om te help oorkom.

“Ek het gevind dat hul begrip baie tekortgeskiet het of baie oppervlakkig was. Ek het met die verloop van die tyd besef dat ons nie net kon aangaan met onderrig waar die skoolleerplan ophou nie, maar dat ons eers moes teruggaan om te verseker dat die studente wel 'n stewige grondslag het waarop hulle kon voortbou."

Mouton is goed bekend daarmee om toekennings by die US te ontvang. In 2015 het sy die Rektorstoekenning vir algemene prestasie ontvang en in 2018 is die Fakulteit Natuurwetenskappe se toekenning vir die beste aanbieding by die jaarlikse konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) aan haar toegeken.

“Om die Toekenning vir Voortreflike Onderrig te ontvang, sal beslis een van die hoogtepunte van my loopbaan bly. Hierdie toekenning is 'n belangrike motivering. Ek het om befondsing aansoek gedoen om my navorsingsuitsette op hierdie gebied uit te brei en het dit ook oorweeg om vir verdere befondsing of 'n moontlike navorsingsbeurs aansoek te doen. Ná hierdie toekenning voel ek nog meer gedrewe om hierdie moontlikhede te ondersoek," sê Mouton.

Prof Gareth Arnott

Volgens Arnott was dit vir hom 'n loopbaan-bepalende hoogtepunt om hierdie toekenning los te slaan. Hy gee al vir amper 12 jaar klas en sê hy voel geëerd om vir sy werk as dosent erken te word.

“Natuurlik gee ek nie klas vir die erkenning nie, maar om as 'n goeie dosent erken te word, is baie lonend. Dit is 'n groot ding en ek voel geëerd. Dit laat my voel dat die werk wat ek ingesit het, raakgesien word. Dit is ook baie bevredigend as 'n aantal van die beste eerstejaarstudente sê my onderrig het 'n groot indruk op hulle gemaak," se Arnott.

Hy sê hy was nog altyd lief vir natuurwetenskappe, maar het gedink hy sou verder in die genetika of biochemie studeer totdat hy in sy tweedejaar van kursus verander het – wat hy reken die beste skuif was wat hy kon gemaak het.

Afgesien van klasgee, het Arnott ook 'n groot aanlyn teenwoordigheid, waar hy baie van sy lesings en ander leermateriaal deel. Hy het ook 'n YouTube-kanaal met sy naam en 'n navorsingsgroep wat in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by die US gesetel is.

Arnott sê hy hoop dat sy onderrig nie net studente sal inspireer nie, maar ook by hulle 'n sin van onafhanklikheid sal ontwikkel om hulle te help om probleme op hul eie op te los.

“As ek hulle sover kan kry om te aanvaar dat die 'antwoord nie die oplossing is nie', en dat hulle moet probeer om dinge vir hulleself uit te werk, sal ek voel ek het my goed van my taak gekwyt. Daar was gevalle waar dit van my 'n beter dosent gemaak het om meer met die opvoedkundige materiaal om te gaan. Dit is nie soseer die toekenning wat my dit laat besef het nie, maar die toekenning is iets wat saam met hierdie pad waarop ek is, gekom het," sê Arnott.

*Bogenoemde kandidate sal hul toekennings by 'n prysuitdelinggeleentheid aan die einde van die vierde kwartaal ontvang.

Vir verdere inligting oor die Toekennings vir Voortreflike Onderrig, skakel dr Karin Cattell-Holden by 021 808 3074 of stuur 'n e-pos na kcattell@sun.ac.za.​

In die foto bo van links, Dr Marnel Mouton en prof Gareth Arnott.