Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot skenking help US om veiliger en eenvoudiger behandeling te ontwikkel vir kinders met MDR-TB
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 22/10/2019

Stellenbosch Universiteit het die aandag gefokus op kinders se behoeftes in die globale reaksie op TB deur 'n groot nuwe skenkingsooreenkoms met Unitaid te teken. Unitaid is 'n internasionale organisasie wat belê in innoverende projekte om sodoende MIV/Vigs, tuberkulose en malaria vinniger, meer effektief en meer bekostigbaar te behandel. Die projek is daarop gemik om kinder-vriendelike behandelings en voorkomende terapieë teen middelweerstandige tuberkulose (MDR-TB) te ontwikkel.

Die toekenning, wat op oor die R280 miljoen gereken word (18.9 miljoen Amerikaanse dollar), sal gebruik word om kinder-vriendelike behandelings vir MDR-TB te ontwikkel en te evalueer om die aanvang van die siekte te verhoed. Die ooreenkoms is vroeg in Oktober geteken en sal tot in 2022 van krag wees.

Daar word verwag dat die projek met die titel “Beter Bewyse en Formulerings vir die verbeterde MDR-TB-behandeling in kinders" (BENEFIT Kids), befonds en ondersteun deur Unitaid, effektief sal wees in die redusering van die las van hierdie gevaarlikle, maar behandelbare vorm van TB.

“Kinders is grotendeels tot nou toe afgeskeep in die globale reaksie teenoor MDR-TB en hulle verdien beter. Ons is opgewonde dat, deur middel van Unitaid se investering in hierdie innoverende projek, Stellenbosch Universiteit en en sy vennote kan bydra tot die aanspreek van hierdie ongelykheid deur die verbetering van toegang vir kinders tot beter, en meer kinder-vriendelike MDR-TB behandeling en voorkoming," het die projekleier, professor Anthony Garcia-Prats, gesê. Hy is werksaam by die Desmond Tutu TB-Sentrum (DTTC), die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, in die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit van Stellenbosch. Garcia-Prats is ook geaffilieer by die Universiteit van Wisconsin-Madison in die Verenigde State.

“Buiten die behandeling van MDR-TB in kinders, sal effektiewe strategieë om die siekte te bekamp 'n impak hê op die verlaging van morbiditeit en die sterftesyfer in kinders wat aan  MDR-TB blootgestel is," sê professor Anneke Hesseling, Direkteur van die DTTC en medeleier van die projek.

Meer as 95% van kinders met MDR-TB in die wêreld ontvang tans geen behandeling nie. En onder diegene wat wel behandeling ontvang, word die meeste behandel deur middel van regimens wat langdurig is, sleg smaak, toksies is, en wat dikwels ernstige newe-effekte veroorsaak, soos onomkeerbare gehoorverlies. Boonop behels dit ook dikwels pille wat fyngemaak moet word.

Skattings dui daarop dat daar tans soveel as 2 miljoen kinders is wat met die middelweerstandige soorte van die TB bakterieë geïnfekteer is, maar by wie dit nog nie gevorder het tot die aktiewe vorm van die siekte nie. 'n Gebrek aan hoë-kwaliteit navorsingsbewyse beperk toegang tot behandelings wat TB-siekte kan keer om te ontwikkel in meeste van hierdie kinders.

“Die BENEFIT Kids projek beloof om baie effektief te wees in die stryd teen TB superkieme, en dit is kritiek as ons die toekoms van  duisende kinders wil beskerm wat blootgestel is aan hierdie gevaarlike vorm van TB," sê Unitaid se Uitvoerende Direkteur, Lelio Marmora.

Die projek sal toegang verhoog tot kwailteit-versekerde MDR-TB middels wat kinder-vriendelik is, wat 'n geweldige stap vorentoe sal wees gegewe die historiese verwaarlosing van kinders met TB in die globale reaksie tot die epidemie. BENEFIT Kids projek beoog om dit te bereik deur die volgende te doen:

  • Die versterking van navorsingsbewyse oor optimale dosering, veiligheid, doeltreffendheid, aanvaarbaarheid en koste van die medikasie vir die behandeling en voorkoming van MDR-TB in kinders, wat 'n baie belangrike stap is in die proses van die skep van beleide wat 'n impak sal hê op kliniese sorg.
  • Die ontwikkeling van kinder-vriendelike formulerings vir MDR-TB behandeling en voorkomende terapieë wat beter smaak, wat die gepaste sterkte het, en wat ook gegee kan word aan jong kinders wat nie tablette kan sluk nie.
  • Die mark te berei op hierdie beter formulerings vir kinders.

Die projek sal nie alleen duisende kinders beskerm teen hierdie lewensbedreigende siekte nie, maar sal ook heelwat kostes besnoei vir gesondheidsisteme deur die voorkoming van enorme behandelingskostes wat tans aangegaan word om aktiewe MDR-TB siekte in kinders te behandel.

Die BENEFIT Kids-projek sal in drie lande geïmplementeer word: Suid-Afrika, Indië en die Filippyne. Stellenbosch Universiteit sal met verskeie sleutelvennote saamwerk, insluitende die TB Alliance, die Universiteit van Kalifornië in San Francisco, die Johns Hopkins Universiteit, De La Salle Universiteit se Mediese Sentrum in die Filippyne,  BJ Mediese Kollege in Indië,  Uppsala Universiteit in Swede en die Chiang Mai Universiteit in Thailand.


Onderskrif: Verteenwoordigers van Unitaid en die Universiteit Stellenbosch het onlangs bymekaar gekom om die BENEFIT Kids-projek te bespreek.

Foto-erkenning: Wilma Stassen