Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Die tyd vir verandering is nou’
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 21/10/2019

​“Ek het Russel Botman in die laat negentigerjare as 'n visionêre vakkundige en ekumenis ervaar wat besliste duidelikheid gehad het oor die dringendheid van die taak om ongeregtigheid in alle vorme te ontbloot."

Dít was die woorde van eerwaarde dr Setri Nyomi, wat verlede week (17 Oktober 2019) die vyfde Russel Botman-gedenklesing by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gelewer het.

Eerw dr Nyomi is 'n Ghanese teoloog wat as algemene sekretaris van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke gedien het. Hy is 'n ekumeniese leier wat bekend is vir sy toewyding aan die doel van die kerk en die relevansie daarvan in die 21ste eeu.

Eerw dr Nyomi het in sy toespraak, getiteld Geregtigheid vir almal. Die tyd vir verandering is nou, gesê die ontmaskering van ongeregtigheid was reeds in die negentigerjare vir prof Botman 'n saak van dringendheid. “Die tyd om hierdie taak aan te pak het nie in die verre toekoms gelê nie. Vir Russel was dit nou. Om daarom oor 'nou' te praat, is eintlik 'n onderbeklemtoning van die dringendheid," het eerw dr Nyomi gesê.

Eerw dr Nyomi het 'n oorsig van ongeregtighede wat op die vasteland van Afrika sedert kolonialisme voorgekom het, gegee.

“As 'n jong leraar in die destydse Nederduits Gereformeerde Sendingkerk, het Russel 'n baie sterk ekumeniese visie, met leierskap op die gebied van geregtigheid as kernkomponent, gehad; dit is die konteks waarin ek Russel ontmoet het," het hy bygevoeg.

Ter afsluiting het eerw dr Nyomi vertel hoe hy van hierdie jong Suid-Afrikaanse teoloog wat besig was om wêreldwyd in die Gereformeerde familie te maak opslae, te hore gekom het. Volgens hom het hul gesprekke om die dringendheid van die taak om die kettings van ongeregtigheid te breek, gedraai.

Die Russel Botman-gedenklesing word deur die US se Fakulteit Teologie en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie asook die kuratore van die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika aangebied. Die lesing bring hulde aan die waardes en lewe van die ontslape rektor en visekanselier van die US wat op 28 Junie 2014 oorlede is.

Wyle prof Botman se vrou, dr Beryl Botman, het die dankbetuigings gedoen. Sy het gesê dat die Botman-gesin daarop aandring om hul dankbaarheid uit te spreek. “Ons is dankbaar vir sy lewe en alles wat hy gedoen het, lank lewe Russel," het sy bygevoeg.

Prof Ingrid Woolgard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het op die hoofrede repliek gelewer.

Sy het eerw dr Nyomi vir sy uitdagende lesing oor die vasteland bedank. “Ons moet ons vir toegang tot gesondheidsorg, hoër opleiding, die gebrek aan behuising en skuiling beywer. Maatskaplike ongelykhede in Suid-Afrika is 'n teken van ongeregtighede, ontbering en swaarkry.

“Om ongelykheid te verminder beteken die herverspreiding van hulpbronne; beleidsrigtings moet verander. Daar moet 'n perk op uitvoerende salarisse geplaas word, werksversekeringskemas moet ingestel word en daar moet groter maatskaplike beskerming wees."

Die ontvangers van die Russel Botman-beursfonds is ook by die geleentheid bekendgemaak en 'n beroep is op vriende, familie en kollegas gedoen om eerder tot die fonds by te dra as om geskenke te gee.

Wyle prof Botman se passie om vir verdienstelike studente geleenthede te skep om toegang tot hoër onderwys te kry, het daartoe gelei dat hy die Russel Botma-fonds ter viering van sy 60ste verjaardag op 18 Oktober 2013 in die lewe geroep het.

Vanjaar se ontvangers van die Russel Botma-beurse is:

  • Emma Jane Poole: BA Geesteswetenskappe (finale jaar)
  • Jeffrey Ngobeni: Nagraadse diploma in Teologie
  • Ayanda Bless: BSc Arbeidsterapie (derde jaar)
  • Hayden Damon: BA Maatskaplike Werk (derde jaar)
  • Headman Ntlapo: Nagraadse diploma in Teologie
  • Narissa Pieters: BSc Agric (Wingerdbou) (finale jaar)
  • Nandipha Dlamini: BSc Agric (Veekundige wetenskappe) (finale jaar)
  • Nomalinge Mzaza: BSc Voedselwetenskap (finale jaar)
  • Robyn Snyman: LLB (finale jaar)