Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsnetwerke kan BRICS-lande help om indringerspesies te beveg
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/10/2019

Die BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) moet meer navorsingsnetwerke bestaande uit navorsers wat spesifiek op indringerwetenskap fokus, bou indien hulle die verspreiding van indringerspesies binne en buite hul grense wil bekamp.

Dit is een van die belangrikste aanbevelings in 'n internasionale navorsingstudie wat onlangs in die vaktydskrif PLoS Biology verskyn het.

“BRICS-lande bied 'n tuiste aan 'n groot deel van die wêreld se biodiversiteit wat onder meer deur indringerspesies, die omskepping van natuurlike omgewings, uitbuiting, klimaatsverandering en besoedeling bedreig word. Om hierdie rykdom van biodiversiteit in besonder teen indringerspesies te beskerm, moet hierdie lande 'n gefasiliteerde netwerk van bestaande indringerbioloë en sosiale wetenskaplikes vorm wat regoor hul biome (groot ekologiese gemeenskappe wat deur hul kenmerkende assosiasie van plante en diere gekenmerk word) spesialiseer," sê die hoofskrywer, Prof John Measey van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy sê hoewel ontwikkelde lande beleidsrigtings skep om die verspreiding en vloei van indringerspesies te verminder en bestaande indringers te beheer of uit te roei, het die meeste ontwikkelende lande 'n gebrek aan hulpbronne om enigeen van hierdie aspekte sonder hulp aan te spreek.

In 'n poging om dit aan te spreek, het Measey en sy kollegas met 'n model vir 'n 'gefasiliteerde' netwerk vorendag gekom. Hulle het ook voorstelle aan die hand gedoen oor hoe BRICS-lande dit kan toepas ten einde die volgende stel doelwitte van die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (KBD) teen 2030 te bereik.

“Die implementering van 'n proaktiewe 'gefasiliteerde netwerk-model' is dringend nodig om kapasiteit te skep en om doeltreffende, paslike indringerwetenskap te stimuleer. Gelykstaande aan die vereiste vir vinnige optrede op navorsing oor ontluikende indringerspesies, is die behoefte vir die aansienlike verhoging in kapasiteit om huidige en toekomstige indringers in BRICS-lande vas te vat."

Measey sê hoewel die aanwending van hulpbronne op 'n enkele plek die standaardbenadering is om instellings te bou, sal 'n gefasiliteerde netwerk-benadering BRICS-lande in staat stel om doeltreffend op indringerbedreigings te reageer en om toekomstige kapasiteit te bou en te handhaaf.

“Kapasiteit wat deur die netwerke gebou word, kan vinnig in die regerings- en nieregeringsorganisasie-sektore opgeneem word, en dit sal die kontinuïteit van indringerbioloë in akademiese poste verseker. Wanneer hierdie netwerke eers gevestig is, kan hulle kruisnetwerkskakels vorm – deur op die reaksie van die wêreldwye netwerk op biologiese indringers te bou – om 'n positiewe uitwerking op die wêreldwye reaksie op indringerspesies in beide ontwikkelde en ontwikkelende lande te hê."

Measey wys daarop dat hierdie netwerk rondom 'n naaf-en-speek-model wentel wat uit bestaande uitnemendheid in biologiese navorsing oor indringers binne elke land put om vinnig kapasiteit te bou en samewerking te bewerkstellig.

“Die naaf (by die direkteur se instelling) beskik oor administratiewe personeel om die netwerk te fasiliteer en doen uitbetalings aan Kernspanlede (KSL's) wat reeds in diens is by hul tuisinstellings, en hul medenavorsers.

“Terwyl die naaf as 'n fisieke tuiste kan dien wat die netwerk verteenwoordig, sal die netwerke indringers in veelvoudige kontekste binne hierdie dikwels-unieke kulturele en biologiese situasies wat elders in die lande bestaan, ondersoek."

Measey voeg ook by dat 'n gefasiliteerde netwerk jaarlikse navorsingsvergaderings moontlik sal maak waar alle KSL's en studente by 'n konvensionele konferensie bymekaar kan kom.

“Indien kontekstuele navorsing propvol slaankrag by internasionale sessies wat verteenwoordigers van ander BRICS-lande insluit, aangebied kan word, kan dit geleentheid vir befondsing skep."

Hy vra dat sosiale wetenskaplikes by hierdie netwerk ingesluit word, en voeg by dat wanneer dit by die aanspreek van probleme soos indringerspesies kom, die ekonomie en sielkunde tradisioneel geïgnoreer word.

Measey sê dit is belangrik om 'n netwerk van toegewyde navorsers te hê omdat BRICS-lande indringerplante en dierespesies deel en ook groot gebiede met dieselfde biome het. Hy voeg by dat van die wêreld se spesies met die grootste impak ook uit hierdie lande kom.

“Hierdie gemeenskaplikhede tussen BRICS-lande vra vir ʼn onderlingverbinde gefasiliteerde netwerk om indringerspesies te hanteer."

Measey wys ook daarop dat BRICS-lande as ondertekenaars van die KBD besig is om hul reaksies op die KBD se Aichi Biodiversiteitdoelwit 9 voor te berei, wat die behoefte aan die erkenning van indringerspesies insluit, asook om teen 2020 die maniere waarop hulle versprei, te bepaal.

“Wanneer die Aichi-doelwitte bereik is, sal die KBD nuwe doelwitte rakende indringerspesies stel. Ten einde die nuwe doelwitte te bereik, sal die nasionale kapasiteit van indringerwetenskaplikes met kennis oor spesifieke biome binne elke BRICS-land uitgebou moet word.

“Om dit te bereik, sal meer verg as net die kortstondige internasionale samewerkende projekte wat voorheen voorgestaan is. Wat eerder nodig sal wees, is inlandse instellings wat werwing kan handhaaf en verder as die loopbane van individuele navorsers strek, sodat wetenskaplike kennis tot by regeringsinstellings en nieregeringsorganisasies se toegepaste bestuur uitgebrei kan word."

Measey is baie optimisties oor die impak wat 'n netwerk van navorsers in elk van die BRICS-lande kan hê, en sê hierdie netwerke kan betekenisvolle bydraes tot beleidvorming asook die bou van kapasiteit binne hulle land lewer en kan binne vyf jaar 'n positiewe uitwerking op hul streek, teen minimale kostes vir elke gasheerland, hê.

Hy meen 'n groter aantal navorsingsnetwerke wat hul aandag net aan indringerspesies wy sal uiteindelik tot almal se voordeel strek.

  • BRON: Measy, J, Visser V, Dgebuadze Y, Inderjit, Li B, Dechoum M. et al 2019. The world needs BRICS countries to build capacity in invasion science. PLoS Biology 17(9).

SLEG VIR MEDIANAVRAE

Prof John Measey

Sentrum vir Indringerbiologie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2385

E-pos: jmeasey@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za