Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-gemeenskap gemaan om saam 'inklusiewe akademiese kultuur te skep'
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 15/10/2019

​Herstel vertroue en bou 'n inklusiewe kultuur was die sleutelboodskap wat prof Tania Ajam, medeprofessor in Openbare Beleid, Ekonomie en Finansies by die Skool vir Publieke Leierskap, aan haar gehoor oorgedra het tydens 'n genderwerksessie wat onlangs by US gehou is.

Haar aanbieding, wat studente, personeel en akademici gelok het, is deur prof Pregala (Solosh) Pillay, visedekaan: sosiale impak en transformasie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, gereël.

“Die landskap vir hoër onderwys in Suid-Afrika, Afrika en oor die hele wêreld ondergaan 'n oorvloed veranderinge. Ons hoor elke dag van nuwe neigings, konsepte, uitdagings en innovasies. Hier aan die Universiteit Stellenbosch, soos by baie ander universiteite, word ons gekonfronteer met die uitdagings van regstelling, diversiteit, toegang, billikheid, gelykheid, geslagsverteenwoordiging, geslagsgeweld en baie ander sosiale en ekonomiese uitdagings.

“Die doel van hierdie praatjie is dan om ons personeel, studente, navorsers, die breë universiteitsgemeenskap en die eksterne omgewing die platform te bied vir besprekings oor hoe ons die ruimtes waarin ons ons bevind, kan verbeter, asook om ons verskille en uniekheid te vier," het Pillay in haar inleiding gesê.

Ajam, wat verlede maand deur President Cyril Ramaphosa as een van die 18 lede van sy nuwe Presidensiële Ekonomiese Adviesraad gekies is, het haar praatjie op haar navorsingsverslag getiteld “Epistemiese regstelling en toegang: medeskepping van 'n inklusiewe akademiese kultuur" baseer.

Dié verslag handel oor 'n kontroversiële joernaalartikel van 2019 deur US-navorsers oor kognitiewe funksionering by “Kleurling-"vroue (Nieuwoudt et al). Dit illustreer hoe rassedenke in die Suid-Afrikaanse akademiese omgewing voortduur, ondanks 'n groeiende wêreldwye wetenskaplike konsensus dat ras as 'n biologiese konstruksie geen wettigheid het nie.

Die verslag bou 'n duidelike argument dat dié artikel nie 'n ernstige voorkoms van epistemiese mislukking is nie, en nie net 'n produk van 'n bepaalde navorsingspan, navorsingsleiers, etiekkomitee of universiteit nie. Die tekortkominge in die portuurbeoordeling van die 'n internasionale joernaal dui op 'n meer deurdringende disfunksie in die wêreldwye akademiese kennisproduksiestelsel. Dit gaan voort om te sê dat hierdie uitdagings nie eie aan die US is nie; inteendeel, soortgelyke leitmotiewe speel hulself op akademiese kampusse regoor die land - en inderdaad die wêreld - af. Dit argumenteer dat die US egter sy rol in die epistemiese korrupsie van die apartheidsera (voorafgegaan deur eeue van kolonialisme) moet konfronteer, en hom tot epistemiese regstelling moet verbind deur die herstel van die institusionele tekortkominge wat aanleiding gegee het tot die Nieuwoudt et al artikel.

Ajam verwys na 'n aantal kwessies ter motivering waarom hierdie gesprek so belangrik is.

Dit sluit die #RhodesMustFall- en #FeesMust Fall-studenteproteste in wat, volgens haar, basies oproepe was om kurrikulums te dekoloniseer.

“Die studente se persepsie is dat die huidige kurrikulum buite konteks is en ver verwyderd van hul ervarings. Die kern daarvan is 'n erkenning dat die demografie van studente moontlik verander het, maar dat die profiele van fakulteite, kurrikula en akademiese kultuur nie soveel verander het nie."

Ander kwessies sluit in hindernisse vir epistemiese toegang, soos die swak gehalte van die basiese onderwysstelsel wat swart studente nie behoorlik voorberei om die akademiese domein te betree nie, onderrigtaal, institusionele kultuur en epistemiese ongeregtigheid (verdraaiings in die kennisproduksie-masjinerie in sekere dissiplines wat stereotipes skep en voortsit).

Sy het gesê om epistemiese regstelling te bevorder, moet ons erkenning gee aan wat in die verlede gebeur het en 'n kultuur skep wat meer inklusief is en wat epistemiese vertroue sal opbou.

“Daar is sekere stappe wat ons as individue kan neem om epistemiese diversiteit en vertroue te kweek, soos om na nuwe kennisskanale te kyk, leeslyste te diversifiseer, kwalitatiewe navorsing, digitale storievertelling en stereotipes uit te daag. Baie individuele akademici en sommige departemente en skole het al met hierdie reis begin.

“Maar die groot vraag vir ons – en inderdaad almal aan die Universiteit Stellenbosch – is watter praktiese stappe ons kan neem om epistemiese regstelling en 'n inklusiewe akademiese kultuur aan die Universiteit Stellenbosch te bevorder?" het Ajam ter afsluiting gesê.

  • Foto: Organiseerder van die genderwerksessie, prof Pregala (Solosh) Pillay, visedekaan: sosiale impak en transformasie, by aanbieder prof Tania Ajam, medeprofessor in Openbare Beleid, Ekonomie en Finansies aan die Skool vir Publieke Leierskap.​