Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Swartz ontvang ASSAf medalje vir wetenskap in diens van die samelewing
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 11/10/2019

Oor die afgelope dekade het die studie van gestremdheid as 'n akademiese dissipline in Afrika, veral Suid-Afrika, geweldig uitgebrei, onder meer weens die toewyding van prof Leslie Swartz, 'n uitgelese Professor in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) .

Woensdagaand is Swartz, wat beskou word as een van die mees produktiewe en invloedryke wetenskaplikes in die veld, deur die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf) erken vir sy toewyding tot die ontwikkeling van gestremdheid-studies toe hy die gesogte Science-for-Society goue medalje vir 2019 ontvang het. Volgens ASSAf is die medalje aan Swartz toegeken vir “uitnemendheid in die toepassing van uitstaande wetenskaplike  denke in diens van die samelewing".

Swartz is die enigste akademikus in Suid-Afrika wat vanjaar die medalje ontvang het. Die medalje is toegeken aan Swartz deur prof Jonathan Jansen, president van ASSAf, by die ASSAf Toekenning-seremonie wat Woensdagaand by die Capital Hotel-Menlyn Main in Pretoria gehou is.

Vir Swartz was dit altyd vanselfsprekend dat gestremdheid-studies, 'n interdissiplinêre veld wat handel oor hoe en waarom ongelykheid in gestremdheid plaasvind en voortduur in die wêreld, een van sy navorsing-fokusareas sou wees. Die eerste leidraad was in die vorm van sy 2010 biografie, Able-Bodied: Scenes from a curious life, wat die verhaal vertel van sy gestremde pa, maar wat ook gestremdheid uit 'n akademiese perspektief ondersoek.

Swart het nie net gekonsentreer op die ontwikkeling van gestremdheid-studies nie, maar het meer as 250 artikels gepubliseer in 'n reeks internasionale vaktydskrifte soos die Journal of Applied Research in Intellectual Disabilities, Psychoanalysis, Culture & Society, and PLoS One. Hy het ook gedien as die stigter-hoofredakteur van die African Journal of Disability tot 2018 en is die mede-redakteur van die internasionale vaktydskrifte Transcultural Psychiatry en International Journal of Disability, Development and Education. Onder sy leierskap het die African Journal of Disability 'n PubMed en SCOPUS geïndekseerde vaktydskrif geword wat nou 'n sleutel-speler is in die internasionale veld van gestremdheid-studies.

Hy is 'n Kernlid van die African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), onder leiding van prof Gubela Mji, die Hoof van die Sentrum vir Rehabilitasie-studies in die Fakulteit Medisyne en Gesondheidwetenskappe. AfriNEAD verbind akademici in gestremdheid-studies oor Afrika en werk ook met hul eweknieë in ekonomies ontwikkelde lande soos Noorweë, die Britse Koninkryk en Kanada. Hy is 'n internasionale adviseur van die Institute for Culture and Society aan die Western Sydney Universiteit. Hy is ook op die Internasionale Adviserende Raad van die Movement for Global Mental Health, “'n virtuele netwerk van individue en organisasies wat daarop fokus om dienste te lewer aan mense wat leef met geestesgesondheidprobleme en psigososiale gestremdhede in lae en middel-inkomste lande wêreldwyd".

Swartz het al baie toekennings ontvang, waaronder die Universiteit Stellenbosch Kanselierstoekenning, en die Stals Prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir bydraes tot sielkunde. Oor die jare was hy die studieleier van meer as 40 doktorale kandidate, baie van hulle gestremd, swart of vroulike kandidate. Onlangs het Swartz se deurlopende projek om gestremdheidkwessies deel van die hoofstroom in die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te maak daartoe gelei dat hy befondsing ontvang het van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) vir 'n reeks openbare geleenthede rondom gestremdheid en burgerskap in Suid-Afrika, wat uitgeloop het op die boek, die Palgrave Handbook of Disability and Citizenship in the Global South, waarvan hy mede-redakteur was. Ander boeke waarvan hy mede-redakteur was sluit in Disability and social change: A South African agenda (2006), Searching for dignity: Conversations on human dignity, theology and disability (2013), en Transformation through occupation (2004), wat beskou word as invloedryk in die ontwikkeling van 'n sosiale geregtigheid- en openbare gesondheidbenadering tot arbeidsterapie in Suid-Afrika en wêreldwyd.

“Prof Swartz het 'n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die veld van gestremdheid-studies in Suid-Afrika, maar was toegewy in sy poging om die navorsing-kapasiteit te ontwikkel van mense wat voorheen uitgesluit was uit die akademiese veld en om die beginsels van wetenskaplike betrokkenheid toeganklik te maak vir die breër gemeenskap. Om hierdie rede is hy gesog as 'n akademiese mentor en dra hy gereeld by tot die opleiding van meer junior navorsers aan 'n reeks Suid-Afrikaanse universiteite. Sy werk word ook gereeld voorgeskryf in akademiese kursusse in Suid-Afrika in sielkunde en ander dissiplines," sê dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan US.

Sy het hom geloof vir die sentrale rol wat hy gespeel het in die diversifisering van die akademie en as 'n aktivis “wat wetenskaplike gemeenskapsbetrokkenheid en -skakeling ernstig opneem". Di​t het daartoe gelei dat Swartz in 2018 en 2019 saam met die Cape Town Holocaust Centre gewerk het. Hy het 'n reeks van twee seminare oor gestremdheid en menseregte aangebied as deel van die reisende uitstalling, Deadly Medicine: Creating the Master Race, wat saamgestel is deur die Holocaust Memorial Museum in die VSA en aangebied is deur die Holocaust and Genocide Foundation in Suid-Afrika. Die uitstalling het gefokus op die misbruik van en moord van gestremdes tydens die Holocaust en die skakel tussen hierdie praktyke, eugenetika in Suid-Afrika, en hedendaagse kwessies.

Swartz het ook teruggegee aan gemeenskappe in nood deur gratis konsultasiedienste te bied aan individue wat terapie benodig en lei tans die eerste studie oor die voorkoms van geestelike gesondheidskwessies onder Dowe kinders op die Afrika-kontinent.

Tydens die seremonie het Swartz gesê: “Ek is baie dankbaar vir hierdie toekenning, en ek is diep geëerd. Ek sou nie hierdie toekenning ontvang het as dit nie was vir die hulp en ondersteuning van my gesin, my studente en kollegas en die vele mense wat die geduld en vrygewigheid gehad het om my in hul lewens toe te laat as deel van my navorsing en akademiese werk." 

“Die Universiteit Stellenbosch is 'n baie ondersteunende omgewing vir my, en ek is veral dankbaar vir jare se geduldige bystand van die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling, die Universiteitsbiblioteek, en vele ander."

Swart het bygevoeg dat hy akuut bewus is van hoe bevoorreg hy was om te kon werk met en langs gestremde persone in Suid-Afrika en verder in Afrika om sy navorsing in gestremdheid-studies te vorm en uit te brei.

“Hulle het goeie rede gehad om my as wit, manlike nie-gestremde Suid-Afrikaner  te wantrou, tog het hulle my die voordeel van hul baie geregverdigde twyfel gegee, en my toegelaat om met hulle te werk. Indien hierdie toekenning oor enigiets gaan, gaan dit oor die geleenthede wat ons almal het om by te dra tot 'n meer inklusiewe wêreld vir almal."

“Ek wil alle navorsers, afgesien van hulle dissipline, aanmoedig om te dink hoe hul werk mense kan insluit wat liggaamlik en geestelik nie die norm is nie, maar wat net so waardevol is as ander. Ons kan nie diversifiseer of ons universiteite dekoloniseer sonder om ons werk toeganklik vir almal te maak nie – en dit sluit in mense met gestremdhede van alle soorte."

Swartz het bygevoeg: “Diversiteit, wat insluit gestremdheid-deelname op alle vlakke, en akkommodering van verskille, sal ons wêreld meer leefbaar maak vir ons almal, soos die gestremdheidstudies-akademikus Rosemarie Garland-Thomson dit gestel het."

Foto: Prof Leslie Swartz (middel) ontvang die gesogte Science-for-Society Goue Medalje vir 2019 van ASSAf by 'n toekenning-seremonie wat Woensdagaand in Pretoria gehou is. By hom is prof Jonathan Jansen (regs), President van ASSAf, en Prof Eugene Cloete, Vise-Rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan US. ​(Verskaf deur ASSAf)