Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente leer oor werksgeleenthede in die landbousektor by AgriCAREERConnect-dag
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 10/10/2019

Werksgeleenthede in die Suid-Afrikaanse landboubedryf is lustig bespreek tydens die AgriCAREERConnect-dag op Stellenbosch. Studente kon uitvra oor beroepe, vakansiewerk, beurse en internskappe wat beskikbaar is binne die vrugte-en groentebedrywe, die wyn- en dranksektor en vir diegene wat opgelei is in veekunde, besigheidsbestuur, grondkunde, logistiek, bosbou, plantsiektes, rekenaarwetenskap, voedselwetenskap en ingenieurswese. Studente kon ook uitvind oor die nuutste tegnologieë in hierdie sektore, en die niche-vaardighede waarna werknemers toenemend op soek is.

Die geleentheid is op Donderdag 2 Oktober 2019 aangebied deur die Fakulteit AgriWetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, in samewerking met AgriJob, 'n landwye werwingsagentskap wat fokus op die landbou- en voedselsektore. 'n Soortgelyke dag is ook in September vir studente van die Universiteit van Pretoria aangebied.

Benewens 18 uitstallers uit die groter bedryf is daar regdeur die dag ook 21 praatjies aangebied deur mense wat tans hul plek volstaan in die landbousektor. Die sprekers het vertel oor hul studie- en beroepspad, en waarom hulle dit geniet om in hul spesifieke bedrywe te werk. Onder die sprekers was 'n wynmaker, 'n bemarkingskonsultant, 'n bosbouer, iemand wat die voedselbedryf oudit, 'n logistieke koördineerder, 'n voedingskundige in die veebedryf, 'n saadontwikkelaar en die eienaar van 'n firma wat danksy hommeltuie vir boere data oor hul boorde en landerye insamel. 

“Ons wil sien hoe die bedryf 'n pad met studente stap, en reeds gedurende hul studies sal help met vakansiewerk en beurse. Dit gee die bedryf kans om nuwe bloed vir die landbousektor te ontwikkel, én ook 'n oog te kan oophou vir voornemende werknemers vir wie hulle self eendag in hul onderneming sal wil aanstel," verduidelik Marianne van der Laarse van AgriJob.

Die AgriCAREERConnect-dag is 'n uitvloeisel van die US Fakulteit AgriWetenskappe se visie dat daar nouer skakeling moet wees tussen studente in landbou- en voedselverwante velde en die bedryf self. Daarom het die Fakulteit verlede jaar die ontwikkeling van die konsep agter die AgriJob.co.za webwerf met fondse ondersteun.

Op die AgriJob-webwerf www.agrijob.co.za kan die bedryf teen 'n billike koste loopbaangeleenthede, beurse en vakansiewerk adverteer, en ook 'n werwingsdiens verkry. Studente kan op hul beurt weer hul CV's  registreer en uitkyk vir geleenthede wat hulle pas.

“Die platform skep geleenthede vir die bedryf om hul poste te adverteer, en vir studente en gegradueerdes om te sien watter geleenthede beskikbaar is. Op hierdie manier sorg ons dat die kundigheid wat deur universiteite gelewer word, ten beste deur die landbousektor gebruik kan word," reken Monika Basson, wat betrokke is by studentwerwing vir die US Fakulteit AgriWetenskappe.

Die dag is afgesluit met 'n praatjie deur dr Johan van Zyl, mede-hoofuitvoerende bestuurder van onder meer African Rainbow Capital wat in die landbousektor belê. Hy het benadruk dat die mensdom nie kan vooruitgaan sonder die produkte wat die landbousektor verskaf nie. Hy het gesê dat bedrywe toenemend slimmer moet werk met die grond tot hul beskikking, sodat genoeg voedsel vir die wêreld se groeiende bevolking verskaf kan word.

“Die landbousektor is een van die vyf belangrikste industrieë wat uiteindelik sal bepaal wat ons as 'n mensdom nog sal kan regkry. Ja, daar is geleenthede om geld te maak, maar ook om goed te doen in die proses en die mensdom te help," het hy benadruk. “Die lekker ding van die landbousektor is dat jy die regte ding kan doen, en dit reg doen."

Hy het gesê dat mense wat in die landbousektor werksaam is, dikwels oor belangrike praktiese probleemoplossingsvaardighede beskik wat 'n bate vir enige onderneming is.

  • Die maatskappye en organisasies wat deel was van die dag op Stellenbosch was: Shoprite Checkers Freshmark, die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), Corteva AgriScience, Villa Crop Protection, Citrus Academy, Hortgro, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie, die Varsprodukte Uitvoerdersforum, Westfalia Fruit, York Timbers, PACSys, ANB Investments, Afrupro, RSA Market Agents, PMA (Produce Marketing Association) se sentrum vir die ontwikkeling van nuwe talent, Distell, SGS, NSF, AgriConnect, die Rooivleisprodusentevereniging en die Melkprodusentevereniging.
  • Vir meer inligting, besoek- www.agrijob.co.za of kontak info@agrijob.co.za.