Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verskeie faktore lei tot kindermoorde in Wes-Kaap
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/09/2019

Meer kinders word in die Wes-Kaap as in enige ander provinsie in Suid-Afrika vermoor. Volgens polisiestatistieke is daar in 2017 en 2018 alleen 279 kinders in die provinsie vermoor.

“Een van die redes vir die hoë kindermoordsyfer in die Wes-Kaap is omdat bestaande navorsing en beproefde ingrypings nie gebruik word soos hulle veronderstel is om gebruik te word nie ten einde beleide en strategieë vir die voorkoming van en in antwoord op geweld te implementeer wat sal help om 'n einde aan kindermoorde te maak," sê dr Chris Jones, verbonde aan die Eenheid vir Morele Leierskap by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Jones was lid van 'n navorsingskomitee bestaande uit akademici van die US en die Universiteite van Kaapstad en Wes-Kaapland wat onder meer die hoofoorsake van kindermoorde in die provinsie ondersoek het, asook leemtes in bestaande regeringsdienste en wat die potensiële waarde van die instelling van 'n kommissie van ondersoek of soortgelyke meganisme sal wees. Die komitee is op die been gebring nadat die Kaapstadse Traumasentrum vir Slagoffers van Geweld en Marteling die Wes-Kaapse regering genader het om die vlaag van kindermoorde die afgelope paar jaar, veral in 2017 en 2018, te ondersoek. Robert Macdonald was die navorsingskoördineerder namens die Wes-Kaapse regering, wat al die komitee se aanbevelings aanvaar het.

In 'n onlangse artikel in die vaktydskrif HTS Theological Studies bespreek Jones die komitee se bevindinge aanbevelings. Hy sê die doel is om goednagevorste inligting aan rolspelers en besluitnemers oor kinders se lewens te verskaf ten einde die geweld en die gevolge daarvan waaraan so baie kinders (en vroue) blootgestel word, aan te spreek.

Wanneer 'n mens na moorde op kinders jonger as een jaar en dié tussen 1 en 9 jaar en tussen 10 en 17 jaar kyk, het die komitee volgens Jones gevind dat die meerderheid van die moorde in die eerste kategorie deur ma's gepleeg is deur hul babas weg te gooi of deur hul kinders noodlottig te beseer.

“Die belangrikste bydraende faktore tot moorde in hierdie ouderdomsgroep het te make met die ma se geestesgesondheid, byvoorbeeld nageboortedepressie; swak of gebrekkige ouervaardighede, veral by baie jong ma's; en 'n gebrek aan materiële en emosionele ondersteuning vir nuwe ma's van pa's, families, die gemeenskap en die staat."

Jones wys ook daarop dat sleutelfaktore wat bydra tot kindermoorde onder kinders tussen die ouderdomme van een en nege jaar wanfunksionele gesinne, asook 'n kultuur van geweld wat deur geestesgesondheidversteurings, dwelm- en alkoholgebruik, swak verhoudings en gebrekkige hanteringsvaardighede in gesinne en kringlope van mishandeling insluit.

“Die meeste van hierdie bydraende faktore is ook op kindermoorde op kinders tussen 10 en 17 jaar van toepassing, maar die volgende is ook beduidend: die kind se eie risiko-optrede en geestesgesondheid – byvoorbeeld deelname aan bendes, misdaad, misbruik van verslawende middels en skoolverlating."

Volgens Jones is die belangrikste aanbeveling deur die komitee die samestelling van 'n provinsiale aksieplan om gapings aan te spreek en die voorgestelde aksies vir elkeen van hierdie drie vernaamste ouderdomskategorieë.

“'n Plan met geografiese inligting om hierdie gevaarpunte uit te wys en sleutelagentskappe moet op plaaslike vlak versterk word. Internasionaal-aanvaarde maatreëls om geweld teen kinders te voorkom moet ook ondersoek word om te sien wat vir Suid-Afrika aangepas kan word."

Hy voeg ook by dat daar 'n behoefte aan toegewyde bende-eenhede of soortgelyke meganismes bestaan om bendebedrywighede te bekamp.

Hy sê die komitee het die belangrike rol wat die Departemente van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, kinderbeskermingdienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Nasionale Vervolgingsgesag en skole in die bekamping van kindermoorde speel, beklemtoon.

“Beleidsmakers en ander besluitnemers moet hul mag gebruik om die ongelukkige en onveilige toestande waarin baie kinders hulself bevind, te verander."

Wat 'n kommissie van ondersoek na kindermoorde in die provinsie betref, sê Jones die navorsingskomitee het bevind dat daar geen behoefte daarvoor is nie.

“Omdat so 'n kommissie nie bindend is nie, loop ons die risiko van 'n lang en duur proses wat moontlik geen vrugte gaan dra nie en dit kan self die verskillende rolspelers verdeel en 'n wig tussen hulle indryf, veral tussen die Provinsie en die geregtelike agentskappe.

“Hoewel kriminele regskwessies volgens die navorsingskomitee 'n kommissie van ondersoek kan regverdig, is ander tekortkominge in die regering egter binne die bestuursbevoegdheid van die Provinsie en kan dit dus aangespreek word sonder dat 'n verdere geregtelike hefboom nodig is."

Jones sê 'n belangrike aspek wat verder nagevors en ontwikkel kan word, is “die skakel tussen onderpresterende skole en sosio-ekonomiese wanfunksie en hoe dit kinders en hul veiligheid en welstand beïnvloed".

  • Verwysing: Jones, C., 2019, “Child killings in the Western Cape", HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 75(1)

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Chris Jones

Eenheid vir Morele Leierskap

Fakulteit Teologie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 9224

​E-pos: chrisjones@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za